Peuter vinnig tuis ná hy in swembad val

Klein Declan Odendaal. (Foto: Verskaf)

Die verpligte noodhulpkursus wat ’n pa van Mpumalanga ’n dekade gelede as deel van sy werk moes voltooi, het heel waarskynlik sy kind se lewe gered toe dié verlede week in ’n swembad beland het.

Martin Odendaal van Witrivier het dadelik mond-tot-mond-asemhaling op die 21 maande oue Declan toegepas. Dié behandeling is tot by die naaste hospitaal uitgevoer waar ’n span dokters oorgeneem het.

“My man het net besluit dit is nié die einde nie,” vertel Candita Odendaal, Declan se ma.

Die ouerpaar glo nou hul seuntjie is ’n wonderwerk nadat hy minder as ’n week nadat sy lewelose lyfie uit hul swembad gehaal is, uit die Netcare Garden City-hospitaal in Johannesburg ontslaan kon word.

Dit lyk in dié stadium of Declan volkome sal herstel en geen permanente skade sal oorhou ná die ongeluk nie. Sy ouers doen ’n beroep op ander ouers om noodhulpopleiding te ontvang.

“Ek het nie geweet wat om te doen nie, maar my man hét en dit het waarskynlik ons kind se lewe gered.”

Candita onthou sy was verlede Maandag net voor 18:00 in die kombuis besig om aandete voor te berei. Martin het die afmetings van een van die kombuisvenster geneem terwyl hul drie kinders rondom hulle gespeel het.

Hul negejarige dogtertjie en sesjarige seuntjie was besig om te rolskaats. Klein Declan was agterna.

Die twee oudste kinders het egter in ’n stadium agtergekom dat Declan stil is en hulle nie meer agtervolg nie. Hulle het hul boetie in die swembad aangetref waar hy met sy gesig na onder gedryf het.

“My dogtertjie het histeries gegil. My man het buitentoe gehardloop, in die swembad gespring en toe daardie lewelose lyfie uit die water gebring.

“Dit is ’n prentjie wat ek nie maklik sal kan vergeet nie.”

Martin het inderhaas mond-tot-mond-asemhaling begin toepas terwyl Candita die nooddienste in die hande probeer kry het. Die egpaar se buurman is ’n paramedikus en was binne oomblikke daar om te help. Ook Candita se vriendin, ’n verpleegster, was binne minute op die toneel om hand by te sit nadat Candita haar gebel het.

Hulle kon eindelik Declan se pols voel klop voordat hy na die Mediclinic in Nelspruit gehaas is. Daar is hy gestabiliseer en geïntubeer voordat hy eindelik in die vroeë oggendure per helikopter na Garden City gevlieg is.

Klein Declan is in dié hospitaal 48 uur lank onder verdowing geplaas en aan ’n ventilator gekoppel voordat hy vordering begin toon het en bygebring kon word.

Candita meen dis net deur genade en die gebede van vriende en familie dat haar seuntjie Saterdag reeds ontslaan kon word.

“Hy het ongelooflik vinnig herstel en is al weer sy ou self. Hy is nog ’n bietjie van balans af nadat hy vir so lank stilgelê het, maar dit lyk nie of daar enige skade is nie. Hy sê weer al die woordjies wat hy voor die ongeluk gesê het en het sy terggees terug.

“My kind is hier want die Here het hom gespaar. ‘Dankie’ is so ’n klein woordjie en sal nooit kan beskryf hoe ek voel nie. Ek is só dankbaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Madz ·

BAAAAIE dankbaar saam met julle! Ek is self ‘n voorstaander van basiese noodhulp-opleiding. Min mense besef dat daardie bietjie kennis meeste van die tyd die verskil kan maak tussen lewe en dood!

Alta Alleman ·

Alle eer aan die mense wat hom dadelik gehelp het met God se genade.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.