Pik onthou as liefdevolle pa, oupa

Pik Botha en sy sangerseun, Piet. Foto: Hein Waschefort via Facebook

“Ek is trots op die bydrae wat hy gelewer het tot die demokrasie in Suid-Afrika; die enigste ander opsie was ʼn burgeroorlog,” het Roelof Botha, oudminister Pik Botha se oudste seun, Vrydagoggend kort ná sy pa se dood gesê.

Botha (64) sê hy is ook trots op sy pa se bydrae tot die beëindiging van die Grensoorlog en die vreedsame onafhanklikwording van Namibië. “Dié land se adjunkpresident, Nangolo Mbumba, het reeds vanoggend erkenning aan my pa se rol gegee.”

Hy vertel hoewel sy pa hom en sy sibbes, Piet (63), Anna Hertzog (59) en Lien Botha (56), met “redelik vrye teuels” grootgemaak het, het hy dit van kleins af by hulle ingeprent om “nooit, nooit te vergeet om hul Bybel te lees nie”. Dis raad wat hy vandag nog volg.

Sy pa se beste karaktertrekke was volgens hom om kennis te versamel en te onthou. Sy geheue, sy skerpsinnigheid en dinamiese versekerdheid is eienskappe wat vir hom uitstaan. “En hy kon luister na iemand anders se standpunt en altyd regverdig optree.”

Botha sê hy kan aan geen slegte eienskappe van sy pa dink nie. “Hy het net te hard gewerk en te min tyd saam met ons spandeer.”

Pik Botha se kleindogters Jessica (links) en Robynne (regs) by hul tannie Lien Botha, Pik se jongste dogter. Foto: Facebook

“Hy was fabulous en baie slimmer as ons almal,” is hoe sy kleindogter Jessica Botha hom onthou. “Hy was hoogs intelligent.”

Sy vertel as ʼn oupa was hy baie liefdevol en het altyd baie raad oor die lewe gehad. “Veral oor hoe kort dit is en hoe belangrik liefde en goeie gesondheid is. Hy was baie lief vir die natuur, veral in sy laaste jare.”

Jessica sê vir hulle kleinkinders was Botha nie “die politikus Pik” nie, maar “ʼn oupa met goeie lewensraad”.

Sy seun die sanger Piet sê hy het die voorreg gehad om ten spyte van ʼn vol toerprogram die laaste weke van sy pa se lewe by hom deur te bring. “Dis vreeslik hartseer, maar ek is bly ek kon hier bo by hom wees, want ek woon in die Kaap.”

Piet vertel hy kon sien sy pa begin swak raak. “Ek dink hy het die laaste paar maande geweet sy tyd raak nou min.”

Hoewel sy pa nie ʼn laaste wens uitgespreek het nie, het hy steeds daarvan gehou om sinvolle debat te voer, vertel Piet, en enduit daarop aangedring dat sy naasbestaandes mense respekteer en goed aan ander doen.

“Hy was ʼn man met ʼn besonderse intellek en ʼn unieke soort mens. Hy het altyd vrede probeer maak en ʼn lewe gehad wat baie min anders ouens gehad het. Hy het ʼn incredible lewe gehad.”

Piet vertel sy pa het reeds met sy nooienstoespraak in die Volksraad in 1970 in die moeilikheid beland omdat hy ʼn probleem met die hiërargie in die Nasionale Party gehad het. “Al wat hy ooit wou probeer doen, was om vir almal in die land ʼn goeie lewe te probeer kry.”

Met verwysing na die skikking wat gelei het tot die eerste demokratiese verkiesing in 1994, sê Piet: “Dis nou jammer die politieke ding het verkeerd uitgewerk, maar daar was nie ʼn ander oplossing daai tyd nie.”

Roelof Frederik Botha is op 27 April 1932 in die Rustenburgse distrik as seun van die skoolhoof Frikkie Botha en as agterkleinseun van die volksleier en ouderling in die Gereformeerde Kerk Thomas Dreyer gebore.

Nadat hy met Helena Joubert getroud is, het hy hom in 1953 by die departement van buitelandse sake aangesluit.

In 1974 het hy Suid-Afrika se permanente verteenwoordiger by die Verenigde Nasies geword en ʼn jaar later is hy aangestel as Suid-Afrika se verteenwoordiger in die VSA. Op 1 April 1977 het hy minister van buitelandse sake geword en tot en met die eerste demokratiese verkiesing op sy 62ste verjaardag op 27 April 1994 in dié amp gedien.

Ná die dood van sy eerste vrou in 1998 is hy getroud met Ina Joubert, wat hom oorleef. Hulle het die laaste jare op ʼn kleinhoewe in Heatherdale, Pretoria, gewoon waar Botha sy liefde vir die natuur kon uitleef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Anton ·

Rus in Vrede ou grote! Respek en eer aan jou in alle ewigheid

Hanna ·

Oom Pik sal met teerheid en in liefde onthou word. Hy was ‘n groot man, ‘n finominale man en ‘n ware gentleman.
Rus in vrede my oom.

