Pierre Korkie: ‘Ek is lief vir jou en die kinders’

'n Argieffoto van Pierre Korkie en sy gesin. Foto: Gift of the Givers

‘n Argieffoto van Pierre Korkie en sy gesin. Foto: Gift of the Givers

Yolande Korkie het Dinsdag tydens ʼn mediakonferensie gesê sy en haar man het tydens hulle laaste oomblikke saam, mekaar omhels waarna hy gesê het: “Ek is lief vir jou en sê vir die kinders ek is lief vir hulle.”

Yolande het die media toegespreek nadat Pierre se oorskot vroeër vanoggend by die Waterkloof-lugmagbasis in Pretoria aangekom het. “Ek het iets ander gevisualiseer, hy wat my in sy arms vashou, en sy sagte stem. Daar was vanoggend intense emosies van verlange. Ons sal hom nooit fisies weer by ons hê nie maar in ons harte sal hy nooit doodgaan nie.” Yolande het gesê sy is egter dankbaar dat hulle sy liggaam terug in Suid-Afrika kon kry.

Volgens Yolande is sy dankbaar vir die tyd wat sy nog saam met Pierre gehad het nadat hulle op 27 Mei 2013 in Taiz, Jemen ontvoer is. Yolande is in Januarie vanjaar vrygelaat. “Ek het agt maande saam met hom gehad. My kinders het nooit totsiens gesê nie. Voor my vrylating het ons mekaar vasgehou. Hy kon in daardie stadium nie meer hoor nie.

Op ʼn vraag aan Yolande of sy spyt is oor die besluit om Jemen toe te gaan, het sy geantwoord: “Niemand kan ooit spyt wees nie. Ons het saam met mense gelewe wat niks het nie. Dit is die Here se wil. Ons kan vrae vra oor hoekom dit gebeur het maar wat gaan ons bereik? Wat is die boodskap wat ons wil los? Mens kan nie deur haat iemand terugbring nie. Ons vergewe onvoorwaardelik alles wat gebeur het. Dit is die boodskap wat die wêreld nodig het.”

Yolande het aan verslaggewers gesê haar gesin het op 6 Desember 2009 in Jemen aangekom nadat hulle reeds voorheen die land besoek het. “My man het ʼn hart gehad vir arm mense. Die eerste keer wat ons daar was, is ons verswelg deur die geweldige armoede en behoefte.”

Volgens Yolande het sy en haar kinders Pierre se gunstelingkos gemaak en hulle trek sy ou T-hemde aan. “Ons sal sy nalatenskap lewendig hou. Ek het geleer dat daar potensiaal in elke persoon is. Hy [Pierre] het potensiaal gesien in elke persoon en kon dit uit hulle trek. Ons het by hom van vergifnis geleer.”

Daar is tydens die mediakonferensie bekend gemaak dat Yolande beplan om ʼn boek te skryf oor hulle gesin se ervarings. Pierre se gedenkdiens sal voorlopig Vrydag om 10:00 in Bloemfontein plaasvind. Dié diens sal oop wees vir die publiek waarna ʼn private diens en begrafnis sal plaasvind.
Korkie en die Amerikaanse fotojoernalis Luke Somers is Saterdagoggend dood na ʼn mislukte poging om hulle van Al-Kaïda-militante te bevry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.