PhD-projek pak indringer-wespes

papierwespe

‘n Papierwespe. Foto: Verskaf.

Om veertig keer in vier jaar deur perdebye gesteek te word, is meer as wat die meeste mense kan verduur. Dit is egter wat Carolien van Zyl deurgemaak het om haar doktorsgraad in entomologie te behaal.

Haar navorsing het gehandel oor twee soorte indringer-wespes wat oor die Wes-Kaap versprei. Sy moes die pynlike steke verduur terwyl sy meer as 200 van hul neste verwyder het. In die proses kon sy darem vasstel inheemse bio-beheeragente kan vermoedelik gebruik word as alternatief vir, of saam met chemikalieë, om die insekte se verdere verspreiding te beheer.

Van Zyl ontvang haar PhD-graad op 8 Desember tydens die gradeplegtigheid van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Agriwetenskappe. Haar studieleier was dr. Ruan Veldtman van die Universiteit Stellenbosch en die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut. Veldtman is betrokke by die bestudering van die Duitse of Europese wespe (Vespula germanica) en die papierwespe (Polistes dominula) om planne te maak oor hoe om verdere verspreiding in die Kaapse blommeryk te verhoed.

Hierdie insekte het al na talle dele van die Wes-Kaap versprei, insluitende Kaapstad en die Bolandse dorpe, Stellenbosch, Wellington en Franschhoek.

Volgens Van Zyl het dié geel-en-swart gestreepte insekte ʼn voorliefde vir proteïne en suiker en word hulle beskou as die “lastige familielid van die insekwêreld”. Die Duitse wespe word al sedert 1974 in Suid-Afrika aangetref, terwyl die papierwespe vir die eerste keer in 2008 opgemerk is.

“Die wespe is daarvoor bekend dat hul teenwoordigheid al gekeer het dat boere kon oes, verjaarsdagpartytjies en pieknieks bederf het en selfs al honde aangeval het,” vertel Van Zyl.

Hulle kom oorspronklik van Europa, Noord-Afrika en Asië, maar beide is deesdae wydverspreide plae. “In sommige wêrelddele, waarheen hulle intussen al versprei het, rig hulle skade aan in die byebedryf, veroorsaak ongerief in die toerismesektor en die tuinboubedryf en beïnvloed ook biodiversiteit negatief,” vertel Van Zyl.

Beheermiddels

“Daarom wil mens die getalle wespes tydens die perdebyseisoen verminder en verhoed dat hulle verder versprei,” voeg sy by.

Chemikalieë of gifstowwe is nie die enigste (of altyd die effektiefste) maniere om insekte te beheer nie. Daarom ondersoek navorsers, soos Van Zyl en kollegas van die Universiteit Stellenbosch se departement bewaringsekologie en entomologie die gebruik van verskillende soorte biologiese hulpmiddels, soos swamme wat die insekte en hul neste kan besmet, of die gebruik van die wespe se natuurlike parasiete en vyande.

Hopelik sal patogene, natuurlike vyande en parasiete ingesluit word in ʼn geïntegreerde pes-beheerprogram (IPB) om die wespe-kwessie te hanteer.

Deur haar PhD-werk het Van Zyl vasgestel twee lewende bio-beheeragente – een ʼn swam en die ander ʼn mikroskopiese klein rondewurm genaamd ʼn nematode – kan gebruik word om hierdie wespe-spesies te beheer. Die presiese formulerings waarvolgens hierdie bio-beheeragente aangewend moet word, moet eers bepaal word voordat dit suksesvol in die veld gebruik kan word.

“Noudat ons weet daar is lewende organismes, vermoedelik inheems aan Suid-Afrika, wat gebruik kan word om die wespe te beheer, het ons ʼn platform geskep vir toekomstige navorsing om ondersoek in te stel hoe goed hierdie middels buite die laboratorium sal werk. Dit moet gedoen word voordat dit op groot skaal vrygestel word,” meen sy.

duitse-of-europese-wespe

Die Duitse of Europese wespe. Foto: Verskaf.

Sukses van proewe

Van Zyl het gedurende die somer van 2013 aktiewe perdebyneste versamel en hulle na die laboratorium by die Universiteit van Stellenbosch geneem. Daar is die larwes in die neste bedek met verskillende vermengings van nematodes en swamme. Dié is dan ʼn paar dae later gedissekteer.

“As die lewende wespe-larwes duidelike tekens van infeksie getoon het, het dit beteken die aanwendings van swamme en nematodes het gewerk. Dit beteken hierdie beheermiddels kon die insekliggame binnedring, toksiene afskei, dit dreineer van voedingstowwe en die larwes dan uiteindelik doodmaak,” lys Van Zyl van die kenmerkende tekens waarvoor sy opgelet het.

Albei perdeby-spesies was hoogs vatbaar vir al die agente wat getoets is.

“Die wespe-larwes het gevrek binne twee dae nadat hulle met nematodes behandel is, ” vertel Van Zyl. “Ek het die larwes gedissekteer en bevind dat hulle was gevul met honderde mikroskopiese nematodes, wat besig was om die larwes van binne af op te vreet.”

Die swam-toediening het ook die ondergang van die wespe-larwes beteken. Hulle is gewoonlik melkerig van kleur. “Larwes uit neste, wat besmet is met swamme, het ligpienk geword, terwyl swam-filamente uit die dooie larwes gegroei en soos sneeu-bedekte uitlopers gelyk het,” vertel sy.

Nadat sy haar doktorsgraad behaal het, wil Van Zyl nou werk waar sy in die buitelug en op kantoor kan werk en waar sy kan help om peste, wat landbougewasse in Suid-Afrika en elders aanval, te bestuur.

  • Besoek edrr.co.za as jy meer wil uitvind oor hoe die indringer-wespe lyk, of wil rapporteer dat jy van hulle gesien het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Connie ·

Wat van die rooiby? Waar pas dit in? Kan iemand dalk lig werp?

Carolien ·

Hallo Connie. Die rooi/bruin wespe waarna jy verwys is waarskynlik die ander papierwespe, Polistes marginales en is nie ‘n indringer wespe spesie in Suid-Afrika nie. Hul neste lyk baie dieselfde as die indringer papierwespe s’n, maar mens moet liefs nie hul probeer uitroei nie.

Jan ·

Is nuuskurig om te weet hoe die steek van hierdie wespe vergelyk met ‘n rooiby sin – laasgenoemde brand nogal, maar darem nie vir lank nie.

Carolien ·

Jan, dis regtig minder pret. Die Duitse wespe s’n is definitief seerder en die swelling wat daarmee gepaardgaan is nogals onplesierig.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.