Pierre Korkie: ‘Ons kies om te vergewe,’ sê Yolande

'n Argieffoto van Pierre Korkie en sy gesin. Foto: Gift of the Givers

‘n Argieffoto van Pierre Korkie en sy gesin. Foto: Gift of the Givers

Yolande Korkie het haar stilte gebreek nadat haar man, Pierre, Saterdag tydens ʼn mislukte reddingspoging in Jemen doodgemaak is.

Yolande het gesê sy het haarself baie vrae gevra nadat sy die nuus gehoor het en dat sy besef het mens het ʼn keuse. “So vandag besluit ons om te vergewe. Ons besluit om lief te hê. Ons kies om verheug te wees in die herinneringe van Pierre en hom lewendig te hou in ons harte. Ons eer Pierre se nalatenskap en gee aan God die eer vir sy lewe en afsterwe,” het Yolande in ʼn verklaring gesê.

“Ons besluit om in die omhelsing van God te leef – tot die dag wat die tyd kom om herenig te word. Hoewel die pyn ons tans oorweldig, kies ons om te glo dat dit ook verby sal gaan.” Die verklaring is namens Yolande en haar twee kinders uitgestuur.

Sy het gesê haar hart breek vir haarself, haar kinders, hulle familie en die mense wat saam met hulle die pad gestap het. Volgens Yolande is Pierre vir 558 dae gyselaar gehou. “Hoewel ons na 228 dae in vlees geskei is nadat ek vrygelaat is, het ek tot op die einde in gees by hom gebly. Op 6 Desember 2014 is my beste vriend en metgesel en goddelike pappa weggeskeur van my en die kinders,” het die verklaring gelees.

“Die smeltoond van 19 maande was onverbiddelik en rooiwarm. Dus moes ek regtig hard en lank gedink het vir ʼn toepaslike benadering in lig van sy pyn.” Yolande is op 10 Januarie vrygelaat en het op 13 Januarie na Suid-Afrika teruggekeer nadat Gift of the Givers haar vrylating help bewerkstellig het.

Yolande het gesê sy het die afgelope jaar meer gedoen as wat sy in 10 jaar gedoen het. Sy het gesê die familie waardeer die “spesiale mense” wat God op hul pad gestuur het en het aan Hom die eer gegee dat hy hulle “hande, verstand en harte versterk het”.

“Ons kinders, Peter en Lize. Ek prys God vir julle. Julle is die braafste. Gift of the Givers – dr Imtiaz Sooliman, Anas al Hamati – Ek salueer julle vir julle passievolle toewyding en uithouvermoë. Geen struikelblok was te groot nie. Julle het my ʼn tweede kans gegee om by ons kinders te wees. Die stamme van Jemen – ons ken nie julle name nie maar julle bereidheid om julle lewens te waag verdien lof.”

Yolande het die Suid-Afrikaanse regering bedank en het gesê die familie kan nie eers begin om hul dankbaarheid uit te spreek vir die ondersteuning, raad en beskikbaarheid nie. Sy het mense regoor die wêreld wat die vir die familie gebid het bedank. Sy het ook spesifiek die Amerikaanse ambassade bedank vir die repatriasie van Pierre se liggaam. “Dit word baie waardeer en is die mees spesiale geskenk. Ek besef daar is soveel vrae wat steeds onbeantwoord is. Vergewe my asseblief as ek nie nou probeer om dit te antwoord nie.”

“Pierre sal Maandag aan ons teruggestuur word; ons sal tyd saam hom spandeer en totsiens sê en ‘n soort van berusting bereik.” ʼn Gedenkdiens sal later die week vir Pierre in Bloemfontein gehou word gevolg deur ʼn private begrafnisdiens.

Klik hier vir vorige berigte oor die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Pieter Kruger ·

Net ‘n ware kind van God kan hierdie verklaring in soveel opregtheid uitreik. Ek eer die Here saam met julle! Hy was ons oefenmaat, spanmaat, koshuis maat. ‘N voorreg om hom te ken.

Ek bid regtig uit my hart die volle vertroostng wat Jesus reeds vir julle voorberei het.

Pieter Kruger.

Pieter Kruger ·

Net ‘n ware kind van God kan hierdie verklaring in soveel opregtheid uitreik. Ek eer die Here saam met julle! Hy was ons oefenmaat, spanmaat, koshuis maat. ‘N voorreg om hom te ken.

Ek bid regtig uit my hart die volle vertroostng wat Jesus reeds vir julle voorberei het.

Pieter Kruger.

Elizabeth ·

Pieter Kruger – voorwaar, nes jy sê! Ons kan leer by die familie. Sterkte, aanvaarding en vrede vir hulle.

Charles ·

Jakoos, as jy nie self n kind van ons Here is nie sal jy nie weet waaroor dit gaan nie. God het ook sy Seun aan n kruis laat sterf. Kry gerus vir jou n Bybel en begin dit lees. Daarin sal jy alles vind. Sterkte en Jesus se genade vir jou.

pop ·

VERGEWE. Nouja dans ek seker n bose mens, want ek kan nie sommer sulke dinge vergewe nie. Klink al te mooi, die stroperige bollie, maar die kinders sit sonder n pa en ouers sonder n seun.

susan ·

Matt 11:6. En gelukkig is elkeen wat nie aan My begin twyfel nie. Jakoos lees ook Jes 55:8-9.” My gedagtes is nie julle gedagtes nie en julle optrede nie soos Myne nie. Soos die hemel hoer is as die aarde so is My optrede verhewe bo julle optrede en My gedagtes bo julle gedagtes” so moenie eers probeer verstaan hoekom God dinge laat gebeur nie. Die wat in Hom glo en enduit volhard sal beloon word. Glo onvoorwaardelik.

Elize (Oberholzer) Perrin ·

Ek het so rukkie saam met Pierre landloop gedoen vir Kovsies: ‘n mooi mens. Sterkte aan die gesin en familie . Aan diegene wat dit geniet om negatiewe en kwetsende kommentaar te lewer: dis julle reg, maar so onnodig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.