Pikitup hoof glo met ‘spesiale verlof’

Pikitup (Argieffoto)

Pikitup (Argieffoto)

Pikitup het Vrydag bevestig dat Amanda Nair, die maatskappy se omstrede besturende direkteur, met “spesiale verlof” is, maar het ontken dat die verlof iets te doen het met die munisipale werkersvakbond Samwu se bewerings teen haar.

Nair is verlede jaar deur ʼn hof onskuldig bevind op aanklagte teen haar, maar Samwu het onlangs nuwe bewerings teen haar gemaak en geëis dat sy uit haar pos verwyder word. Onbevestigde berigte het vandeesweek die ronde gedoen dat die maatskappy ingegee het onder druk van Samwu en Nair uit haar pos verwyder het.

Jacky Mashapu, Pikitup se woordvoerder, het dit Vrydag ontken en gesê Nair is op spesiale verlof geplaas om mediese redes. “Sy het Dinsdag met haar verlof begin en sy sal op 3 Mei weer terug op kantoor wees,” het Mashapu gesê. “Persone wat andersins beweer het ons nie eens gebel om hul bewerings te bevestig nie. Amanda is geregtig op verlof net soos enige ander werknemer. Hierdie verlof het niks te doen met die ondersoek teen haar wat tans aan die gang is nie.”

Nair is verlede jaar in hegtenis geneem vir die beweerde diefstal van maatskappyselfone wat glo onregmatig aan haar en haar kinders uitgereik is. Sy is egter deur ʼn hof onskuldig bevind.

Bewerings teen haar het egter weer opgevlam toe Pikitup-wekers op 9 Maart op ʼn onbeskermde staking gegaan het en geëis het dat hul salarisse verhoog word en Nair afgedank word. Na aanleiding van Samwu se bewerings is ʼn 30-dae onafhanklike ondersoek van stapel gestuur om die bewerings rondom Nair te ondersoek.

Matshidi Mfikoe, ʼn Johannesburgse burgemeesterskomiteelid vir omgewing en infrastruktuurdienste, het gesê hulle sal die nodige stappe doen na aanleiding van die uitslag van die ondersoek. Hy het bygevoeg dat Pikitup onder Nair se leiding vir die eerste keer in 12 jaar ʼn skoon oudit gekry het.

Samwu het Donderdagaand gesê die vakbond het die salarisaanbod wat Pikitup aangebied het “in beginsel aanvaar”, maar moet die presiese ooreenkoms nog finaliseer.

Lees alle vorige berigte oor Pikitup op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

My opinie ·

Ek dink dis net ‘n haat veldtog teen Amanda Nair deur ‘n klimp skobbejakke wat nie hul sin kon kry nie. Sy is rééds onskuldig bevind deur ‘n hof. Sy doen hasr werk reg. Pikit up het onder haar leiding die eerste keer in 12 jaar ‘n skoon oudit gekry. Hoekom haar aanhou vervolg en toegee aan belaglike, onregmatige eise?

Cherokee ·

Maar die ondersoek teen haar is blykbaar weer ingestel en mý opinie is dat dat vakbonde die land vinniger bankrot gaan maak as wat Zuma, Malema òf hul bondgenoot die DA, dit ooit sal regkry.

Piet Snot ·

Opinie, ek stem.
Lyk of sy haar werk reg doen – ek raai sy’t ‘n paar lui manne vasgevat en hulle hou nie daarvan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.