Pikkewyn-diefstalsaak weer in hof

Een van die pikkewyne by Bayworld. Foto: Verskaf

Een van die pikkewyne by Bayworld. Foto: Verskaf

Die saak teen twee mans wat daarvan beskuldig word dat hulle Buddy, ʼn driejarige pikkewyn, uit die Bayworld-oseanarium in Port Elizabeth gesteel het, is Dinsdag in die plaaslike landdroshof voortgesit.

Adrian Doman (22) en Emile du Plessis (18) het egter nie in die hof verskyn nie aangesien hulle besig is om eksamen te skryf.

Maroela Media het vroeër berig Buddy is in September uit die oseanarium gesteel toe twee mense van die parkeerterrein se kant oor die muur tot in die pikkewyndam geklim het. Veiligheidskameras het vasgevang hoe die mense selfoonfoto’s binne die pikkewynkamp neem voordat een sy hemp uittrek, vermoedelik om Buddy te vang, en hulle met hom weer terugklim oor die muur.

ʼn Groot soektog na Buddy is van stapel gestuur, maar ʼn ruk later het die twee mans se regsverteenwoordiger die oseanarium genader en gesê die skuldiges wil graag verantwoordelikheid vir die voorval aanvaar en verduidelik wat gebeur het.

Die twee mans het gesê hulle stem nie daarmee saam dat pikkewyne in aanhouding moet wees nie en hul bedoeling was om die pikkewyn te vang en in die natuur vry te laat. Hulle het nadat hulle Buddy gesteel het hom glo op Pollock-strand vrygelaat. Buddy is sedertdien nie weer gesien nie.

Doman en Du Plessis word aangekla van diefstal, oortreding van marienebewaringsregulasies en betreding. Hulle is vroeër op waarskuwing vrygelaat.

Adv. Hannelie Bakker, Doman en Du Plessis se regsverteenwoordiger, het aan die hof gesê sy moet verdere voorleggings aan die nasionale direkteur van openbare vervolging maak rakende afwentelingsprogramme.

Die saak is tot 3 Maart uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Tammy ·

Die pikkewyne was veilig en versorg. Die twee skollies het Buddy gaan steel en hom ontvoer en kamtig vrygelaat. Ek dink hulle lieg om hulleself te red van vervolging en daarom die verskoning wat hulle aanbied. Hulle het gesteel en kwaadwillg ontvoer. Hulle moet die swaarste straf moontlik kry om sodoende die wat nog sulke dade beplan heeltemal af te skrik. Kom nou, maak n voorbeeld van die twee. Ek sien uit daarna om te hoor wat hulle straf gaan wees!!!!!!!!!! Andersins kan ons maar almal rondloop en diere steel en weg neem van hulle veilige blyplek.

pieterdp ·

Die oordeel is so maklik.

Die was nou regtig net kwaijong streke. Straf hul met n jaar se vrye tyd werk . Hoke skoon maak en dies meers. Elke naweek en vakansie.

Grassie ·

Ek is bly die pikkewyn is vrygelaat. Diere hoort in die natuur, nie in gevangenskap nie.

Albert ·

Ag asb. Die swaarste straf moontlik….. Duh. Pikkewyne hoort in die see nie in hokke of kampe. Ek kan nie wag om te sien hoe jy permanent in n hok bly

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.