Phiyega getuig môre in hof oor omstrede misdaadintelligensiesaak

Kol. Kobus Roos Foto: Werner Beukes/SAPA

Kol. Kobus Roos Foto: Werner Beukes/SAPA

Riah Phiyega, die nasionale polisiekommissaris, getuig Maandag self in die arbeidshof in Johannesburg in Solidariteit se hofsaak teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) oor kol. Kobus Roos se aanstelling.

Die SAPD het steeds nie gehoor gegee aan ʼn vroeëre arbeidshofuitspraak waarvolgens Roos in ʼn soortgelyke pos aangestel moes word as die pos wat hy voorheen beklee het nie. Roos was hoof van die interne-ouditafdeling van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid voordat hy eensydig deur Richard Mdluli, geskorste hoof van die misdaadintelligensie-eenheid, na ʼn ander afdeling verplaas is.

Die verplasing het gevolg na aanleiding van ʼn beskermde bekendmaking waarin Roos verskeie van die veroordeelde Mdluli se misdade ontbloot het. Die hof het in April verlede jaar beveel dat, indien daar nie in die misdaadintelligensie-eenheid ’n pos vir hom beskikbaar is nie, hy ’n soortgelyke pos in die SAPD aangebied moet word. Roos is egter steeds nie in ʼn soortgelyke pos as sy vorige pos aangestel nie.

“Die nasionale kommissaris sal uiteindelik in ’n ope hof moet verduidelik waarom sy hom nie binne die misdaadintelligensie-eenheid wil aanstel nie ten spyte daarvan dat ’n vakante pos vir hom bestaan,” het Dirk Groenewald, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, gesê. “Dit is ʼn skande dat die SAPD steeds nie gehoor gegee het aan die hofuitspraak nie en dat daar nog niks gedoen is om die onreg wat teen ons lid gepleeg is, reg te stel nie.”

Lees alle vorige berigte oor Kobus Roos op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

CHRISTA ·

Wat ‘n skande! Die polisie wat daar is om ons land se wette toe te pas, doen dit nie eers nie. Die polisiekommissaris het nie eers respek vir die Hof nie. Nou kan ons sien waarom ons land se misdaadsyfer handuit ruk!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.