Pierre Korkie: ‘Ons is platgeslaan’

'n Argieffoto van Pierre Korkie en sy gesin. Foto: Gift of the Givers

‘n Argieffoto van Pierre Korkie en sy gesin. Foto: Gift of the Givers

Die Suid-Afrikaner Pierre Korkie se familie het gesê hulle is platgeslaan deur die nuus dat hy tydens ʼn mislukte reddingspoging doodgemaak is.

“Ons is platgeslaan maar ek weet julle almal is ook platgeslaan,” het Yolande, Korkie se vrou, in ʼn SMS-boodskap aan Imtiaz Sooliman, stigter van Gift of the Givers, gesê. Sooliman het die boodskap ontvang terwyl hy besig was om joernaliste te woord staan tydens ʼn mediakonferensie in Johannesburg.

Sooliman het gesê hy het nog nie kontak gemaak met Yolande nadat hy die nuus oor Korkie se afsterwe gehoor het nie. “Ek het haar nog nie geskakel nie. Ek kan nie. Nie in haar toestand nie,” het hy gesê kort voor hy die SMS van haar af ontvang het.

Die Amerikaanse ambassade het ʼn Suid-Afrikaanse onderhandelaar in kennis gestel dat daar fotografiese bewyse is dat Korkie dood is. “Die Suid-Afrikaanse onderhandelaar in Jemen het gesê hulle het foto’s van Korkie se liggaam….maar ons wil sy liggaam sien,” het Sooliman gesê.

Korkie en ʼn Amerikaanse fotojoernalis Luke Somers is vroeg Saterdagoggend dood nadat Amerika se spesiale magte ʼn lugaanval uitgevoer het in die suidooste van Jemen. Volgens Sooliman kan niemand die blaam dra vir Korkie se dood nie, aangesien die Amerikaanse regering moontlik onder druk was om sy burger te red. “Mens kan niemand hiervoor blameer nie. Mens kan nie hulle beskuldig of blameer nie. Dit is net jammer dat dit gebeur het.”

President Barack Obama het intussen in ʼn verklaring gesê die reddingsoperasie was nodig aangesien Somers se lewe in gevaar was. Hy het verwys na ʼn video-boodskap wat Al-Kaida Donderdag vrygestel het en waarin hulle gedreig het om Somers binne 72uur te vermoor. “Ek het die reddingspoging goedgekeur nadat daar betroubare intelligensie ontvang is en ʼn operasionele plan in plek was,” het Obama gesê.

Pierre en Yolande is op 27 Mei 2013 in Taiz, Jemen ontvoer. Yolande is op 10 Januarie vrygelaat nadat Gift of the Givers haar vrylating onderhandel het. Korkie se ontvoerders het vroeër ʼn losprys van $3 miljoen (ongeveer R32 miljoen) vir sy vrylating geëis.

Korkie was minstens drie keer vanjaar lewend gesien. Hy is die eerste keer in April vanjaar gesien toe hy en ʼn gyselaar van Sierra Leone van Abyan na Albaydah geskuif is. Hy is op 28 Mei ʼn tweede keer gesien tussen Albaydah en Marib. Korkie is in Junie die laaste keer gesien tussen Marib en die Shabwa-provinsie.

Klik hier vir vorige berigte oor die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wonder ·

Mens kan nie “Gift of the Givers” vertrou nie! Baie tragies. Dikwels al gerapporteer dat dit gebeur en dat hul onbetroubaar is. Sterkte aan die Korkie-familie.

Hentas ·

Jammer,wonder dis nie gift of the givers wat vir korkie se dood aanspreeklik gehou kan word nie lees die berig reg, or are you blind or dom

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.