Pieter van der Westhuizen nie vervolg na kerkskietery

Pieter van der Westhuizen en sy vrou Antoinette. Foto: Facebook

Pieter van der Westhuizen het uit selfverdediging opgetree toe hy twee rowers in ’n kerk in Centurion doodgeskiet het en hy gaan nie deur die polisie vervolg word in die verband nie.

Van der Westhuizen, broer van die oud-Springbok Joost van der Westhuizen, het op 26 Julie verlede jaar twee rowers gedurende ’n gewapende rooftog by ’n kerk in Wierdapark doodgeskiet.

Volgens Ulrich Roux, Van der Westhuizen se regsverteenwoordiger, het die polisie se geregtelike doodsondersoek om te bepaal of Van der Westhuizen onregmatig opgetree het, tot die gevolgtrekking gekom dat hy uit selfverdediging opgetree het. Sy optrede het na alle waarskynlikheid voorkom dat onskuldige kerkgangers seergemaak of vermoor is deur die gewapende rowers.

Geen klagtes is teen Van der Westhuizen aanhangig gemaak nie en die polisie se dossier is gesluit. “Ons kliënt is verlig dat hierdie beproewing tot finaliteit gebring is en dat hy met sy lewe kan voortgaan. Verder wil hy die SAPD bedank vir hul ywerige werk om hierdie ondersoek af te handel.”

Van der Westhuizen het twee rowers doodgeskiet tydens ’n erediens by die Querencia Bedieninge-gemeente in Wierdapark.

Maroela Media het vroeër berig die verdagtes het gedurende ’n erediens by die Querencia Bedieninge-gemeente in Escourtstraat ingestorm. Die verdagtes het deur gemeentelede se persoonlike besittings gekrap terwyl een van die verdagtes ʼn vuurwapen teen die pastoor, Kobus Erasmus, se kop gehou het. Erasmus is ook herhaaldelik met die vuurwapen oor die kop geslaan; hy is nie ernstig in die voorval beseer nie.

Van der Westhuizen het ʼn gelisensieerde vuurwapen by hom gehad waarmee hy toe op die verdagtes in die kerk losgebrand het. Twee van die verdagtes is op die toneel dood terwyl ʼn derde verdagte daarin kon slaag om te vlug.

Van der Westhuizen het ʼn polisie-agtergrond en het ook omvattende opleiding in die hantering van ʼn vuurwapen ondergaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Aries ·

Hierdie man verdien n medalje omdat hy 2 rowers dood geskiet het wat nooit weer die kans sal kry om ander onskuldige mense te roof en te vermoor nie. Dit was net uiters onverantwoordelik van die media om n fotos te plaas van die man wat uit selfverdediging opgetree het want hierdie rowers se makkers en familie sal definitief weerwraak wil neem

Grassie ·

Ek is bly die storie is afgehandel, nou kan die man rus vir sy siel kry. Darem ‘n pragtige soetlief wat die man vir hom bymekaar gemaak het. Gelukkige man.

Chantel ·

Ek sou so hoop ja. Sterkte vir julle, dis maar ‘n traumatiese gebeurtenis om deur te werk.
Sommer so van die os op die jas, sjoe sy seun lyk darem maar baie na hom.

Kattebol ·

‘n ondersoek was onnodig. Dit was van die eerste oomblik af duidelik selfverdediging en beskerming van onskuldiges. Om ‘n persoon aan ‘n “ondersoek” te onderwerp wanneer jy verdedigend optree teen onregmatige betreding van jou eiendom of kerke, met wapens nogal, is absurd.

Ilze ·

Wonderlike nuus. Met selfverdediging behoort daar mos nie vervolging te wees nie.

Stefan ·

Hoekom moes dit so lank vat om tot hierdie duidelike gevolgtrekking te kom?

VaalDonkie ·

Die man moet nooit weer vir ‘n bier hoef te betaal nie.

Tino ·

Welgedaan!

Wens dat meer van die huidige polisie mag so vaardig en ywerig kan wees om die reg op te hou soos Pieter

Danie ·

Dit word myns insiens ‘n bietjie onderbeklemtoon dat die rowers wel “gewapende rowers” was….nogtans ‘n goeie en regte uitkoms.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.