Peuter doof ná kogleêre inplanting gesteel is

Leah Roodt. Foto: Facebook

ʼn Dogtertjie van Athlone in Kaapstad is heeltemal doof gelaat nadat die buitenste gedeelte van haar kogleêre inplanting gesteel is.

Leah Roodt, wat in Julie twee jaar oud word, is doof in albei ore nadat sy net ʼn paar weke ná geboorte met aangebore rubella- sindroom gediagnoseer is. Die siekte het nie net Leah se gehoor aangetas nie, maar ook haar oë en hart. Sy dra kontaklense om haar sig te verbeter.

Millicent Worship, Leah se ouma, het Woensdag aan Maroela Media vertel hulle was Donderdag saam met Leah in ʼn skoenwinkel in Bellville toe die inplanting gesteel is. “Die stukkie van die inplanting wat agter haar oor kom moes seker afgeglip en op die vloer geval het. Ons het nie besef dit het uitgeval nie en eers toe ons buite is, het my man gesien Leah se oorstukkie is weg,” het sy gesê.

Die buitenste gedeelte van Leah Roodt se kogleêre inplanting is gesteel. Foto: Facebook

“Ons het dadelik teruggegaan en gesoek en gesoek, maar kon dit glad nie vind nie. Die bestuurder van die winkel het ons gehelp om na die beeldmateriaal van die veiligheidskameras te kyk en daar het ons gesien hoe ʼn man die oorstukkie van die vloer af optel en by die winkel uitloop.” Worship sê die oorstukkie is heeltemal waardeloos vir iemand anders, maar vir Leah is dit haar enigste hoop om te kan hoor.

“Dit is baie frustrerend vir haar. Vandat die oorstukkie weg is, vat sy heeltyd aan haar oor en wys vir ons sy kan nie hoor nie.”

Volgens Worship sal dit tussen R130 000 en R150 000 kos om die oorstuk te vervang en die gesin kan dit nie bekostig nie. Leah het in Oktober verlede jaar die kogleêre inplanting aan haar regteroor gekry nadat sy gekies is as een van die begunstigdes van ʼn inisiatief wat gesamentlik deur KFM, Bidvest, Tygerberg-hospitaal en die Netcare-stigting gedoen is. Sy woon sedertdien sessies by die Carel du Toit-sentrum by waar sy geleer word om te praat.

Leah moet nog ʼn kogleêre inplanting aan haar linkeroor kry en Worship sê die familie is hard besig om hiervoor geld in te samel.

Intussen het die familie op ʼn Facebook-blad begin om bewusmaking te skep rondom Leah se gesteelde inplanting. “Ons hoop dat die man wat die oorstukkie gevat het dit dalk raaksien en dit net kan terugbring of dat daar iemand dalk daar buite is wat haar kan help,” het Worship gesê.

Vir meer inligting of om Leah se familie te kontak, besoek die Facebook-blad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johann ·

So ontstellend ou wil jou Christenskap wegbêre en net vloek tot ou nie meer asem het nie

Meegevoel ·

My kleindogter is ook doof. Sy is nou 20jaar oud. Sy wil so graag hoor, het nog nooit die vondse gehad om kogleere inplanting te kan doen nie. Dis al nadeel van dit as die boonste deel verloor. Ek hoop die persoon wat dit gevat het sal dit terug gee. Ek sien wat doofheid aan my kleindogter doen, sy begeer om te kan hoor… so sterkte vir julle.

Verregaande ·

Ek dink dis malligheid dat die mediese maatskappye mense so kan uitbuit. Ek sal graag wil sien wat die koste daarvan is om so ‘n gehoorstukkie te vervaardig. Dit is heeltemal onmoontlik dat dit so duur kan wees. Iemand ROL in die geld op ander se onkoste.

AJ ·

Is daar dalk ‘n beskrywing Nav die video materiaal van die man wat dit opgetel het?

Woedend ·

Net soos dit in ons land is, vat wat nie aan jou behoort nie. Ai wat n jammerte vir daardie kleinding. Hoop julle kry dit spoedig terug. Xxx

Helene Heyns ·

Die persoon wat dit geneem het weet tien teen een nie eers wat dit is nie. Hoop nie hy het dit weggegooi nie. Wat n groot verlies.

Hennie ·

Die berig se opskrif is bietjie misleidend. Die gehoorstuk het verloor en is opgetel. Kom ons hoop die persoon besorg dit terug as hy besef hoe waardevol dit is vir die kleinding.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.