Phiyega moet summier afgedank word

Die geskorste nasionale polisiekommissaris Riah Phiyega. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die geskorste nasionale polisiekommissaris Riah Phiyega. Foto: Werner Beukes/SAPA

AfriForum dring daarop aan dat lt.genl. Riah Phiyega, geskorste nasionale polisiekommissaris, summier – en sonder ʼn goue handdruk – afgedank word.

“Ons hoop dat die parlementêre portefeuljekomitee na aanleiding van die Claassen-kommissie se verslag oor Phiyega se geskiktheid om haar amp te beklee, sal aanbeveel dat sy summier afgedank word,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid. “Phiyega is ’n verleentheid vir die blou uniform en het nooit verdien om haar amp in die polisie te beklee nie.”

Volgens Cameron behoort die verslag komende Donderdag deur die portefeuljekomitee bespreek te word.

Cameron is van mening dat Phiyega ’n groot rol gespeel het in die afbreek van die Suid-Afrikaanse Polisiediens en dat daar verskeie skandale onder haar leiding gebeur het, onder meer die 34 myners wat in die tragiese Marikana-slagting oorlede is:

• Phiyega het in Augustus 2013 vir lt.genl. Bethuel Mondli Zuma as provinsiale kommissaris van Gauteng aangestel. Sy aanstelling moes later teruggetrek word omdat hy vir strafregtelike oortredings ondersoek is.
• Phiyega is self in 2013 vir regsverydeling aangekla toe sy lt.genl. Arno Lamoer gewaarsku het dat hy ondersoek word. Lamoer is kort daarna in hegtenis geneem vir onder meer korrupsie, bedrog, geldwassery en regsverydeling.
• Phiyega het tydens die Marikana-ondersoek valse getuienis gelewer en was ook by die konstruksie van verdere valse getuienis betrokke. Hiermee het sy die polisie se etiese kode oortree.
• Phiyega het geen ondervinding in polisiëring of bestuur nie.
• Phiyega het geen legitimiteit binne die polisie nie.

Die Burgerlike Sekretariaat vir Polisiediens bepaal dat die persoon wat as nasionale polisiekommissaris aangestel word die nodige kennis, ondervinding en kwalifikasies moet hê.

“Indien die permanente aanstelling van die nasionale polisiekommissaris nie op meriete en sonder enige politieke bymotiewe gedoen word nie, kan dit die polisie se legitimiteit intern en ekstern in die wiele ry,” het Cameron bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Andrea Mammes ·

Ek stem saam maar sy moes nooit in die eerste plek die pos aanvaar het nie… sy is in die diep kant ingegooi en Pres Zuma wat haar aangestel het, het net eenvoudig sy hande gewas van die spulletjie en haar in die pos gehou. Miskien was die afbreek van die polisie die eintlike agenda?

Annie ·

Stop haar salaris .. sy het nooit die pos of salaris verdien nie

Brie-brie ·

Ja ek stem saam, sy moes al lankal afgedank gewees het. Hierdie sloer ook nou al lank en sy trek lekker salarisse.

GES ·

Moet sy nie miskien ook die vol salaris wat sy ontvang het terwyl sy bolletjies by die huis gerol het ook terug betaal nie ???

Johannes van Staden ·

ASB gaan nou ! ! Hoeveel mense moet nog vir die vrou se sy is onbevoeg ….as jy nie weet dat jy nie weet nie ….dan maak mens soos die vrou

Johan ·

Gee haar ‘n eenrigting kaartjie Siberie toe, die laaste robot regs in die verste noordelike hoek..!!!

John ·

?… en so hou dieselfde storie aan en aan. Wie was voor haar daar, en voor hom… en wie is nou in die pos… en wie kom na hom…

Manie ·

Dit is n ou taktiek van die BEE aanstellings. Nie bevoeg om die werk te doen en wil dan loop met miljoene in die bank. Laat sy gaan soos in onmiddellik sonder enige salaris of uitbetaling

GES ·

Sy kan nou seker ook aanspraak maak op opleiding (tong in die kies) aangesien sy nie bevoeg is nie om die werk te doen??

Lomari ·

My ma is in die polisie en het die vrou in persoon ontmoet en weet julle daardie vrou het net opgestaan vir dit wat reg is, so kry jou feite reg voor jy begin klippe gooi.

Johanna Botha ·

JUST GO ! ! ! Nie almal kan verkeerd wees dat die vrou onbekwaam is nie. Ons almal weet as jy siek is moet jy behandeling kry ….maar watse behandeling ….dis waar kundigheid , kennis en erfaaring inkom. So sy kon opgestaan het vir wat reg was maar sy was nie kundig om die regte besluit te neem en dit tot uitvoering te bring……dis ook hoekom die wiele afgekom het in haar tyd …Marikana is die beste voorbeeld van haar onvermoee !

Maria Van Dieweeck ·

Korrek Johan, in my wereldtjie werk dit ook so. Sou die bg weer n afstammeling wees van JZ? Of is daar net ‘iets’ in n naam?

Johann Marx ·

As EK aansoek doen vir ‘n pos doen die maatskappy wat die pos adverteer ‘n “bevoegdheidsbepaling” VOOR hulle my die pos aanbied. Hulle stel my NIE eers aan, en skors my dan vir 2 jaar met volle salaris en byvoordele….terwyl hulle “wonder” of ek geskik is vir die pos nie…..en ‘n ander jakatrak ‘n “acting fee” betaal om die werk te doen terwyl hulle “wonder” nie!! Ek sê maar net…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.