ʼn Man is vroeg Saterdagoggend in Durban, KwaZulu-Natal oorlede toe hy met sy Audi ʼn petroltenkwa reg van voor getref het.
“Paramedici het kort na 03:00 by die toneel op die M7 naby die Hansdettman-snelweg opgedaag,” het Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, in ʼn verklaring gesê. “Die man is op slag dood.”
Die petroltenkwa het tydens die impak aan die brand geslaan. Die bestuurder is nie beseer nie. Verskeie brand- en reddingsdienste het reageer.
Volgens ooggetuies het die Audi oor die middelmannetjie gery en in die aankomende verkeer se baan beland. Die tenkwa het die motor glo ʼn paar meter ver gesleep voor dit tot stilstand gekom het.
Plaaslike owerhede stel ondersoek in.
Motoriste word aangeraai om die gebied te vermy.