Peuter herstel goed nadat hond haar byt

Desjuane Farmer. Foto: Verskaf

Desjuane Farmer. Foto: Verskaf

Desjuane Farmer, die 17-maande oue peuter van Alberton wat Woensdag deur ʼn hond aangeval is, het Sondag haar derde operasie ondergaan.

Mercia, Desjuane se ouma, het aan Maroela Media gesê die operasie het baie goed afgeloop en die verbande is al van Desjuane se gesig verwyder. “Die chirurge het [Sondag] eers ʼn plaat oor haar neusbrug ingesit waar die bene in haar gesig gebreek is. Daarna het die oogspesialiste van die skade aan haar ogies herstel,” het sy gesê.

“Ons weet nog nie presies hoe erg die skade aan haar oë is nie, maar tans herstel sy baie goed. Sy was gister ná die operasie baie rustig en word nie meer so sterk verdoof nie. Sy is só ʼn vegtertjie, dit is absoluut ongelooflik om te sien hoe sy al verbeter het. Ons het in hierdie laaste paar dae wonderwerke sien gebeur. Dit is alles net genade van Bo.”

Desjuane is steeds in die waakeenheid van die Netcare Clinton hospitaal nadat ʼn kettingboel (bull mastiff) haar Woensdag by haar ma, Hilda Sage, se werkgewer se huis gegryp het. Mercia het vroeër aan Maroela Media vertel dat Desjuane saam met haar ouers en ander gaste in die huis was, terwyl die hond buite in die erf was. Die hond het onverwags die huis se hek oopgestoot en Desjuane bestorm. Die dier is intussen van kant gemaak.

Desjuane Farmer in die hospitaal. Foto: Facebook via Desjuane Farmer Fund Trust

Desjuane Farmer in die hospitaal. Foto: Facebook via Desjuane Farmer Fund Trust

Volgens Mercia is die gesin hoegenaamd nie kwaad vir die eienaar van die hond nie en beskou hulle die voorval as ʼn ongeluk wat met enigiemand kon gebeur. “Die eienaar van die hond het self klein kindertjies en die hond het nog nooit voorheen iemand gebyt nie. Die hond was in elk geval buite die huis toegemaak en niemand kon voorsien dat hy die hek sou oopruk nie. Dit was ʼn ongeluk. Dit kon met my of met jou ook gebeur het. Dit was net ʼn ongeluk,” het sy gesê.

Sy het gesê hulle besef ook hoe moeilik dit vir die eienaar van die hond moes wees om haar troeteldier van kant te maak en daarom is daar geen kwade gevoelens tussen die twee partye nie.

“Ons fokus is 100% op Desjuane en haar herstel. Ons hou styf duimvas sy sal dalk voor Kersfees terug by die huis wees,” het sy gesê. “Ons kan nie genoeg dankie sê vir al die gebede, boodskappe en ondersteuning wat van oraloor instroom nie. Dit dra ons familie in hierdie tyd. As enige iemand vir my sê wonderwerke bestaan nie, sê ek vir hulle om net na my kleindogter te kyk. God is groot!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Vliegie ·

Wonderlik om te hoor dit gaan soveel beter met die kleine poplap!

Lucy ·

Prys die Here! Mag Sy hand van genesing oor die kindjie wees sodat sy spoedig herstel.

bernadeTte ·

Sys so pragtig. Sterkte poplap ,ons dink en bid vir jou. So bly dit gaan al beter .

Ludwig ·

Mooi! Ons hele gemeente het Sondagoggend vir haar gebid hier op Vanrhynsdorp

Thelma ·

Amen, ons God is ongelooflik groot!! N God van wonderwerke en liefde….

Inge ·

Fantastiese nuus! Ek is so bly sy sterk aan. Sterkte vir die familie, hoop sy kom voor Kersfees terug huis toe!

Gesiggie ·

Amen en Dankie…. so baie bly dat dit al beter met haar gaan”” Wonderwerkke is moontlik… vir die wat Glo”” Sy n regte Engeltjie… en moet nie warry Mamma en Pappa… een van die dae het jul weer jul Poplap by die huis… en sal sy rondhardloop en speel soos voorheen… en straal soos altyd… Sterkte vir jul…

SNEL ·

Ai, hoe laat die goeie nuus nou nie n mens se hart warm klop nie. So bly vir die Mamma en Pappa dat dit so goed met hul pop gaan. Prys die Heer vir die wonderwerke wat hier plaasvind en mag die Here haar so laat herstel dat sy geen letsels oorhou nie. Hierdie berig was nou regtig die “cherry” op ‘n reeds wonderlike daggie vir my.

Marelize van den Heever ·

Ons is so dankbaar vir almal wat vir Rodney en Hilda bygestaan het. Tannie is so verlig. Ons dank ons hemelse Vader vir al sy liefde en genade. Liefde groete (Marelize Farmer)

JaNee ·

Dankbaar dit gaan beter en daar geen kwade gevoelens. Eis asb. steeds van werkgewer se kort termyn onder persoonlike aanspreeklikheid. Dis waarvoor die dekking daar is.

Bets Bothma ·

So jammer, maar so dankbaar vir ons wonderlike medici en gesondheidsorg – baie sterkte en ons bid vir volkome herstel!

Minnie Bruwer ·

So bly sy is beter. Ons dien n groot God. Sterkte aan haar ouers, familie en almal betrokke. Xx

Carin Lotter ·

Ons aanbid ‘n Lewe nie God! Dankbaar sy herstel so mooi. Sterkte vir ouers en grootouers.

Carin Lotter ·

Ek het bedoel ons aanbid ‘n Lewende God! Spelling het verkeerd deurgaan

Carin Lotter ·

Ek wil fout regstel. Ek het bedoel ons aanbid ‘n Lewende God! Spelling het verkeerd deurgaan

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.