Peuter se liggaam 2 weke later uit rivier gehaal

Argieffoto

Die liggaam van ʼn 20 maande oue seuntjie wat byna twee weke gelede in ʼn rivier in Johannesburg beland het, is uiteindelik deur reddingswerkers uit die water gebring.

Michael Sun, burgemeesterskomiteelid vir openbare veiligheid, sê in ʼn verklaring reddingswerkers het sedert 3 Augustus gesukkel om die peuter se liggaam op te spoor.

Die seuntjie het op 3 Augustus laatmiddag met sy maatjies gespeel toe hy glo in die rivier in die Kliprivier-omgewing ingestamp is. Die nooddienste is ontbied en het onmiddellik na die toneel gehaas om die kind te probeer red. Ooggetuies het gesê hulle het gesien hoe die seuntjie en nog ʼn 4-jarige kind in die rivier ingestamp word.

ʼn Dapper gemeenskapslid het dadelik in die water gespring om die kinders te red. Hy kon egter net daarin slaag om die 4-jarige kind uit die water te bring.

Volgens Sun het reddingsduikers van die departement van openbare veiligheid se nooddienste en die SAPD begin om die rivier te deursoek. Ná hulle ure lank die water gefynkam het, is die hulp van die SAPD se lugvleuel en nog reddingspanne ingeroep.

Met sonsopkoms die volgende dag het nog reddingswerkers by die soektog aangesluit om al die gebiede van die rivier te deursoek. “Nadat 24 uur verbygegaan het sonder enige teken van die kind, het die soektog na die seuntjie ʼn soektog na sy liggaam geword. Teen hierdie tyd is daar aanvaar dat die kind gesterf het,” het Sun gesê.

Die soektog het nog tien dae lank voortgeduur totdat daar besluit is om ʼn nuwe plan te beraam. Die soekspan het Woensdag met behulp van ʼn kontrakteur die rivier se water blokkeer om reddingswerkers toe te laat om dieper in die troebel water in te gaan om die liggaam te vind.

“Omdat die water diep, troebel en giftig was, het dit duikers verhoed om dieper in te gaan om te soek. Nadat ons die watervloei vir ʼn ruk kon afsper, het dit hulle toegelaat om dieper in die water in te gaan. Binne 15 minute nadat ons die watervloei gekeer het, is die peuter se liggaam gevind waar dit op die bodem van die rivier tussen ʼn boomstomp en boomwortels vasgekeer was,” het Sun gesê.

“Ek is baie hartseer oor die dood van hierdie klein seuntjie. Ons opregte meegevoel gaan aan sy familie.”

Sun het gesê die departement is reeds besig met veldtogte om kinders bewus te maak van waterveiligheid, om hulle te leer swem en om hulle te leer wat om in ʼn noodgeval te doen. “Dit is duidelik dat ons ook op kleuterskoolkinders sal moet fokus om voorvalle soos hierdie te voorkom,” het hy gesê.

“Daar moet egter beklemtoon word dat ouers ook húl deel moet doen om seker te maak dat hulle klein kindertjies altyd onder oë hou en hulle nooit sonder toesig naby water laat nie.”

Sun het sy dank uitgespreek aan die reddingspanne en gemeenskapslede wat met die soektog gehelp het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

IK ·

Mens moet versigtig wees om die ouer(s) te beskuldig wat heel moontlik wel skuld mag hê aan die gebeure. Dit het al gebeur dat pa dink die kind is by ma en omgekeerd dat ma dink die kind is by pa. Dan word daar met ‘n ontsettende skok besef dat die kind alreeds verdrink het in die eendedammetjie. ‘n Kind kan alreeds baie vroeg geleer word om te swem.

MissDemeanor ·

Ai dis hartseer. Die berig noem dat twee kinders in die water ingestamp is….ek neem aan dit was dalk ander kinders wat hul gestamp het. Dis vreeslik. Ek kry die kind wat die stampwerk gedoen het ook vreeslik jammer. Ek hoop hy of sy ontvang berading.

Nee Miss Demeanor ·

Ek kry hom glad nie jammer nie . die kind wat die stampwerk gedoen het was ‘n BOELIE en jy kry hom jammer? Hoekom kry julle nie die slagoffers se ouers en familie jammer nie? Kan nie glo dat ons al so verander het dat ons altyd die BOELIE se kant vat nie, want siestog hy moet gaan vir berading, daar moet iets met hom gebeur het? NEE HY IS “N BOELIE en moet gestraf word vir sy dade. Jy maak nie TWEE ongelukke nie.

JvdW ·

Ja nee kyk, ek het ook nie simpatie met die stamper nie, want aaklige kinders word aaklige grootmense!! “Your biggest contribution to society may not be something you do, but someone you raise” Dit word van kleins af in jou brein ingeprint as jy goeie ouers het.

Ella ·

Die berig is geskryf asof die die natuurlikste ding ter wereld is om n kind van 20 maande by n rivier, waarvan die water “giftig” is, te laat speel. Ek sou my kind van 6 nie eers toelaat eers toelaat om by so n rivier te speel, met of sonder toesig.
Julle gaan my kop afbyt maar ek gaan dit se: ek verkwalik enige ouer wat n kind van 20 maande alleen te laat speel maak nie saak waar. Ons leef in n gevaarlike wereld.
Nou gaan die gemeenskap weer allerlei eise stel oor die rivier maar eintlik moet die fout by die persoon wat na die kind moes omsien, gesoek word.
My hart is seer dat die kind so n nare dood moes sterf.

