Pietermaritzburg-stadsbestuurder se skorsing verwelkom

Pietermaritzburg

Politieke partye in die Msunduzi-munisipaliteit (Pietermaritzburg) het die skorsing van stadsbestuurder Sizwe Hadebe verwelkom. Hulle beskryf dit as ʼn positiewe stap wat die raad se toewyding tot goeie bestuur demonstreer. Die besluit om die stadsbestuurder te skors was eenparig tydens ʼn spesiale raadsvergadering Donderdagmiddag. Hy kon nie die vergadering bywoon nie.

Hadebe was vanjaar in omstredenheid gehul ná ʼn klankgreep uitgelek het waar ʼn stem, vermoedelik syne, opdrag aan ʼn ondergeskikte gee om ʼn kandidaat aan te stel wat lae punte tydens ʼn onderhoud behaal het. Die opname, wat wyd versprei is, het tot betogings deur ANC-lede en alliansievennote gelei en hulle het versoek dat hy geskors moet word. Sommige raadslede het versoek dat hy afgedank moet word.

Volgens burgemeester Themba Njilo bied die skorsing die geleentheid om ʼn reeks bewerings teen Hadebe te ondersoek. “Die raad sal die ondersoek bystaan solank [Hadebe] nie op die perseel is nie en almal, veral beamptes, sal getuienis kan gee en bystand kan lewer tot die ondersoek.”

Die ondersoek word gelei deur Sithembele Mhlanga van Mhlanga Attorneys en sal bewerings van wangedrag, insluitend onwettige aanstellings en onwettige toeken van kontrakte, ondersoek. Die burgemeester het versoek dat inwoners kalm sal bly en gesê raadslede wil ʼn skoon administrasie hê.

Rienus Niemand van die African Christian Democratic Party (ACDP) het gesê hulle voel reg het geskied deur die skorsing. Hulle verwag dat nog onthullings gemaak sal word tydens die ondersoek.

Sibongiseni Majola, koukusleier van die DA, het gesê hulle is verlig oor die skorsing en sal bewyse indien om seker te maak dat stappe gedoen word teen Hadebe. “Ons hoop die ondersoek sal deursigtig wees en almal die geleentheid bied om getuienis in te dien, want die stad se reputasie is daarvan afhanklik. Ons is ʼn hoofstad in KwaZulu-Natal en moet dus streef na hoë standaarde van goeie regering.”

Volgens die DA-leier sal sy party ook strafregtelike aanklagte oorweeg teen die stadsbestuurder. ANC-raadslede het gesê die skorsing onderstreep die party se toewyding tot goeie regering.

ʼn Waarnemende stadsbestuurder sal na verwagting volgende week aangewys word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lunsriem ·

Nou sal die LUR van plaaslike bestuur in kzn, seker n onbevoegde kader met n duistere diensrekord benoem om as stadsbestuurder waar te neem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.