Pikkewyne dalk bedreig ná oliestorting in Algoabaai

Afrika-pikkewyn (Foto: WhaleWatchSA)

’n Vragskip met ’n Kroatiese vlag word in die hawe in Gqeberha (Port Elizabeth) aangehou vir ’n ondersoek nadat minstens 80 liter brandstofolie Woensdag in die see by Algoabaai gestort is.

Volgens die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsowerheid (Samsa) is hy omstreeks 13:00 van die oliestorting in kennis gestel – waarna opruimingspanne inderhaas ontbied is om die storting te probeer beperk.

Dit is vasgestel dat die olie tydens ’n brandstofinskeping by ’n ankerplek in Algoabaai in die see gestort is.

Volgens Ronnis Daniels, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Nasionale Stigting vir die Beskerming van Kusvoëls (Sanklub), dui die spoor van die oliestorting – bereken volgens voorspelde weerstoestande – aan dat dit moontlik die St. Croix-eiland kan bereik wat ʼn verskeidenheid endemiese en bedreigde seevoëlspesies huisves. Die eiland is die tuiste van onder meer 1 500 Afrika-pikkewynbroeipare.

Daniels sê trekwatervoëls by die Swartkopsriviermond kan ook in gevaar wees.

“Sanklub is altyd voorbereid op sulke krisisse en is tans op ʼn gereedheidsgrondslag geplaas om personeel en toerusting te mobiliseer om die voëls te red, te stabiliseer en dié te was wat dalk rehabilitasie benodig as hulle met die olie besmet word,” sê Daniels.

Volgens Nicky Stander, Sanklub se bewaringshoof, het die Afrika-pikkewynbevolking op die eiland sedert 2014 met meer as 70% afgeneem. In 2019 was daar 3 638 broeipare in vergelyking met vanjaar se 1 500 broeipare.

“Die afname in die Afrika-pikkewynbevolking op die St. Croix-eiland en Bird-eiland in die Oos-Kaap is kommerwekkend en seevoëls word reeds bedreig deur die gebrek aan voedsel, klimaatsverandering en siektes. Ons is uiters bekommerd oor die bykomende bedreigings van skeepvaartpraktyke in Algoabaai, wat sedert 2012 verdubbel het,” sê Stander.

Navorsing is tans aan die gang om die uitwerking wat veroorsaak word deur die toename in skeepvaart, asook die gepaardgaande uitwerking van geraas en vibrasies op die mariene lewe te bepaal.

Luidens navorsing het Afrika-pikkewyne wat voorheen met olie besmet is, laer broeisukses as dié wat nie met olie in aanraking was nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

groenboer ·

Het julle die regte gtalle daar? 80 liter olie gaan ‘n ramp veroorsaak? Dalk bedoel julle 80 000 of iets, of onderskat ek die effek van olie?

Harley Davidson ·

Een druppel olie besoedel ‘n miljoen liter water verstaan ek van die toetse wat by die WNNR gedoen is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.