Phiyega het wanbegrip van Barnard-hofuitspraak

Renate Barnard Foto: Reint Dykema

Renate Barnard Foto: Reint Dykema

Die nasionale polisiekommissaris, Riah Phiyega, het ʼn wanbegrip van die onlangse uitspraak van die konstitusionele hof in die Renate Barnard-saak, het die vakbond Solidariteit vandag gesê.

Dit kom nadat Phiyega vroeër vandeesweek gesê het die uitspraak steun die polisie se transformasiebeleid. Solidariteit meen Phiyega se reaksie is misplaas, aangesien die polisie se diensbillikheidplan geensins die onderwerp van Solidariteit se hofstryd namens lt.kol. Renate Barnard teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) was nie.

Volgens Dirk Groenewald, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, neem Phiyega nie in aanmerking nie dat die arbeidshof op 15 Februarie 2013, in die saak Naidoo vs. die SAPD, juis die SAPD se diensbillikheidsplan van 2006-2010 ongeldig verklaar het. “Ingevolge die Naidoo-uitspraak kom daardie plan van die SAPD wél op ’n onwettige kwotastelsel en absolute rasbeperkings neer. Solidariteit het in die saak namens Barnard egter glad nie eens die polisie se diensbillikheidplan aangeval nie. Ons argument was dat die SAPD in die toepassing van sy plan homself blind gestaar het teen die nasionale rassedemografie as die absolute norm vir aanstellings en bevorderings,” het Groenewald gesê.

Groenewald het hom ook uitgespreek teen die SAPD se poging om sy regstellendeaksiepraktyke te regverdig op grond daarvan dat Barnard wel later tot ʼn hoër pos in ʼn ander departement bevorder is. “Die kwessie van Barnard se latere bevordering was nooit aan die arbeidshof voorgehou nie en die feit dat die konstitusionele hof in sy uitspraak hiervan melding gemaak het, is onverklaarbaar. Die feite van die saak bly steeds dat Barnard twee keer, op grond van haar ras, oor die hof gesien was vir bevordering, ten spyte daarvan dat sy as bevoeg en bekwaam deur ʼn paneel bevind is,” het Groenewald gesê.

Groenewald het gesê Phiyega kan intussen gereed maak vir wanneer Solidariteit die SAPD op 9 Oktober 2014 voor die hof daag oor die konsultasieproses vir die SAPD se nuwe regstellendeaksieplan. Solidariteit versoek die arbeidshof in Johannesburg om die SAPD te dwing om met Solidariteit, as verteenwoordiger van nieaangewese en minderheidsgroepe, in die opstel van dié plan te konsulteer.

Volg die skakel vir alle nuus oor Renate Barnard.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

PC Badenhorst ·

Vergeet van enige regverdigheid waar dit by sg. diensbillikheid kom. Jou saak kan 100% reg wees; die howe tot by die Appelhof kan jou gelyk gee, maar sodra na die Konstitusionele hof geappeleer word, is dit Ikabod. Die regstellende regters van daardie klugspul sal so nimmer as te nooit ‘n Blanke gelyk gee nie, met die gevolg dat die hele regsproses uiteindelik aan die willekeur van ‘n klomp politieke agterryers uitgelewer is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.