Pikitup-werkers beseer ná onderonsie met polisie

Pikitup (Argieffoto)

Pikitup (Argieffoto)

Paramedici het sewe Pikitup-werkers behandel nadat die polisie Woensdagmiddag met rubberkoeëls op hulle gevuur het.

Lede van die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersvakbond (Samwu) het deur Johannesburg se middestad geloop en gemors en brandende vullis in die strate agtergelaat. Gedeeltes van Braamfontein moes afgesper word toe stakers na die Johannesburgse burgemeesterskantoor opgeruk het. Hulle is uiteindelik oorgehaal om om te draai.

Conel MacKay, streeksvoorsitter van Samwu, het gesê nie een van sy lede is in hegtenis geneem nie en niemand is ernstig beseer nie.

Werkers het kort ná die voorval begin verdaag toe vakbondverteenwoordigers aan hulle meegedeel het dat hulle om 16:00 met Pikitup-bestuur sal vergader. Sommige van die werkers het egter in Berthastraat agtergebly en op die musiek begin dans wat oor ʼn groot luidspreker agterop ʼn bakkie gespeel het. Die polisie het staan en toekyk.

Samwu het Maandag met die onbeskermde staking begin. Die stakers eis beter vergoeding en salarisstrukture.

Johannes Phalamashweu, voorsitter van Samwu by Pikitup, het gesê die lede wil hê die maatskappy se besturende direkteur, Amanda Nair, moet bedank, “omdat sy korrup is”.

Nair het Woensdag aan Talk Radio 702 gesê Pikitup het ʼn hofinterdik bekom om die stakers te verhoed om met hul onbeskermde staking voort te gaan.

Die stad het inwoners gemaan om hul vullisblikke binne hul eiendom te hou, om te verhoed dat die Pikitup-stakers dit kan omkeer. Die stad se leierskap sal Donderdagoggend deur die strate van die middestad loop om die skade te bepaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johann Marx ·

Ons wil nie meer Pikitup in ons woonbuurt hê nie. Ons sal ‘n privaat kontrakteur wat in ons woonbuurt bly aanstel om ons vullisdromme te hanteer. Hy kan dit doen vir minder as die helfte van wat die munisipaliteit ons vra, ons wheelie-bins sal langer hou, en die diens sal netjies en gereeld wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.