Piepklein skool sluit eindelik ná regsgeding

Hoërskool Uitzig tussen Ravensmead en Elsiesrivier in die Wes-Kaap sal binnekort sluit. (Foto: Twitter)

Ná ʼn uitgerekte regsgeding wat uiteindelik in die appèlhof gaan draai het, het dié hof nou beslis dat ʼn piepklein Wes-Kaapse skool met minder as 100 leerders en net drie onderwysers wel gesluit mag word.

Die beheerliggaam van die Afrikaansmedium Hoërskool Uitzig tussen Ravensmead en Elsiesrivier het hom as ʼn laaste uitweg tot die appèlhof gewend in ʼn poging om die Wes-Kaapse departement van onderwys se besluit om die skool te sluit, te stuit. Dít nadat die hooggeregshof vroeër beslis het die departement se besluit in 2017 om die skool te sluit, was geldig en in die beste belang van die leerders.

Nadat die skool egter ʼn aansoek om verlof tot appèl direk aan die appèlhof gerig het, moes die skool oopbly totdat die aansoek aangehoor is. Die appèlhof het beslis daar is geen redelike vooruitsig op sukses in die appèlsaak nie en die aansoek is met koste van die hand gewys.

Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR vir onderwys, sê die jongste hofbeslissing is weer eens ʼn bewys daarvan dat haar besluit om die skooltjie te sluit geregverdig is. Sy meen Tony Ehrenreich, voormalige Cosatu-sekretaris in die Wes-Kaap, en die skoolbeheerliggaam het weens persoonlike en politieke redes die regsgeding so ver gevoer en nie omdat dit werklik in belang van die skool se leerders is nie.

Die Wes-Kaapse onderwysdepartement het in 2017 besluit om Hoërskool Uitzig te sluit weens die dalende leerdertal, die “algehele toestand van verval” waarin die hoofgebou verkeer, asook voortdurende vandalisme en diefstal by die skool. “Boonop is die leerders se prestasies uiters swak; die skool se slaagsyfer in 2018 was net 15,4%,” sê Schäfer. Omdat daar so min leerders in die skool is, kwalifiseer die skool net vir drie onderwysposte – dus moet drie onderwysers 91 leerders in vyf verskillende grade en agt verskillende vakke onderrig.

Schäfer sê sy is al gevra hoekom die departement nie bereid is om die skool op te knap en te herstel nie. “Weens die klein getal leerders, die skraal kans dat dit sal toeneem, die ernstige toestand van verval, die feit dat die wagte wat ons aangestel het te bang is om die skool te bewaak, dat die onderwysers bang is en dat daar twee hoërskole binne ʼn kilometer van dié skool is, sal dit irrasioneel en onverantwoordelik wees om geld te bestee om ʼn nuwe skool te bou wat tot R60 miljoen sal kos, om 91 leerders te akkommodeer.”

Schäfer sê noudat die appèlhof die aansoek om verlof tot appèl geweier het, sal sy met die distrikbeamptes van die gebied vergader en regsadvies inwin oor die volgende stappe wat gedoen sal word om die skool te sluit en die skool se leerders na ander skole oor te plaas.

“Ons kan nie toelaat dat individue met persoonlike vendettas en agendas voortgaan om ons leerders en gemeenskappe as gyselaars aan te hou nie. Ná ʼn jarelange uitgerekte en duur hofgeding, waarin daar bevind is dat leerders net die hofaansoeke steun vir politieke doelwitte eerder as ʼn behoefte om in die klaskamer te wees, hoop ek dat die hofbeslissing nou objektiewe duidelikheid oor die saak gee.”

Schäfer sê sy glo die leerders van Hoërskool Uitzig sal nou uiteindelik die vlak van gehalte onderwys kry wat hulle verdien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

John ·

Dit is duidelik dat die naam, Uitzig, die vlieg in die zalf is…. waarom dit geen geld en aandag kry nie… te veel kolonializme…. hoewel dit skynbaar nou ‘n Kleurlingskooltjie blyk te wees met Afrikaanz as taal. Die land gaan gebuk onder ‘n kroniese siekte wat uiteindelik tot selfvernietiging ly…

JohanL ·

Ek is nie van die Kaap nie en ken dus nie die area nie. Maar ‘n vinnige soek op onse neef Google wys dat daar4 skole naby mekaar is in daardie area nl St Andrews, Cravenby, Ravensmead en Uitzig.

Nou is my vraag wat is die taal van onderrig by die 4 betrokke skole? Hoe vol is die 3 ander skole? Watter skole is staatskole en watter is privaat?

Hoekom is daar so min leerders in Uitzig?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.