Piehl se fietsmaat steeds onder verdowing

Jéan du Preez is ernstig beseer toe ’n motor hom en André Piehl Saterdag getref het. (Foto: Verskaf)

Jéan du Preez (60), die fietsryer wat saam met André Piehl deur ʼn sportnutsvoertuig raakgery is, is steeds onder verdowing in die hospitaal en aan ʼn ventilator gekoppel. Hy is ernstig beseer toe die motor hom en Piehl Saterdag getref het.

Du Preez, direkteur van Elite Forklift Rental in Johannesburg, het ʼn gebreekte skeen- en kuitbeen, gebreekte ribbes en ʼn gekraakte werwel. Een van sy longe het ná die voorval platgeval en hy het ook verskeie vleeswonde aan sy arms en bene. Piehl is in die ongeluk dood.

Maroela Media het vroeër berig dat die bestuurder van die Porsche Cayenne wat die fietsryers op die R512 naby Lanseria in Gauteng getref het, aanvanklik in hegtenis geneem, maar sedertdien vrygelaat is. Die bestuurder was na bewering onder die invloed van drank.

Du Preez en sy vrou, Illinda, het drie seuns en twee kleinkinders. Daar is ook ʼn derde kleinkind op pad.

Volgens sy seun, Simeon (30), is sy pa al sowat 20 jaar ʼn kranige bergfietsyer en ʼn algehele adrenalienverslaafde wat gek is oor enigiets wat wiele het. Hy is ook ʼn visjagter.

Die gesin hou nou moed en bid dat God hul pa sal genees.

“Ons vat dit maar dag vir dag. Ons probeer net kalm bly aangesien ons niks aan sy toestand kan verander nie.

“Ons is vol vertroue dat God hom sal deurtrek. Ons het ook ʼn groot ondersteuningsnetwerk. Daar is baie mense wat vir ons boodskappe stuur en vir ons bid.”

Simeon sê hulle hoop dat die dokters sy pa nog hierdie week van die ventilator kan afhaal indien alles goed verloop.

“My ma praat met hom terwyl hy onder verdowing is. Sy moedig hom aan om te veg en sê dat daar baie mense is wat vir hom wag om volkome te herstel en dat ons hom liefhet.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanR

En waar is die bestuurder en sy erg beskadige Porche Cayenne nou? Gaan hierdie opeindig, en soe lank vat as die ongeluk in Pretoria-Noord waar ‘n mannetjie in ‘n klomp motorfietsryers vas gejaag het in sy duur motor. Ek dink in baie van die sake is dit ‘n geval nie van “what you know” maar “who you know!”

Skappie

Jean, mag onse Liewe Jesus jou heeltemal gesond maak, sodat jy weer by jou gesin kan wees.Sterkte met die beterskap, en ook sterkte aan jou gesin.

AndréF

Ons kan net vir hom en sy gesin bid. Ons dien almal n groot God

Marius

Nou hoe word iemand wat ‘n persoon doodgery het daarmee weg? Geen hof verhoor. Hy word net vrygelaat.

melaney

Ek sal baie verbaas wees indien die persoon verantwoordelik vir hierdie ongeluk aan die pen sal ry. Feit dat hy nie toegesluit was nie, sê vir my hy het klaar iemand oorreed om die saak in sy guns te swaai. Dit is maar hoe sake in SA deesdae gaan.