Phala Phala: OB sê Ramaphosa moet nóú antwoord  

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: STEFAN HEUNIS/AFP)

Die waarnemende openbare beskermer, adv. Kholeka Gcaleka, het pres. Cyril Ramaphosa se versoek geweier vir verdere uitstel om antwoorde te verskaf op bewerings dat hy die etiekkode vir lede van die uitvoerende gesag geskend het.

Die OB het Dinsdag in ’n verklaring gesê dat sy dus haar dagvaardingsbevoegdhede sal gebruik in ooreenstemming met artikel 7(4) van die Openbare Beskermerswet.

Dít bepaal dat die OB vir die doeleindes van ’n ondersoek, enige persoon by wyse van ʼn dagvaarding kan gelas om ’n beëdigde of bevestigde verklaring in te dien, voor die OB te verskyn om getuienis af te lê, of enige dokument in sy of haar besit aan die OB te verskaf in dié mate waartoe dit op die ondersoek betrekking het. Só ʼn persoon mag ingevolge dié wet ook ondersoek word.

“Die OB wil die publiek gerusstel dat die saak voortduur en dat ander ondersoekmetodes gebruik word om te bepaal of daar waarheid in die bewerings steek wat aanleiding tot die ondersoek gegee het,” lui die verklaring.

Ramaphosa word daarvan beskuldig dat hy ʼn inbraak in 2020 op sy wildsplaas Phala Phala in Limpopo, waar diewe na bewering $4 miljoen gesteel het, probeer geheim hou het.

Maroela Media het vroeër berig dat Ramaphosa na aanleiding van ʼn brief wat aan hom geskryf is vir ʼn reaksie op die bewerings, deur middel van sy prokureurs ʼn verlenging van die aanvanklike keerdatum van 22 Junie 2022 versoek het.

Dít is deur die OB toegestaan en Ramaphosa moes sy reaksie teen 18 Julie indien.

Die OB het Dinsdag gesê dat ʼn versoek vir verdere uitstel afgekeur en op 18 Julie aan die president gekommunikeer is.

Die reëls van die Openbare Beskermer dui tydlyne en protokolle rakende ondersoeke aan, wat onder meer bepaal  dat ʼn staatsinstelling binne 14 dae geskrewe terugvoer moet gee nadat korrespondensie van die OB uitgereik is.

Indien die betrokke staatsinstelling versuim om terugvoer binne die gegewe tyd te gee, is die OB by magte om by wyse van dagvaarding ʼn omvattende antwoord te versoek, wat binne sewe dae gelewer moet word.

Die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) het verlede week ʼn formele verklaring van die president van die African Transformation Movement (ATM) afgeneem na aanleiding van ʼn klag oor die polisie se hantering van die beweerde diefstal by Phala Phala.

Die ATM het Opod gevra om onder andere die polisiehoof, genl. Fannie Masemola, sowel as sy voorganger, genl. Khehla Sitole, in verband met die saak te ondersoek.

Die instelling het nog nie aangedui of hy ’n omvattende ondersoek na die voorval gaan doen nie.

Benewens die OB het die Valke reeds ondersoeke in dié verband van stapel gestuur. Die OB se kantoor het altesame vier klagte oor die voorval ontvang, waarvan die ATM een ingedien het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Di ·

Steem saam – UISTEL werk nie in die land nie – Kyk waar sit ons met ZUMA se uitstellery – JARE se hofsake en tot hede NIKS gebeur nie.

domheks ·

Strop trek al nouer ramaparra! Die groen padda in die pot KOOK AL!!!!

Trotse Boervrou ·

Werklik? Zuma het weggekom en kom nog steeds weg. Geen haan het ooit weer gekraai nie. Dieselfde gaan hier gebeur. Ek raak nie opgewonde nie. Hou asb op om die publiek te probeer bluf.

Cherokee ·

Ek dink werklik negatiewe kommentare soos diè van jou en vele ander pessimiste, skep ‘n krag tot voordeel van die skuldiges. As almal so ‘n houding inslaan, dan is daar geen rede vir opvolg nie, want die land blyk teverede te wees.

Blikke ·

Ag ou Cherokee, jou kommentaar is net so negatief om almal te probeer teregwys, bly eerder net stil…….

Conraad ·

Daar’s ‘n nuwe meisie in beheer sedertdien.
Kom ons hoop hierdie meisie draai uit as ‘n heks vir al die rampokkers – en dus ‘n Liewe Heksie vir ons landsburgers.

Waarnemer ·

Hou nou dop hoe vinnig word die waarnemeende OB ook geskors of sommer gefire!!!!

Casper ·

Hierdie keer het Rampie te vêr gegaan.Onthou daar is binne gevegte binne die ANC en nie almal ondersteun vir Rampie nie.

gatgogga ·

Aangesien hier $USD betrokke is, kan die FBI nie ook ondersoek doen nie?

Witbaard ·

DA?? hahahahahah, probeer Solidariteit of AfriForum as jy resultate soek.

Tante Toekie ·

Nou ja toe! “What is good for the goose is good for the gander” – of so iets, ek is nie eintlik ingels nie. Ek sal egter nie die OB prys nie. Daar is ander sake wat al etlike jare sloer, interessant dat hierdie een dadelik hanteer moet word. Probeer ons dalk ontslae raak van die enigste president wat sedert 1994 ‘n poging aangewend het om korrupsie te laat onder soek? Ek vermoed so. Lyk my almal het geraamtes in die kas,

Cherokee ·

Die OB, tannie Koekie, is sò splinternuut, sy blink nog. Jy kan nie haar blameer vir vorige bekommernisse en beslommernisse nie. Gee haar ‘n regverdige kans.

Jacobus ·

Ek stem met jou saam. Die geval MOET ondersoek word, maar wie is volgende in die ry om hierdie soustrein te bestuur. Ramaphosa probeer ten minste n goeie job doen met al die useless kaders wat hy van Zuma geerf het.

Jacques ·

Uitstekend! Maar, die OB gaan maar net weer vervang word, verpligte verlof moet neem as dit “Te Warm” raak vir die onaantasbare Edeles.

Mallie ·

Slag hom. Hy is die ANC President. En daarom is hy nie onaantasbaar nie al dink hy so.

Wondermaarnet ·

Die waarnemende OB gaan seker uit haar pos verwyder word binne ‘n paar dae omdat sy nou dinge wil ontbloot en vordering maak.

Annamarie ·

Uitstel op Uitstel, en dan vee ons dit onder die mat in!!!

Manie ·

Ramaphosa het die wet oortree, jy mag nie meer as 10 000 USD in jou besit hê sonder om dit te verklaar nie. Volg net dieselfde reëls/optrede as wat op Jan Alleman van toepassing is, niks meer of niks minder nie.

Jack ·

Is dit so moeilik om die waarheid te verdoesel. Die politici weet mos hoe om waarhede te begrawe. Hier gaan n afgewaterde storie vertel word dit kan ons maar weet. Die geldlaai word mos oopgelaat vir almal. Die sleutel is al lankal weg.

007 ·

Hy gaan inelkgeval net weer lieg, sluit hom saam Zuma en Ace toe en kry klaar. As hy nie hier skuldig is nie is hy inelkgeval op ‘n ander plek skuldig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.