Vir 23 jaar het Yolinda Sullwald hart en siel in haar sakeonderneming – die Elegance-gastehuis op Phalaborwa in Limpopo – ingeploeg.
“Dit het letterlik bloed en sweet gekos. My vingerpunte het al gebloei soos wat ek in daardie huis gewerk het om vorentoe te gaan.”
Toe brand dié drieverdieping-grasdakhuis in Red Ivorystraat, met 23 kamers, buitegeboue, twee lapas en ʼn venue, Saterdag binne 19 minute af.
Maroela Media het vroeër berig ’n verwoestende veldbrand het Saterdag net buite Phalaborwa ontstaan voor die wind die vlamme in die rigting van die dorp gedruk het. Altesame 14 huise is in puin gelê.
Die plaaslike munisipaliteit het intussen ’n ramptoestand in die dorp aangekondig en hulp stroom in.
Sullwald vertel aan Maroela Media dat die vlamme aanvanklik aan die oorkant van die dubbelpad (Spekboomstraat) langs die gastehuis gewoed het.
’n Niksvermoedende Sullwald was in die huis doenig toe haar seun omstreeks 13:30 na buite gaan en sien dat die dak aan die brand is. Daar word vermoed dat brandende gras in daardie stadium van die stuk veld tot op die gastehuis se dak gewaai het.
“Die vuur het deur die lug gekom!” verduidelik Sullwald.
Sullwald sê sy het weens die hitte van die vlamme ’n blok ver van die gastehuis in die gras gaan sit en toegekyk hoe die huis wat haar pa gebou het, tot op die grond afbrand.
“Jy kon nie naby kom nie. My kar het ʼn hele ent van die huis onder my maroelaboom gestaan. Die agterkant van my kar het gesmelt van die hitte.”
Sullwald sê die feit dat sy en haar geliefdes veilig was, het haar in daardie benoude oomblikke kalm gehou.
“Hierdie tragedie kon in die aand gebeur het. Ons kon almal dood gewees het.
“Dit is ook nie net ek nie. Hier is 14 ander gesinne wat deur dieselfde trauma as ek gaan.”
Sullwald sê haar familie en die gemeenskap van Phalaborwa hou haar in hierdie stadium staande. “Hierdie gemeenskap staan saam en sal help waar hulle kan.”
Sullwald se pa het die huis op Phalaborwa tussen 1981 en 1983 gebou. Haar ouers het aanvanklik daar tuisgegaan voordat Sullwald in 2000 teruggetrek en die huis in ʼn gastehuis omskep het.
Wonder of Munisipalteit vir skade gedagvaar kan word omdat hulle nie voorsiening vir brandbestryding gemaak het nie.
Kyk die toestand van die pad!
Dit is ‘n absolute tragedie. Dit klink asof niemand in die brand omgekom het nie en as ek reg is, is dit goeie rede om dankbaar te wees.
Daar is blykbaar een inwoner oorlede.
Lyk vir my regtig na moedswillige brand stigting , verskillende plekke , ek wonder maar met !