Petrusburg-plaasaanval: ‘Ek het net heeltyd aan my seun gedink’

Janetta du Toit en haar kinders Jeanine (heel regs), Wimpie, Loutjie en Frans (links) (Foto: Verskaf)

Waarskuwing: Die foto’s in die berig is grafies van aard en kan sensitiewe lesers ontstel.

“Party dae gaan dit beter as ander, maar die Here het ons tot nou beskerm.”

Só vertel die 82-jarige Janetta du Toit nadat sy en haar seun, Wimpie (54), Vrydagaand erg aangerand is op hul plaas Lovedale, digby Petrusburg in die Vrystaat.

Janetta sterk steeds aan in die hospitaal in Bloemfontein en Wimpie is reeds ontslaan. Janetta hoef geen operasies te ondergaan nie, en sal ook eersdaags ontslaan word. Ma en seun het onder meer beserings aan hul gesigte gedurende die aanval opgedoen.

“Een oomblik voel ek goed, en die volgende oomblik weer lighoofdig. Maar ek weet dinge gaan weer beter word.” Janetta sê die aand van die aanval was haar gedagtes heeltyd by haar seun en dat hy nie iets moet oorkom nie. “Ek was heeltyd bekommerd oor Wimpie. Hulle kon als steel, maar hulle moes net ons lewe spaar.”

Janetta sê die verpleegpersoneel in die hospitaal behandel haar asof sy hul ouma is. “Die verpleegsters het my hande vasgehou en gesê hulle is jammer dat hierdie slegte ding my moes oorkom.”

Janetta du Toit kan al self loop (Foto: Skermgreep)

Volgens Janet Krüger, Janetta se kleindogter, gaan dit al baie beter met haar ouma en oom Wimpie. “Hulle het traumaberading in die hospitaal ontvang en dit gaan fisiek en emosioneel beter met hulle. My ouma loop al self en die wonde begin genees,” vertel Krüger.

Janetta en Wimpie was Vrydag omstreeks 19:00 besig om televisie te kyk toe die krag skielik afgegaan het. Die verdagtes het vermoedelik van die drade buite geknip en die elektrisiteit deels buite werking gestel. Wimpie het opgemerk dat die huis se ligte af is hoewel die televisie steeds gespeel het en hy is toe na buite om ondersoek in te stel.

Drie onbekende verdagtes het Wimpie hiér oorval en met twee ysterstawe bygedam. Daar was eers ’n struweling buite waarna die verdagtes hom na binne die huis gesleep het. Daar het hulle hom onderstebo gestamp en hy het met sy kop teen ’n sinktrommel geval. Ma en seun is vasgebind voordat die verdagtes die huis geplunder en met ’n vuurwapen op die vlug geslaan het.

Janetta het Krüger en haar man, Mike, die aand van die aanval gebel. Hulle het dadelik uitgery na die plaas om te help. “My ouma se oë was toegeswel. Sy kon haar darem loswikkel en kruip om die noodknoppie te druk. Sy het haar ander seun gebel. Toe bel sy vir my. Dit is net die Here se genade dat sy dit kon regkry. Toe sy my bel, het sy net gesê: ‘Hier was ’n aanval en my neus bloei’,” vertel Krüger.

Die Krüger-egpaar was binne tien minute by Lovedale. “Ek het my gereedgemaak vir ’n neusbloei. Maar toe ek in die huis inloop, het ek my ouma bebloed in die sitkamer aangetref. Dadelik het instink ingeskop en ek het geweet ek kan nie nou emosioneel raak nie. Ons het ingespring en gehelp waar ons kan. Ek het my ouma se gesig en hande begin skoonmaak en ys op haar geswelde gesig gesit.”

Krüger sê boere van oral het die aand daar opgedaag om te help nadat inligting oor die voorval soos ’n veldbrand op sosiale media begin versprei het. “Ons het sulke ongelooflike ondersteuning van familie, vriende en die plaaslike boeregemeenskap ontvang. Ons is dankbaar dat my ouma en oom Wimpie vir ons gespaar is,” vertel Krüger.

Kol. Thandi Mbambo, polisiewoordvoerder van die Vrystaat, het Maandag aan Maroela Media bevestig niemand is nog in verband met die aanval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Pieter ·

Weet mens lees en probeer insien hoe jy Suid Afrika kan verbeter, maar dit maak jou haat. As daar net weg gemaak kan word van die politieke aanhitsers – Op n manier soos ek dink sou dit werk, maar is in my gedagte.

Althes ·

Dis mense met geen gewete wat dit aan ouer en weerlose mense doen!
Wys dit vir die wêreld sodat almal se oë kan oopgaan!
#SAFARMERS LIVES MATTER!!!

Daniel ·

Walglike, lafhartige dade gepleeg deur monsters!
Kies sagte teikens, laat mens dink aan hiënas wat van agter kom en aanval.

Michael 1 ·

Hoe vergelyk dit met die George floyd geval en hoekom is in die oorgrote meerderheid aanvallers swart vrae wat gevra moet word en andwoorde wat geëis moet word en net die media kan dit doen.

Pieter ·

En al wat ons doen is kla dit gaan ons niks help nie. Dit is van al die gekla en praat dat ons sit waar ons sit. Ons moet standpunt in neem almal van ons.

Piet parys ·

En is die aanvallers nog op vryevoet. . ? Sterkte vir die Tannie en haar seun mag hulle spoedig herstel van die klomp aanvallers wat geen lewensreg het op die aarde nie

Snowball ·

Dan is daar nog sekeres wat mede Afrikaners wil oproep om verdrae te sluit met hierdie regering. ‘n Regering wat hierdie misdade ontken en ontketen en die skuld op boere wil pak. Hulle moet hierdie foto’s bekyk en hulleself afvra: “Wat as my geliefdes so vermink word?”

Kanjynoumeer ·

Dit is lankal tyd dat sulke grafiese foto’s in die media verskyn om mense regop te sit en kennis te laat neem van plaasaanvalle en moorde in Suid-Afrika.
Dit moet ook televisie dekking geniet en ook soos grafiese gebeure gesê word nie vir sensitiewe kykers nie. Dankie vir julle insette Maroela Media.

Jerry ·

Tyd vir massa optog, blok die hoofroetes af stop die betaal van belasting sonder geld is die regering magteloos- ons moet begin opstaan

Okmardom ·

BLM?? Dwing jou om respek tetoon , maar geen idee om dit self vir ander te toon nie.

Grassie ·

MM – in ‘n vorige berig sê julle dat die dame se heup gebreek het, maar nou loop sy darem al. Wat is die regte feite?

Megan Swart ·

Dagsê Grassie
Ons vra om verskoning vir die verwarring. Die familie was aanvanklik ná die aanval onder die indruk dat mev. Du Toit haar heup gebreek het, en het die inligting ook só aan ons deurgegee. ‘n Verdere mediese ondersoek het egter bevind dat sy nie enige operasies hoef te ondergaan nie. Ons vra om verskoning vir die verwarring.
Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Grassie ·

Dankie vir die antwoord MM. Ek is bly dat haar heup nog heel is – vir bejaardes is dit een van die ergste dinge wat met jou kan gebeur. Ek wens vir die tannie en haar seun ‘n spoedige herstel toe en bid dat die Groot Skepper daar Bo Sy genesende en beskermende hand oor hulle sal hou.

Chantel ·

Sterkte aan die julle. Die is so bitter hartseer, maar ek dink die media moet meer van hierdie geweld publiseer, Hoe meer van dit daar in die kuber ruimte is hoe minder kan dit weg gesteek word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.