Phalaborwa kalm ná ooreenkoms met mynmaatskappye

Paaie na Phalaborwa is die afgelope week versper. (Foto: Verskaf)

Oënskynlike kalmte heers weer in Phalaborwa, Limpopo, nadat betogers van die Ba-Phalaborwa-gemeenskapsforum en die mynmaatskappye Palabora Copper en Foskor Mining Dinsdag eindelik tot ’n vergelyk kon kom. Dit nadat die plaaslike gemeenskapsforum en die mynmaatskappy op die dorp klaarblyklik ’n ooreenkoms bereik het.

Sommige is egter nie daarvan oortuig dat betogers nie weer die dorp tot stilstand sal dwing nie.

Maroela Media het vroeër berig die Ba-Phalaborwa-gemeenskapsforum is ongelukkig met die Palabora-mynmaatskappy nadat ’n tender aan ’n Gautengse maatskappy toegeken is. Die betogers dring aan op werksgeleenthede en kontrakteurswerk.

Alle paaie na Phalaborwa is die afgelope week te midde van gewelddadige betogings met boomtakke, brandende buitebande en klippe versper terwyl winkels gedwing is om te sluit.

Een van die grootste restaurante op die dorp moes drie dae lank gesluit bly te midde van die betogings.

Die eienaar van die restaurant, wat op voorwaarde van anonimiteit met Maroela Media gepraat het, sê 12 van die kombuispersoneel woon buite die dorp en kon nie Vrydag gaan werk het nie nadat hulle buite die dorp voorgekeer en gedreig is.

Slegs een van die personeellede kon daarin slaag om die dorp binne te gaan. Die personeellid is egter later deur betogers gedreig. “Daar is aan haar gesê dat hulle haar ore gaan afsny omdat sy nie hoor nie.”

Die restaurant kon sy bedrywighede weer Saterdag en Sondag hervat, maar werknemers is weer Maandag buite die dorp voorgekeer en verhoed om werk toe te gaan.

“Omtrent die hele dorp was Maandag toe,” vertel die restauranteienaar.

Paaie na Phalaborwa is die afgelope week versper. (Foto: Verskaf)

Volgens dié bron was die restaurant Maandag enkele ure oop voordat die betogers die dorp binnegestorm het. ’n Groep betogers het glo van besigheid tot besigheid gegaan en gedreig om hulle af te brand sou hulle hul deure oopmaak. Dit sluit in groot kettingswinkels soos die Checkers, Pick n Pay en KFC op die dorp.

Enkele sakeondernemings het ondanks die dreigemente oopgebly.

Taxi-operateurs is ook gedreig en talle mense het Maandag te voet uit die dorp na hul huise gestap.

DA-raadslid Sybrand de Beer sê munisipale dienste is ook weens die betogings ontwrig en geen vullisverwydering kon gedoen word nie.

Terwyl die R40 en R71 versper was, kon afleweringsvoertuie boonop nie die dorp binnegaan nie en dié voertuie is genoop om terug te draai. Leerders van die landelike gebiede kon nie skoolgaan nie en toeriste kon ook nie die Krugerwildtuin se Phalaborwa-hek bereik nie.

Volgens ’n dokument wat Maroela Media onder oë gehad het, is daar Dinsdag tussen die mynmaatskappy en die gemeenskapsforum ooreengekom dat plaaslike lede van die Ba-Phalaborwa-gemeenskapsforum voortaan voorkeur sal geniet wat vakante poste en geleenthede vir vaardigheidsontwikkelings betref.

Paaie na Phalaborwa is die afgelope week versper. (Foto: Verskaf)

Die forum sal ook kan insit tydens onderhoude vir sekere interne vakante poste.

De Beer sê egter hy is nie oortuig daarvan dat die onlangse ooreenkoms gaan verhoed dat betogers weer na die dorp gaan opruk nie. “Daar was al etlike ooreenkomste. Dit kom al ’n lang pad.”

Hy wys daarop dat betogers in Februarie geboue by die Palabora-mynmaatskappy sowel as vragmotors aan die brand gesteek het. Dit was ’n maand of twee stil voordat hulle weer opgeruk het.

Die restauranteienaar meen dit is onregverdedig dat sakeondernemings moet ly te midde van betogers se dispuut met die myne. “Ons het niks daarmee te doen nie.”

De Beer stem hiermee saam. “Die besighede suffer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Kokerboom ·

Die boewe kom weg meg met moord! Wie gaan betaal vir verwoesting?
Stuur rekening aan Minister van Polisie. “n Presedent is geskep en boewe gaan dit weer doen. En …ons geagte President skitter in sy optrede teen kriminele geskep deur SY boewe party se ontwrigtende beleide!!!Ek misken die regering in totaliteit

Elize ·

Ons mag doen net wat ons wil in die nuwe SA. Lekker in Lalaland.

Misky ·

Die ANC maak net vir hulself al meer en meer probleme vir die toekoms. Hierdie betogers/plunderaars is soos stout kinders en hulle kom agter hulle kry hul sin as hulle tantrums gooi. Die bose kringloop sal nie stop totdat SA heeltemal ten gronde is nie

Mariana ·

En so kry die kleuters wat herhaaldelik hul speelgoed van hul bedjies gooi, weereens hul sin. Maak nie saak watse se skade hulle aangerig het nie. Jy, die belastingbetaler sal weereens pa staan vir hulle gemors. Dit is mos algemene praktyk in hierdie land, waar wette net vir sekeres geld, als voor die voet te vernietig. Hoe is dit moontlik dat die mense wat hard werk vir hul geld, nie al keelvol is nie…..of is hulle, maar voel magteloos……

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.