Phahlane: ‘Klopjag-bewerings is verregaande’

Lt.genl. Khomotso Phahlane, die waarnemende nasionale polisiekommissaris. Foto: SAPD

Lt.genl. Khomotso Phahlane, waarnemende nasionale polisiekommissaris, het gesê “ongegronde bewerings” deur die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) dat hy opdrag gegee het om ʼn klopjag op hul kantoor te laat uitvoer, is “verregaande” en stel die Suid-Afrikaanse Polisiediens in ʼn slegte lig.

Dit volg nadat Opod Woensdag ʼn verklaring uitgereik het waarin die direktoraat gesê het hy het betroubare inligting ontvang dat Phahlane die polisie se nasionale intervensie-eenheid (NIU) opdrag gegee het om op gereedheidsgrondslag te wees om ʼn klopjag op Opod se kantoor uit te voer.

Volgens Opod is die klopjag ʼn poging van Phahlane om ʼn ondersoek dat hy betrokke is by beweerde korrupsie, geldwassery en dwarsboming van die gereg in die wiele te ry. Opod ondersoek hoe Phahlane, wat sy lewe lank nog ʼn polisiebeampte is, dit kan bekostig om ʼn huis, wat glo ongeveer R8 miljoen werd is, in die Sable Hills-landgoed in die noorde van Pretoria te bou.

Phahlane het in reaksie hierop ook ʼn verklaring uitgereik waarin hy gesê het Opod se bewerings is deel van ʼn “propaganda-veldtog” en geensins op feite gegrond nie. “Ons kan dit uitdruklik stel daar is geen planne deur die SAPD, op my bevel of na my wete, om ʼn klopjag op Opod se kantoor uit te voer nie,” het hy gesê.

“Opod verwys na ‘betroubare inligting’ wat hulle ontvang het sonder om enigsins duidelikheid te gee wie die bron van hierdie sogenaamde betroubare inligting is of om uit te brei hoekom die klopjag, indien dit wel beplan is, nooit plaasgevind het nie.” Hy het gesê die SAPD sal nie deur die media in ʼn woordewisseling met Opod betrokke raak nie.

Phahlane het ook in die verklaring gesê hy sal nie in die media kommentaar lewer op die aanklagte teen hom nie, omdat dit “oneties en teenproduktief sal wees om ondersoek en verhore deur die media te doen”.

“Beamptes in diens van die SAPD word deur die bestuur aangemoedig om enige pogings om hul fokus en aandag af te lei van hul verpligtinge te ignoreer. Ons toewyding en verbintenis moet steeds wees om vir almal in Suid-Afrika ʼn veilige omgewing te skep.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

marous ·

Dis so gerusstellend om in die aand te slaap wetend dat die bewakers van die land so eerbaar is…

Bittergal ·

‘n 8 miljoen rand huis vir ‘n “poliesiebeampte” is nie net ‘n rokie nie, dis ‘n moewiese vuur!

Ander Annie ·

Uitstekende kommentare. Die sous trein is lekker. Ek sê ook, die rokie wys na ‘n groooot vuur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.