Pikitup-lid doodgeskiet ná Samwu met lyfwagte bots

Pikitup (Argieffoto)

Pikitup (Argieffoto)

ʼn Lid van Pikitup is Vrydagmiddag in Johannesburg se middestad doodgeskiet en ʼn tweede het kritieke beserings opgedoen ná lede van die vakbond Samwu met vakbondamptenare se lyfwagte gebots het.

Nonceba Mbilini, provinsiale sekretaris van Samwu, het aan ANA gesê lede van die South African Municipal Workers Union (Samwu) het by die vakbond se hoofkantoor in Johannesburg saamgekom om terugvoer te kry oor die stand van die organisasie asook die vordering wat die vakbond maak sedert die maandlange onbeskermde staking in April opgeskort is.

Mbilini het gesê die lede het met “ongeïdentifiseerde” sekuriteitspersoneel gebots by die gebou se ingang. Dié veiligheidspersoneel is in Mei privaat gehuur om die vakbond se nasionale ampsdraers te beskerm.

Sy het bygevoeg die veiligheidswagte, “wat soos uitsmyters lyk”, het bystand ontbied toe die onderonsie vererger het.

“Ons lede wou in die gebou ingaan om die vergadering by te woon,” het Mbilini gesê. “Die uitsmyters het hulle egter fisies gestop en geteister. Die uitsmyters het uiteindelik hul vuurwapens uitgehaal en lukraak in die skare in geskiet.”

Volgens haar is ʼn vakbondverteenwoordiger van Roodepoort geskiet en hy is op die toneel dood. ʼn Pikitup-werknemer is gewond en na ʼn hospitaal geneem.

Sy het die vakbond se nasionale ampsdraers, spesifiek die president Pule Molalenyane, daarvan beskuldig dat hulle die werkers se bydraes misbruik deur privaat sekuriteit te reël wat teen daardie selfde werkers draai. “Ons lede betaal die salarisse van hierdie mense, en tog weier hulle om aanspreeklik gehou te word vir hoe hulle bydraes spandeer word,” het Mbilini gesê. “Die maatskappy het in Mei R700 000 ontvang net om Pule Molalenyane en ander beamptes te beskerm.”

Paul Tlhabang, streeks-adjunksekretaris van Samwu, het Mbilini se uitlatings benadruk en “sekere individue” daarvan beskuldig dat hulle die vakbond gekaap het vir “skandalige redes”. “Hierdie saak kom nou al ʼn lang pad. Lede is moeg vir individue wat die organisasie plunder,” het hy gesê.

Tlhabang het gesê Samwu werk onder ʼn “wolk van vrees” sedert sy nasionale ampsdraers “die vakbond gyselaar hou” nadat hulle persone verwyder het wat glo meer as R140 miljoen van Samwu gesteel het. Adjunk- sekretaris-generaal Moses Miya, ʼn regsbeampte Surprise Mnisi en Zukiswa Ntsiko, ʼn finansiële administrateur, is op borgtog vrygelaat en staan tereg op aanklag van bedrog en diefstal.

Samwu het vanjaar sy president [Molalenyane] en eerste adjunkpresident John Dlamini en nasionale tesourier Portia Lindi verwyder ná ʼn besluit wat deur die nasionale uitvoerende komitee se vergadering in Maart geneem is. Maar hulle het almal in hul posisies aangebly.

Tlhabang het gesê vakbondlede het tot die besef gekom dat die nasionale ampsdraers wil hê Samwu moet ineenstort sodat hulle hul eie vakbond op die been kan bring. “Dit is vreeslik om hier te werk onder sulke omstandighede, sedert die uitsmyters hier is. Mense word sommer afgedank en geskors sonder behoorlike prosesse,” het hy gesê.

Tlhabang het gesê hy het die veiligheidswagte versoek om die lede in die gebou toe te laat, en was verbaas toe hy oor die skietery ingesluit is. Hy het gesê die polisie kon inhegtenisnemings maak nadat die lede geskiet is. “Daar is vyf of ses persone wat in hegtenis geneem is.”

Die polisie was nie dadelik beskikbaar vir kommentaar nie.

Jacky Mashapu, woordvoerder van Pikitup, het gesê as werkgewer betreur hulle die afsterwe van ʼn werknemer, maar hulle is nie in ʼn posisie om kommentaar te lewer nie, aangesien dit ʼn vakbondsaak is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Wat-ek-lees ·

Wat jy saai sal jy maai. Dalk is iemand al moeg vir die alewige stakings ?

Lance ·

Johannesburg se stadsraad se kontrak met die maatskappy was nooit reg gestruktureer en dis die rede hoekom hulle kan staak soos hulle wil ….weereens geen verantwoordbaarheid nie ….so tipies !

jaco ·

die vakbond se bestuur het sekuriteitswagte om hulle teen oproerige lede van dieselfde vakbond te beskerm. so dis SAMWU teen SAMWU. Vreemd…

Johanna Botha ·

Ek was in jhb tydens die staking ….ek kon my oe nie glo nie….. die mense het net geen plan as iets skeef loop nie. Daar was letterlik berge vullis op die strate om nie eers te praat van die reuke nie. Ek konnie wag om weer in die skone Kaap te kom nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.