Msp ·

RUS IN VREDE Pik Botha. Baie sterkte vir sy geliefdes, vriende en familie in hierdie tyd.

ES ·

‘n Man wat ‘n vol lewe gely het en baie moeilike besluite moes neem. RESPEK vir u en sterkte aan die familie in hul tyd van beproewing.

Elizabeth Sibanyoni ·

Die Grootste held volgens my mening van die ou regume. Al is jy weg oom Pik sal jy vir altyd in onse harte en SA GESKIEDENIS LEWE MET DIE GROOTSTE EER EN RESPEK. R.I.P. SLAAP SAG. ???

Oud Recce ·

Dit is jammer dat skinnerstories – waarvan daar geen bewyse is nie – by mense posvat.
Hierdie tipe kommentaar word nie geplaas wanneer die persoon lewe nie maar eers wanneer die persoon gesterf het – seker omdat die persoon hom dan nie self kan verdedig nie.
Mens moet eerder stilbly indien jy nie iets goed van iemand kan se nie. Dit word gese deur Salomo. ‘n Wyse man. Die tong wat so skerp is soos die swaard kan mense wat na aan ‘n geliefde geleef het en gesterf het ook wond.
Bekommer jou eerder oor jou eie nalatenskap vir jou familie en vriende en werk daaraan. Dit kan uiteindelik baie vir jou familie en vriende beteken.

Cherokee ·

Ó… laat ons jou stelling toets. Die boek ‘Volksverraad’ deur PJ Pretorius, was sowat 5 jaar gelede reeds omstrede. Soveel jare gelede is de waarheid onbetwis reeds vertel.

Wanneer so ‘n persoon homself nie kan verdedig nie sê jy? En dìt nadat PJ Pretorius bereid was om die hoogste howe in die land te face omdat hy bewyse gehad het vir sy bewerings?
Dìt is egter nie die enigste basis waarop my kritiek gebaseer is nie. Ek het self ‘n politieke agtergrond en daar is gesigte op die voorblad van genoemde boek van mense wie ek ontmoet het. Ek het as klein skoolkind met ‘n republiek-vlaggie in die hand op ‘n perron gestaan en luister na Oom Charlie Swart (Pres CR Swart) die eerste staatspresident van Suid Afrika met republiekwording en sy inhuldiging. En weet jy waarmee het hy gery? Nie met ‘n Rolls Royce, BMW of Merc nie, maar in ‘n kondukteurswa agter ‘n trein! Daarin het hy gery vanwaar die land hom toegejuig het.

Skinnerstories noem jy dit, met ‘n lofsanger wat dit ‘wyse woorde’ noem. Kry jou feite agtermekaar. Feite soos dat Pik Botha gesê het dat hy nooit lid was van die ANC nie maar slegs vir hulle gestem het, terwyl iemand met genoeg inligting in ‘n ander berig bevestig dat Pik Botha lid was van die ANC.

Mag Pik Botha in vrede rus en mag sy agtergeblewenes geseënd wees.

Se net ·

Wil net noem dat sy eerste vrou Helena Bosman was en nie Joubert soos gemeld

Special Forces ·

Helder oordag of in die Pikswart nag…. ons werk altyd (direk of indirek) vir die Geldmag

Willem ·

Maroela, en vandag is julle weer o so polities korrek. So mens mag nie sê dat ‘n era verby is nie?

Cherokee ·

Niks anders Sandra, as om oningeligtes daarop te wys om ingeligte kommentaar te lewer.
Veg teen wat ons nou het, het my nie slegs arbeid gekos maar ook eie finansies. Ek het nie omgegee om as voorsitter van ‘n reggesinde politieke party, eie voertuig en eie petrol te gebruik om bestuurslede na vergaderings te neem nie. Ek het nie omgegee om persoonlik uit eie sak ‘Stem NEE’ plakkate te koop en self op te rig nie. Ek het nie omgegee om uitgeskel te word as ‘n Hertzogiet nie. Ek gee egter om as ek na dit alles en na waar die land nòu beland het, gevra te word wat ek probeer bereik. Ek probeer net mense oorreed om oë oop te maak en ooglopende feite raak te sien.

BOERmetnRoer ·

E geen simpatie nie! Regte veraaier gewees! Hy is een van die redes waarom ons sot waar ons vandag sit!?

Karolis ·

Ek het iewers gelees: “Pik Botha: A good man working for a bad government” wat volgens my ‘n korrekte aanhaling is.

anton ·

Cherokee, daar is en was en sal nog altyd mense wees wat blind is en blind wil wees!!!
Volgens my, as mense se oë nou nog nie oopgegaan het nie, is kanse goed dat dit nooit sal gebeur nie.
Daar is steeds baie meer veraaiers onder ons volkie as wat ons eintelik besef.
Jammer om te sê maar ek het nie veel simpatie met die ”meeste” van ons volk nie want die meerderheid het ons in die gemors laat beland wat ons vandag in sit!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.