Pierre Spies finaal klaar met rugby: ‘Die beste is nog op pad’

Pierre Spies (Foto: Facebook via Pierre Spies)

Die Bulls- en Springbokrugbyspeler Pierre Spies het Sondag amptelik sy uittrede uit rugby aangekondig.

Spies het in ʼn verklaring op Facebook gesê dié besluit kom ná talle gerugte die afgelope twee maande nadat hy deur Vern Cotter, Jake White se opvolger, by Montpellier vrygestel is.

Die Springbok-agtsteman, wat sy buiging vir die Blou Bulle in 2005 gemaak het, sê hy het besluit om finaal uit te tree nadat hy besin het oor sy “familie, geloof, toekoms en doel in die lewe”.

“Ek kon aanhou rugby speel het, maar ek het besluit om my loopbaan te eindig omdat ek glo dis die regte tyd vir die volgende hoofstuk van my lewe. Daar is baie dinge wat my gemotiveer het om dié besluit te maak. Ek glo ek kan ʼn verskil maak in die lewe, en ek het ʼn passie daarvoor om my geloof te deel, die jeug te bemagtig en te bemoedig en om om te sien na die minderbevoorregtes in ons gemeenskappe,” het hy in sy verklaring gesê.

Spies het gesê dié oomblik is van die begin van elke rugbyspeler se loopbaan onafwendbaar.

“As ʼn professionele rugbyspeler het ek al baie oor dié dag nagedink. Dit is ʼn oomblik waarvoor elke speler bestem is, maar tog kan jy nie beheer hoe en wanneer dit in jou lewe moet gebeur nie. Daar was die afgelope twee maande baie gerugte oor my rugbyloopbaan en die pad vorentoe. Hierdie verklaring bevestig egter my uittrede uit alle vorme van rugby. Dit was ʼn wonderlike reis en een wat ek vir die res van my lewe sal onthou, maar dit is die einde van ʼn hoofstuk in my lewe.”

Spies het gesê talle rolspelers het sy lewe en loopbaan beïnvloed sedert die 53 toetse wat hy vir die Springbokke gespeel het. Hy het baie van dié mense in sy verklaring bedank.

“Aan my vrou, Juanné – jy was wonderlik van die begin tot die einde; met ons kinders, ons persoonlike lewe en deur my te ondersteun en vir my te bid deur die goeie en slegte tye. Deur rugby het ons baie gesien, en ek kan nie wag vir ons volgende hoofstuk saam nie.

“Aan my pa wat ek op 19 verloor het. Hy was my grootste mentor, ondersteuner en rasieleier. Sy motivering was onvoorwaardelik en onophoudelik, maak nie saak wat die uitkoms van my insette was nie. Hy het my ʼn liefde vir God geleer, om anders te wees in die manier waarop ek dinge aanpak, en om na God se stem en Sy wil te luister. My susters – Johanni en Steffani – wat saam met my gewerk het en my ondersteun en bemoedig het.”

Spies het ook talle van sy afrigters deur sy loopbaan uitgesonder. Hy het onder meer verwys na sy afrigters tydens sy skooljare én later as deel van die Bulle in Pretoria.

Hy het spesifiek ook verwys na sy jare op die veld met ʼn Springboktrui aan.

“Dankie aan Jake White in wie se span ek ʼn Bok geword het en wat baie tradisies na die Bok-omgewing teruggebring en laat herleef het. Aan Peter de Villiers wat ʼn ongelooflike werk gedoen het om ʼn spankultuur op te bou. Aan Heyneke Meyer in wie se span ek my laaste toets gespeel het. En natuurlik ook aan Annelee Murray van die Bok-span wat ʼn rots vir my was en boonop ʼn ongelooflike mens is.”

Spies het ook sy medespelers deur die jare bedank vir hul vriendskap en toewyding.

“Aan al die wonderlike spelers met wie ek deur die jare aantrekkamers, hotelkamers, vliegtuie en etenstafels gedeel het – daar was ongelooflike oomblikke van blydskap, tevredenheid, seer en teleurstelling. Dankie dat julle elkeen my lewe verryk het, ek is oneindig dankbaar.”

Die oud-Springbokspeler het gesê hy sien uit na die nuwe hoofstuk van sy lewe, en dat hy nie van die toneel gaan verdwyn nie. “Ek sien uit na die volgende hoofstuk wat vol opwinding gaan wees – ek glo die beste is nog op pad. God seën elkeen van julle.”

Sy toekomsplanne is nog nie bekend gemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

jannie ·

jy was een van die heel grotes in rugby mag jy geseen wees in alles wat jy aanpak voorentoe in jou lewe

thea ·

ek gaan jou mis, maar jy is n yster en jou oorlede pa sal baie trots op jou wees
jy was en is n held
gaan goed met jou en jou gesin
God seen jou

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.