Pierneef-skilderyskandaal: Man in hof

Die Pierneef-skildery wat in die premierskantoor gehang het.

ʼn 42-jarige man moet Dinsdag in die Bloemfontein-landdroshof verskyn in verband met die sogenaamde Pierneef-skilderyskandaal.

Die skildery van ʼn Oos-Vrystaatse berglandskap deur die kunstenaar JH Pierneef het in Maart 2018 uit Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, se eertydse premierskantoor in Bloemfontein verdwyn – glo nadat hy dit aan ʼn werknemer met wie hy op baie goeie voet is gegee het. Die skildery behoort aan die staat.

Ao. Lynda Steyn, woordvoerder van die Valke, het gesê die verdagte sal in die hof verskyn op aanklagte van diefstal en korrupsie kragtens die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad, die oortreding van art. 9 van die Wet op Vrederegters en Kommissarisse van Ede, die aflê van valse verklarings in ’n beëdigde verklaring en die oortreding van artikel 32 (13) van die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne (Wet 25 van 1999) waarvolgens geen persoon ’n erfenisvoorwerp mag verwoes, beskadig of verander nie.

Die skildery is kort nadat dit verdwyn het deur ʼn afslaer gewaardeer. Die waarde word op sowat R8 miljoen beraam. Volgens Steyn is ʼn saak geopen en het die Valke dit later begin ondersoek waarna beslag gelê is op die skildery by die afslaer.

Daar is vroeër berig dat Magashule die skildery aan Ricardo Mettler gegee het. Mettler het aan die webblad Daily Maverick vertel dat hy per abuis die skildery tussen Magashule se private besittings geplaas het toe laasgenoemde sy premierskantoor ontruim het, en dat Magashule die skildery toe aan hom gegee het. Mettler het gemeen dis maar net ʼn eerlike fout, dis al.

Daar is ook ʼn ander weergawe van gebeure, berig Daily Maverick. Dit is naamlik dat ʼn sakeman van Bloemfontein navraag gedoen het oor die waarde van die skildery, dat ʼn kunskenner die skildery as staatseiendom herken het, en dat die hele mandjie patats toe uitgekom het.

Dr. Roy Jankielsohn, DA-leier in die Vrystaat, het vroeër gesê die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het die geleentheid om beslissend op te tree en Magashule en Kie. te vervolg in verband met die beweerde diefstal van die skildery.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Daniel Pieter Schoeman

Dit is al daai eerike fout wat gemaak is dat ons land is waar ons is (Laat ek n eerlik fout maak sit ek dadelik sonder werk)

Johan

Maak ‘n eerlike fout en sluit vir Ace toe en met ‘n eerlike fout, verloor die sleutel

Snowball

Party is so glibberig hulle gly opwaarts. Eerlik is ‘n woord wat net eenvoudig nie met sekeres in een sin pas nie.

Grassie

As ‘n mens na die besonderhede in die berig kyk lyk dit asof ou Eish die skildery gegaps en aan iemand gegee het om te gaan verkoop, dus ‘n steler en ‘n deler. Maar ek vermoed net die deler gaan aangekla word. Ek het al lankal my vertroue in die onpartydigheid en regverdigheid van ons regstelsel verloor.

Dries

Bid jou aan. Wanneer ander mense hulle werksplekke verlaat vir ‘n nuwe werk, of om af te tree, word hulle omtrent deur sekuriteit uit begelei om seker te maak hulle vat nie items wat nie aan hulle behoort nie. Maar sommige mense is seker bo die wet…