Pikitup-werkers teken Vrydag loonaanbod

Pikitup (Argieffoto)

Pikitup (Argieffoto)

Samwu het Donderdagaand gesê hy is een stap nader om ʼn salarisooreenkoms met Pikitup te teken, ná onderhandelings by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA).

Nonceba Mbilini, adjunk- provinsiale sekretaris van die SA Municipal Workers Union (Samwu), het gesê die vakbond het die salarisaanbod, wat die stad Johannesburg se vullisverwyderingsmaatskappy aangebied het, “in beginsel aanvaar”, maar “alles is nog nie gefinaliseer nie”.

Volgens Mbilini sal die ooreenkoms Vrydag omstreeks 13:00 onderteken word waarna besonderhede oor die ooreenkoms bekend gemaak kan word.

Minstens 4 000 lede van Samwu wat by Pikitup werksaam is, het op 9 Maart met ʼn onbeskermde staking begin. Hulle het salarisverhogings van tussen R6 000 en R10 000 per maand geëis. Hulle het ook geëis dat die besturende direkteur, Amanda Nair, afgedank word. Alhoewel ʼn hooggeregshof haar vrygespreek het op enige aanklag van korrupsie, is ʼn nuwe onafhanklike ondersoek ingestel ná nuwe bewerings deur Samwu.

Nadat ʼn ooreenkoms verlede Saterdagaand bereik is, is daar ooreengekom dat werkers dadelik na die werk sou terugkeer en dat Pikitup ʼn eenmalige betaling van R750 aan al sy Graad A- en B-werkers sou maak. Die werkers het Maandagoggend by hul onderskeie depots aangemeld.

Onderhandelings om die ooreenkoms op te stel, het Maandag begin. Die stad Johannesburg het Donderdag ʼn loonaanbod voorgestel wat die vakbondleiers na hul lede geneem het vir oorweging.

Lees alle vorige berigte oor Pikitup op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.