Pikitup-onderhandelings val weer vas

Pikitup-werknemers wat deel is van die vakbond Samwu op 8 April 2016 buite Samwu House in Johannesburg se middestad (Foto: ANA)

Pikitup-werknemers wat deel is van die vakbond Samwu op 8 April 2016 buite Samwu House in Johannesburg se middestad (Foto: ANA)

Die staking deur Pikitup-werknemers duur voort ondanks die stad Johannesburg se poging om ʼn ooreenkoms te bereik met Samwu by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA).

Honderde lede van die SA Municipal Workers’ Union (Samwu) het Vrydagmiddag weer buite Samwu House in Johannesburg se middestad betoog, vullis in die strate gegooi en betonasblikke gebreek toe hulle nuus ontvang het dat die onderhandelings vasgeval het. Metropolisiebeamptes was op die toneel.

Die werkers het aggressief geword toe hulle vir kommentaar genader is en het nie die media verwelkom nie. ʼn Paar lede wat ʼn ent weg gestaan het, het gesê hulle het gehoor die onderhandelings is tot Saterdag uitgestel. Paul Tlhabang, adjunk-streeksekretaris het Vrydag nie sy selfoon beantwoord nie.

Jacky Mashapu, woordvoerder vir die vullisverwyderingsmaatskappy, het gesê Pikitup gaan nie meer kommentaar lewer nie, aangesien die saak nou in die hande van die onderhandelaars en die stad is.

Matshidi Mfikoe, burgemeesterskomiteelid vir omgewingsake en infrastruktuurdienste, was ook nie beskikbaar vir kommentaar nie, aangesien sy en haar woordvoerder in die vergaderings by die KVBA betrokke was.

Minstens 4 000 Pikitup-lede wat verbonde is aan Samwu, het op 9 Maart met die onbeskermde staking begin. Hulle eis salarisverhogings van tussen R6 000 en R10 000 per maand en dat die besturende direkteur, Amanda Nair, afgedank moet word.

Dit is die vierde en langste staking deur Pikitup sedert November 2015 oor dieselfde kwessies, alhoewel ʼn hof Nair intussen onskuldig verklaar het op aanklagte van korrupsie.

Die stad het Woensdag gesê hy hoop om teen die einde van die week ʼn ooreenkoms te bereik met stakende werkers.

Die staking veroorsaak toenemende kommer oor die impak op die gesondheid en omgewing deur vullis wat nie verwyder word nie. Pikitup betaal al sedert die staking begin het, ongeveer 30 dae gelede, R1 miljoen per dag sodat privaat kontrakteurs die vullis kan verwyder en vir veiligheidsdienste om die tydelike werkers te begelei.

Lees alle vorige berigte oor Pikitup op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Mielie ·

Hierdie mense verdien nie n werk nie, hulle saai verwoesting en soos dit vir my lyk wil hulle in elk geval nie werk nie, dink mos geld kom maklik. Maak waansinnige eise, wat hulle weet onmoontlik bereik gaan word, word betaal al werk hulle nie, in my hele lewe nog nooit so n gemors in die land gesien nie. Eendag wanneer hulle werkloos is en daar bitter min werksgeleenthede is, sal hulle bid vir die dae toe hulle kon werk maar nie wou nie, dan sit Julius met sakke vol geld, soos ou Robert, wag maar dit kom

Ivan ·

Mielie,
Jy slaan die spyker op sy kop. Ek weet nie waste toekoms my kleinkinders in die land gaan he nie.

Anna-Marie Venter ·

Wat ek nie kan verstaan nie is waarom het hierdie mense einde Maart volled salarisse gekry?
Wie sal werk as jy betaal word om nie te werk nie?????????

En die ergste is dat daar blatant aan ons gese word dat ons as kliente moet betaal vir hierdie diens wat nie gelewer word nie?????????

Stop hulle salarisse en dank hulle af daar is baie wat werk soek.

Veritas ·

Dit gebeur wanneer die een party te papbroekig is om sy punt hard en duidelik te stel. Pikitup se onderhandelaars het hulself in ‘n hoek vasgeverf met hul toegewings gedurende die vorige onderhandelings. Nou het hulle weer hul lamsakkigheid (vrees) gewys met dié dat hulle die ONWETTIGE stakers se salarisse betaal het. Pikitup het die reg aan hulle kant en moes die stakers summier ontslaan het. Daarna kon hulle, vanuit ‘n magsposisie, onderhandel het. Die stert swaai weereens die hond en sal aanhou swaai totdat dit afgekap word.

Jef ·

Alles word duurder in SA en die mense moet ook hulle gesinne onderhou en alle rekeninge betaal nogal logies dat hulle salarisverhoging vra, maar nie op so manier nie.
Laat hulle loop sonder salaris en gebruik die geld om alle reperasie en skoonmaak kostes te dek.
Wie nie op n menslike normale manier wil praat nie moet maar op die baie harde manier leer maar die probleem is dat hulle dan die kriminele pad gaan volg en dan ons mense gaan besteel.

Wat-ek-lees ·

Pragtige foto’s. Eg Afrika met rommel wat oral rondlê. Dis mos nou ons almal se land.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.