Piet Byleveld praat reguit oor verskeie hoëprofielsake

Piet Byleveld. Foto: Esté Meyer-Jansen

Piet Byleveld. Foto: Esté Meyer Jansen

Die baasspeurder Piet Byleveld het Donderdagaand tydens ʼn vraag- en antwoordsessie by die Atterbury-teater sy mening gegee oor verskeie hoëprofielsake, waaronder die Oscar Pistorius-verhoor en die raaiselagtige moord op Anika Smit.

Byleveld het tydens die geleentheid onder meer gepraat oor bekende sake waarby hy betrokke was, hoe hy sommige van die sake aangepak het, en die psige van ʼn misdadiger. Verskeie bekendes, waaronder oudmin. Pik Botha, Pieter Smit, Magda van Biljon, Leon Schuster, Kurt Darren, Fredi Nest, Althus Theart en Elizma Theron was in die gehoor, en het saam met ander lede van die gehoor die geleentheid gehad om Byleveld met vrae te peper.

Dit was veral Byleveld se mening oor verskeie hoëprofielsake wat mense in die gehoor na hul asem laat snak het. Op ‘n vraag aan Byleveld oor sy mening rakende die Oscar Pistorius-verhoor, het Byleveld gesê hy is van mening dat Pistorius vir Reeva Steenkamp met voorbedagte rade doodgeskiet het en dat die ondersoek van die toneel slordig hanteer is, wat belangrike getuienis verlore laat gaan het.

Byleveld is ook deur die gehoor uitgevra oor die moord op Inge Lotz. Sy is in Maart 2005 in Stellenbosch vermoor en haar destydse kêrel Fred van der Vyver is in verband met die moord in hegtenis geneem. Hy is egter in 2007 vrygespreek en het daarna ’n eis teen die polisie ingestel. Byleveld het gesê hy en Lotz se pa het ʼn verstandhouding waarvolgens hy nie in die openbaar uitlatings oor die saak sal maak nie.

Op ʼn vraag aan Byleveld oor die raaiselagtige moord op Anika Smit, het hy gesê hy is van mening dat iemand wat baie na aan Smit was, die moord gepleeg het. “Besitlikheid is ʼn lelike ding”, het hy gesê, maar hom weerhou daarvan om verder uit te brei.

Smit (17)  is op 10 Maart 2010 onder raaiselagtige omstandighede vermoor. Sy is in haar slaapkamer in haar pa se huis in Theresapark verkrag, waarna haar keel gesny en haar hande afgesny is. Haar hande is nooit gevind nie. Haar voormalige kêrel, Nico Venter, is aanvanklik van haar moord aangekla, maar die saak teen hom is later laat vaar omdat hy nie met die moord verbind kon word nie. Die Pretoria-Noord-landdroshof het intussen verlede jaar gelas dat ʼn geregtelike ondersoek gedoen moet word na die moord op Smit. Die staat gaan onder meer haar pa, Johan Smit, en Venter dagvaar om te getuig.

Byleveld het hoofopskrifte gehaal nadat hy Sheldean Human se moordenaar vasgetrek het.  Sheldean het op 18 Februarie 2007 vermis geraak nadat sy en ʼn maatjie saam met die moordenaar, Andrew Jordaan, van ʼn park in die omgewing teruggekeer het na ʼn kommune in Pretoria Tuine.

Byleveld het Donderdagaand op ʼn vraag oor hoe lank dit gevat het om Jordaan te kry om te erken dat hy die moord gepleeg het, geantwoord: “36 minute.” Byleveld het onder meer verduidelik dat hy Jordaan uitgevra het oor of hy die twee dogtertjies se onderklere kon sien toe hy hulle op die parkie se swaaie geswaai het, wat hom in staat gestel het om ongerymdhede in Jordaan se weergawe van die gebeure uit te wys. Jordaan het kort hierna erken hy het Sheldean vermoor voor hy die lyk aan Byleveld gaan uitwys het.

Byleveld het in 2010, na ʼn loopbaan van bykans 40 jaar diens aan die gemeenskappe van Suid-Afrika, afgetree. Sy loopbaan spog met ʼn 99% sukseskoers waarvan die land se wreedste misdadigers suksesvol geïndividualiseer, opgespoor, vervolg en gevonnis is. ʼn Biografie oor sy lewe, Byleveld: Dossier van ʼn baasspeurder deur Hanlie Retief, het in 2011 die lig gesien.

Op ʼn vraag deur oudmin. Pik Botha, oor hoe Byleveld reken hy sy ervaring en kennis kan aanwend om die Suid-Afrikaanse polisiediens te help om hul standaard van ondersoek te verbeter, het hy geantwoord: “Dis iets wat ek baie graag sal wil doen, en waarna ek beslis sal ondersoek instel. Dit sal vir my ʼn voorreg wees om my ervaring terug te ploeg.”

Klik hier om foto’s van die geleentheid te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

ladybug ·

Ek dink oud Brig. Byleveld moet ingespan word by die polisie kolleges om die nuwe rekrute te onderrig, dit sal beslis ‘n beter tipe polisielid na vore bring, want deesdae se rekrute dink mos hulle weet alles as hul uit die kollege kom en het GEEN respek vir rang nie!

Gerhard Bezuidenhout ·

Pik Botha moet nie hier met sy ou dreunbors kom vrae vra nie . Hy het mos geweet wat gaan kom toe hulle onder n wip met n dop gevang is deur die ANC.

HEVW ·

Ja, Gerhard op hierdie gebied is daar beslis oorgenoeg werk waarmee Piet Byleveld hom tot sterfdag kan besig hou.

Anna-Marié Potgieter ·

Wonderlike idee om Piet Byleveld terug te kry in die mag.
Sy kennis is van onskatbare waarde en sy opleiding moet by die hoogste rang in die SAP begin en dan sypel sy kennis en ondervinding outomaties deur na die laagste rang.
Is daar nie nog sulke mense soos Piet wat in elke Departement na vore kan tree en hom of haar self aanbied nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.