Drie gewapende mans het Dinsdagmiddag glo die gewilde Springbok en Blou Bul-kaptein Pierre Spies se luukse gastehuis, 12 on Brecher, naby Loftus Versveld beroof.
Kapt. Colette Weilbach, ʼn woordvoerder van die Brooklyn-polisiestasie, het Woensdag aan Maroela Media gesê ʼn 25-jarige tuinier het by die gastehuis gewerk toe hy ʼn geraas gehoor en gaan ondersoek instel het.
“Hy is glo by die hek deur drie gewapende rowers oorval wat hom gedwing het om hulle by die gastehuis in te laat,” het Weilbach gesê.
Die aanvallers het hom glo binne die huis gedwing om op die grond te bly lê en sy oë toe te hou. “Hy het só bly lê totdat hy seker was die rowers is weg, waarna hy hulp ontbied het.”
Drie plasma-televisies en ander elektroniese ware is gesteel. Die tuinier is ongedeerd en was tydens die voorval alleen by die gastehuis.
Die polisie ondersoek ʼn saak van besigheidsroof. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Die polisie versoek enigiemand met meer inligting om die Sunnyside-polisiestasie by 012 422 3662 of Crime Stop by 08600 10111 te skakel.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
1 Kommentaar
Vreemd dat die tuinier nie geskop en geslaan en moontlik vir dood agtergelaat is nie.