Petrusburg-plaasaanval: Bejaarde vrou se heup gebreek

Janetta du Toit (Foto: Verskaf)

Janetta du Toit (82) se heup is gebreek gedurende die onlangse plaasaanval op haar en haar seun Wimpie (54) naby Petrusburg in die Vrystaat. Albei is Vrydagaand erg aangerand voordat die verdagtes op die vlug geslaan het.

Frans du Toit, seun en broer van die slagoffers, het Sondag aan Maroela Media gesê Janetta en Wimpie het onder meer beserings aan hul gesigte gedurende die aanval opgedoen waarvoor albei in ’n Bloemfonteinse hospitaal behandel is.

Volgens Frans is Wimpie intussen uit die hospitaal ontslaan. Hy sterk tans aan by familie en is baie getraumatiseerd. Janetta is in dié stadium steeds in die hospitaal en sal na verwagting ’n operasie aan haar neus en heup moet ondergaan, het hy verduidelik.

Maroela Media het vroeër berig ma en seun was in die huis op die plaas Lovedale toe die krag omstreeks 19:00 afgegaan het.

Volgens Frans het die verdagtes vermoedelik van die drade buite geknip en die elektrisiteit deels buite werking gestel. Wimpie het opgemerk dat die huis se ligte af is hoewel die televisie steeds gespeel het en hy is toe na buite om ondersoek in te stel.

Drie onbekende verdagtes het Wimpie hiér oorval en met twee ysterstawe bygedam. “Gelukkig het hy ’n dik baadjie aangehad wat die houe gekeer het,” verduidelik Frans nou.

Volgens Frans was daar eers ’n struweling buite waarna die verdagtes sy broer na binne die huis gesleep het. “Daar het hulle hom onderstebo gestamp en hy het met sy kop teen ’n sinktrommel geval,” verduidelik hy.

Janetta du Toit by haar kinders. Van links: Frans, Lou, Wimpie en Jeanine. (Foto: Verskaf)

Frans vertel verder dat sy ma probeer het om die verdagtes van haar seun af te trek waarna sy ook geslaan is. Ma en seun is toe vasgebind voordat die verdagtes die huis geplunder en met selfone en ’n vuurwapen op die vlug geslaan het.

Wimpie kon daarin slaag om sy voete los te wikkel en tot by sy ma te loop waar die twee mekaar losgemaak het. Janetta het toe die paniekknoppie in ’n slaapkamer in die huis gedruk.

Nog ’n seun van Janetta het haar gebel en sy het die telefoon geantwoord hoewel sy net geluide gemaak het, verduidelik Frans.

Frans was in dié stadium reeds op pad na die plaashuis waar hy sy ma kort daarna in die sitkamer aangetref het. Hy het Wimpie in die gang hoor geluide maak.

“Dit het onwerklik gevoel. Dit is asof jy vir jouself sê dit kan nie wees nie,” verduidelik Frans oor die oomblik dat hy sy verminkte geliefdes aangetref het.

Hy vertel dat daar onlangs by hom ook ingebreek is hoewel hy wakker geword het van die honde wat blaf. Die verdagtes het laat spaander en Frans het eers die volgende oggend besef dat ’n deur na buite se slot gebreek is. “Ek vermoed dit is dieselfde verdagtes,” sê hy.

Frans doen ’n beroep op boere om hul vuurwapens toe te sluit en geen kontant by hulle te hou nie. “Dat [boere] ’n teiken is, is gewis,” erken hy.

Kol. Thandi Mbambo, polisiewoordvoerder van die Vrystaat, het vanoggend gesê niemand is nog in verband met die aanval op Janetta en Wimpie in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
marius

Stem saam . Sluit die wapens toe maar stel 100 slagysters om jou huis , dan gaan haal jy die wapen …

Miskruier

White farmers lifes matter too!

AmY

Ek hoop werklik die tannie se liggaam gaan die skok oorleef.
Maar dit sal seker seker steeds net ‘n klag van diefstal wees.

Andre

#WhiteLivesMatter

jinny jualinda

Lafhartige misdadigers