Cheryl ·

Ella ek stem 100% saam met jou, dis eintlik nog ‘n baba, hoe kan mens toelaat dat ‘n baba langs ‘n rivier speel -my maag draai eintlik as ek eers daaraan dink

Leser ·

Ek stem ook saam. Dit is iets wat verhoed kon gewees het, en dit is hoekom dit so tragies is.

Magda ·

Ek stem 100% – daar is geen verskoning nie – ek het self 4 van my eie kinders en is hul almal lewendig danksy die feit dat ek hul nie onder my oe laat uitgaan nie – 20 maande oud is nog nie eers 2 nie – hoe laat jy n baba onder jou oe uit…naby enige water?

LB S ·

Jy is heeltemal reg, Ella. Mense wat my beskuldig het van oorbeskerming het altyd die antwoord gekry dat my kinders nog heel en veilig is. Ek is nou nog net so beskermend (en dink vooruit!!!) teenoor my 14-maande oue kleinseuntjie wanneer hy onder my toesig is.
En Nee Miss Demeour, hoe weet jy wat gebeur het tussen die kinders? Dit was dalk net ‘n ongeluk wat wag om te gebeur, a.g.v. afwesige volwasse toesig!

M ·

Ella, jy slaan die spyker op die kop. Ek sal nie eers ‘n kind van daai ouderdom in my erf laat speel sonder toesig nie.

Onwerklik ·

Geen verantwoordelike “ouer” sal ooit toelaat dat hul peuter ( 20maande of tiener 14 jaar) alleen gelaat word in ‘n situasie, waar daar gevaarlike omstandighede is, sonder die toesig van ‘n ouer nie.. nie ‘n geval van “ek het gedog hy’s by die ma nie – en tenoorgesteld” JY’s ALTYD “dedicated” as ‘n voog!!! Jy swem saam, klim boom saam, vertel van die gevare – TERWYL jy daar is as ouer!!! Jy was al daar – jy leef nog – en dis jou plig as ouer om daar te wees!!!
Innige meegevoel, MAAR regtig.. mense moet bykom, jou volwasse “gestressde” lewe neteken nie jy kan laks wees met jou kinders se lewens nie!!!

Alida ·

Wat maak sulke klein kindertjies sonder toesig by die rivier?? Onverantwoordelik verby!!??

ZAR ·

Dis ‘n hartseer geval, en so iets gebeur so maklik. Sterkte aan die ouers. Ek is net verstom dat die rivier giftig is.

IK ·

Dis nou al sowat 49 jaar gelede dat die buurman oorkant die straat met ‘n baba in sy arms na ons toe gekom het en gevra het of dit ons baba is? Verwonderd het ek en my vrou ‘ja’ geantwoord en verneem waar die baba was!! Op ‘n vraag of die hek behoorlik toe was (daar was TWEE grendels buite bereik vir selfs ‘n kind wat kon loop) het hy ‘JA’ geantwoord. Daar was ook GEEN gat in die heining. Selfs vandag nog spook hierdie gebeure by my. Onthou dat selfs ‘n baba wat kruip is soos blits en ook deur ‘n TOE hek/heining!!

Ai ·

Baie jammer oor jou aaklige ervaring maar die kinders is INGESTAMP. Geen ouer toesig nie, dit het so lank geduur dat die kind ‘n TWEEDE kind in die water kon stamp .. neewat .. ek hoor wat jy se, ‘n ongeluk kan vinnig plaasvind maar OM “N 20 maande oue BABA IN DIE WATER TE STAMP is nie ‘n ONGELUK NIE . hy het toe weer ‘n 4 jarige ingestamp..

Stuiwer ·

Waar was die ouers/toesighouers? Veldtogte moet ook begin word om ouers op te lei sodat hulle beter na hul kinders sal omsien.

Magda ·

Ek weet nie wanneer mense gaan leer nie…ai – ‘n kind word aan jou toevertrou deur ons Vader. Dis jou ouerlike plig om ten alle tye te weet waar jou kind is – des te meer as hul nog klein is – ja die duiwel is listig, maar onthou dit kan voorkom word – gee jou kind vryheid om te verken – maar liewe hel wees daar! Ouers raak vasgevang in hul eie gesprekke en doen en late en dit is wanneer tragedies plaasvind. Punt is – as jy jou oe op jou baba en kleuter het kan dit voorkom word.

GM ·

20 Maande oud? Selfs ‘n 4-jarige is nog te jonk om alleen naby water te speel. My hart pyn as ek sien hoe onverantwoordelik so baie ouers is as dit by die veiligheid van hul kinders kom. Ek is eerder ‘overprotective’ as spyt later. Ongelukke gebeur vinnig, maak nie saak hoe versigtig mens probeer wees nie, ek weet dit, maar daar is ‘n verskil tussen ongeluk en plein agterlosig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.