Peuter by hospitaal afgelaai: Man vas vir moord

Die Livingstone-hospitaal in Port Elizabeth. Foto: Skermskoot/Google Maps

ʼn Vyf-en-twintigjarige man is op aanklag van moord in hegtenis geneem nadat ʼn tweejarige seuntjie vroeër die week by die Livingstone-hospitaal in Port Elizabeth afgelaai is en kort daarna gesterf het.

Die seuntjie is op 6 Augustus deur ʼn onbekende man by die hospitaal afgelaai. Die man het aangevoer dat die kind van ’n bed geval het en dringend mediese behandeling nodig het.

Die seuntjie het kort daarna aan sy beserings beswyk terwyl dokters besig was om hom te behandel. Toe mediese personeel die man van die kind se dood in kennis wou stel, het die man egter laat spaander.

Kapt. Sandra Janse van Rensburg, woordvoerder van die polisie, het gesê die 25-jarige man is Donderdag in hegtenis geneem in verband met die dood van die seuntjie en die beweerde verkragting van die seuntjie se ma.

Volgens Janse van Rensburg is die man die ma se kêrel. Die polisie het inligting opgevolg en is Donderdag na Gelvandale waar hulle die ma en haar kêrel in ʼn straat aangetref het.

“Beamptes het gesien die vrou huil en het hulle ondervra. Die vrou het gesê sy is op pad na die Livingstone-hospitaal om navraag oor haar seuntjie  te doen.”

Tydens ondervraging deur die polisie het die ma gesê haar kêrel het haar gegryp terwyl sy na die hospitaal onderweg was en in bosse langs die pad verkrag.

“Die kêrel het ook teenstrydige weergawes aan die polisie gegee oor wat met die seuntjie gebeur het en hy is in hegtenis geneem.”

Die verdagte sal Maandag in die Port Elizabeth-landdroshof verskyn op aanklag van moord en verkragting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Rina ·

Wat n stuk gemors ….. arme kindjie. Asb vroue julle kinders kom eerste. Hoekom neng met sulke goed

Mel ·

Nog ‘n onskuldige kind…dis so bitter onregverdig. Hoop hy vrot in die tronk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.