Pikitup vra hulp met sekuriteit

Pikitup-werkers het vullisdromme in die strate omgekeer (Hoek van Jeppe- en Von Brandisstraat in Johannesburg se middestad) Foto: Siphelele Dludla/ANA

Pikitup-werkers het vullisdromme in die strate omgekeer (Hoek van Jeppe- en Von Brandisstraat in Johannesburg se middestad) Foto: Siphelele Dludla/ANA

Johannesburg se vullisverwyderingsmaatskappy, Pikitup, het ʼn beroep gedoen op vrywilligers uit die veiligheidsektor om hom by te staan om sy werkers se veiligheid te verseker.

Maroela Media het vroeër berig skote is Woensdag naby Nasrec op twee Pikitup-vullistrokke geskiet, wat die twee voertuie laat bots het. Die bestuurders van die twee trokke, wat ontplooi is om vullis te verwyder te midde van ʼn onbeskermde staking deur Pikitup-werkers, het van die toneel gevlug.

Duisende Pikitup-werkers staak al die afgelope vier weke. Hulle eis salarisverhogings en die onmiddellike bedanking van die maatskappy se besturende direkteur, Amanda Nair.

Pikitup het in ʼn verklaring vrywilligers uit die veiligheidsektor, insluitend lede van buurtwagte en gemeenskapspolisiëringforums, versoek om hulle by te staan sodat hulle kan voortgaan om vullis in die stad te verwyder. “Dit sal Pikitup se werkers en veiligheidsbeamptes help om onwettige vullisstortings op te ruim en vullissakke in die stad weg te ry,” het die maatskappy gesê.

Sedert die staking begin het, bestee Pikitup R1 miljoen per dag om privaatkontrakteurs te huur om vullis te verwyder en veiligheidsbeamptes te betaal wat hulle vergesel.

Pikitup het gesê enige vrywilligers wat graag wil help kan deur sy webtuiste met die maatskappy in verbinding tree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Anna-Marie Venter ·

Ons betaal ten duurste vir vuilisverwydering – ons kry nooit afslag nie.
En hierdie stakers het sonder veiligheids beskerming die vuilis rond gestrooi hulle kan dit nou sonder beskerming optel ook. Geen simpatie.
Kyk rond en sien dat die asblikke almal op dieselfde plekke stukkend is agv hoe hulle vragmotors die vuilis uitskud.

Andrea van Vuren ·

Pikitup vra vrywilligers om te kom help. Liewe genade, wié sal dit ooit waag om daar op te daag? Jy is nog dood voordat jy die eerste stuk rommel opgetel het!

Linda Cloete ·

Vir die afgelope jare kry ons geen tot net gedeeltelike diens van Pikitup a.g.v. stakings, maar ons moet elke maand ten volle betaal. Tog, wanneer Pikitup ‘n diens vir sekuriteit benodig, soek hulle vrywilligers, m.a.w. wil nie vir die diens betaal nie. Daar was nog geen aanduiding van Pikitup se kant dat hulle inwoners sal vergoed vir die gebrekkige diens nie. Ek moes vandag iemand R100 betaal om ons vullis weg te neem. As veiligheid nou so ‘n groot probleem geword het, is dit tyd dat die weermag kom help. Die situasie is nou ook besig om ‘n humaniteitskrisis te word en benodig drastiese optrede.

Andre ·

Geen simpatie nie maar Amanda Nair moet gaan, daar stem ek met stakers saam. Laas kon sy nog volblad advertensies plaas (met Pikitup geld)toe sy van ongeruimdhede aangekla is, nou vra hulle gratis hulp maar op my rekening hef hulle steeds deiselfde fooi met geen diens.

Marous ·

Jy het die kontrak wat miljoene beloop gekry…met BEE …gaan doen jou werk …self

Ekke ·

Wat pla dit. Los dit so. Dit lyk mooi vir hulle. Ander sien dit as rommel. Hulle sien dit as konfetti. Dit is Afrika.

Sarie ·

Nou hoekom sal enige vrywilligers nou stakende vullisverwyderaars wil beskerm? Beskerm teen wie Kyk net lyk Johannesburg al. Belastingbetalers moet al vir wie weet hoe lank ander mense betaal om tog net hul vullis te verwyder. Aan die einde van die maand gaan daar beslis nie op hul munisipalerekeninge ‘n laer tarief vullisverwydering wees nie hulle sal maar net die volle bedrag moet betaal en die mense wat aangestel en betaal word om dit doen staak!! Wat ‘n grap. Pockitup het wat my betref ‘n ongelooflike groot vermetelheid om te vra dat vrywilligers hul spul stakende mense moet beskerm!!

Bertus ·

Dis nou hoogtyd om die stakers te laat gaan. Daar is baie ander wat die werk sal oorneem.
Nou moet die base praat, en die werkers luister.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.