PG du Plessis: ʼn Diep leemte wat nie gevul kan word

PG du Plessis (Foto: ATKV)

Die ATKV en die Bloemfonteinse Skrywersvereniging het albei in roerende huldeblyke aan die ontslape skrywer en dramaturg dr. PG du Plessis gesê sy afsterwe laat ʼn leemte wat deur niemand gevul kan word nie.

Du Plessis is Woensdagmiddag in die ouderdom van 82 oorlede.

“Woorde ontbreek om sy bydrae tot die wêreld van Afrikaans te beskryf en sy nalatenskap sal nog jare lank eggo,” lui die huldeblyk aan die skrywer.

“Nou het sy welbekende stem en lag vir oulaas stil geword en die ondeunde vonkel in sy oë is geblus na ʼn uitmergelende, maar moedige jare lange stryd teen kanker. Hy was voorwaar ʼn skrywer wat die lag saam met die traan beter as enigeen kon vasvang,” sê die Bloemfonteinse Skrywersvereniging.

Du Plessis – vir aanhangers bekend as PG en aan vriende as Pieter – se Koöperasiestories het hom ʼn bekende naam in talle Suid-Afrikaanse huishoudings gemaak.

Hy was egter veel meer as net skrywer, sê die ATKV in sy huldeblyk – hy was ook onderwyser, akademikus, koerantman, draaiboekskrywer en ’n vriend vir baie.

Almal weet egter nie eweveel van sy grootwordjare nie.

Pieter Georg (PG) du Plessis is op 14 Julie 1934 in Boshof in die Vrystaat gebore. Sy pa was ’n onderwyser wat ook baie lief vir die letterkunde was. Ná matriek is PG na die Universiteit van Pretoria waar hy ’n BA-graad behaal het in 1955 en sy onderwysdiploma in 1957. Hy werk daarna heeltyds, maar hou aan studeer en in 1966 behaal hy sy doktorsgraad. NP van Wyk Louw was sy promotor.

In 1969 debuteer Du Plessis met Die nag van Legio, ’n strak drama wat in ’n gestig afspeel. Die volgende jaar word die stuk met die WA Hofmeyr-prys bekroon.

Sy volgende drama, Siener in die suburbs, is uitsonderlik, juis omdat dit doodgewone werkersklasmense in doodgewone omstandighede uitbeeld. Ná dekades is die stuk steeds relevant en is dit onlangs weer by verskeie feeste opgevoer. Die Hertzogprys word dan ook in 1972 aan du Plessis toegeken vir Die nag van Legio en Siener in die suburbs.

In 1973 verskyn Plaston: DNS-kind, ’n futuristiese stuk wetenskapfiksie oor ’n seun wat deur ’n wetenskaplike geskep word. Die vraag is of ’n kind wat geskep is vir perfeksie in ’n onvolmaakte wêreld sou kon aanpas.

Veel meer vermaaklik is die klug ’n Seder val in Waterkloof van 1979. In dié drama steek Du Plessis die draak met akademici wat hulle as verhewe bo die “gewone” mense beskou.

In 1980 verskyn ’n bundel genaamd Koöperasiestories op Donderdag by Perskor uit sy pen. Dit word gereeld herdruk en op 27 April 1983 word die eerste episode van Koöperasiestories op Suid-Afrikaanse TV uitgesaai. Dit was dadelik ’n enorme sukses.

In die drama Vereeniging, Vereeniging (1985) vind ’n mens reeds die oorsprong van dit wat later die roman Fees van die ongenooides geword het. In daardie stadium was die stuk egter so gewaagd dat Truk, wat dit aangevra het, dit nie wou opvoer nie.

Du Plessis het verskeie tekste geskryf in sy lewe. The Married Man’s Guide to Adultery: A Study of Adulterations van 1998 is ’n besondere roman oor die verdigsels (adulterations) wat ’n klein gemeenskappie kan kniehalter.

Dit was egter met Fees van die ongenooides, wat in 2008 gepubliseer is, waarmee Du Plessis sy stempel deeglik op die Afrikaanse kanon afdruk. Hierdie boek ondersoek talle aspekte van die samelewing wat reeds in sy werk te sien is, maar in hierdie geval was die puik beelding en die meesleurende storie dié pennevrug van ’n deurleefde skrywer.

Die ATKV-Prosaprys is in 2009 aan hom toegeken vir dié roman.

Du Plessis het sy laaste jare op sy plaas Sémóer geslyp. Hy word oorleef deur sy vrou, Marie, asook die egpaar se twee kinders en ’n aantal kleinkinders.

Toe hy in 1983 uittree as redakteur van Hoofstad, het hy opgemerk: “Al wat ek vra, so by die afskeid. Laat julle kolomme tog sag wees oor my moontlike mislukking en baie luid, tagtig-punt-luid, as daar dalk sukses is.”

Soos Jan FE Cilliers geskryf het: “Stil broers, daar gaan ’n man verby.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Anton ·

…wat n begaafde man…ek het hom terdee geniet…hy het vir my skool gegee…RIP…ons – SA – gaan jou mis…

Chris ·

Ek voel saam met sy familie. Dit is erg dat van ons bekende/beminde mense so een vir een afsterwe. Dit is maar die realiteit van die lewe. Ek het ongelukkig nie die voorreg gehad om hom persoonlik te ken nie. Wat ek wel van en oor hom lees, was hy ‘n formidabele skrywer met ‘n ekstra fyn waarnemingsvermoë en skerp sin vir humor. Hy het beslis ‘n baie groot bydrae gemaak.

Ander Annie ·

Dankie PG vir al jou kwinkslae en lag. It het diep spore getrap. Innige simpatie aan jou familie. RIV

Sanet de Klerk ·

Hy was bekend onder al die Suid Afrikaners. n Mens duisend. Ons is trots oo so n wonderlike mens. RIP PG. sterkte aan sy vrou en kinders asook kleinkinders. Ons dink aan julle

Carel ·

Ek het vanoggend ‘n opname gehoor van PG en Izak oor RSG, wat ‘n tyd gelede gemaak was. PG het verklaar dat God nie bestaan nie, hy het baie gevloek en gesê dat hy waarskynlik binnekort gaan “vrek” en gladnie bang is daarvoor nie. Beslis ‘n swak nalatenskap van ‘n sogenaamde nasionale “held”.

Carel ·

Jammer Maroela dat julle nie my kommentaar plaas nie. Almal besing PG as ‘n wonderlike mens, die opname ‘n tyd gelede gemaak wat vanoggend oor RSG uitgesaai was, skets ‘n ander prentjie van hom.

Adriaan ·

Stem saam met jou Carel, as hy tot aan die einde dieselfde opinie gehad het is en was hy in swak voorbeeld vir ‘n volk wat reeds baie hard gestraf word..

Duifie ·

Baie jammer om dit te verneem, Carl. Die beginsel van wysheid is die vrees van die Here, sê die Woord. Ons het nog kans om te soek na daardie wysheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.