Pikkewyne na oliestorting gered

Foto: ANA

Foto: ANA

Byna 100 Afrika-pikkewyne, wat deur die stigting vir die bewaring van kusvoëls, Sanccob, ingeneem is ná ʼn oliestorting, is suksesvol skoongemaak, het die organisasie Vrydag gesê.

Volgens Sanccob is die pikkewyne, waarvan 61 kuikens is, van die St Croix-eiland gered in samewerking met seebewaarders van die Addo Nasionale Olifantpark, SANParke, die Nasionale Seereddingsinstituut en die Suid-Afrikaanse sentrum vir mariene rehabilitasie (Samrec). Die oliestorting het in Algoabaai plaasgevind.

Juanita Raath, woordvoerder van Sanccob, het gesê die eerste pikkewyne is op 21 Augustus gewas en teen 25 Augustus was almal skoon. Die uitgebreide proses om die pikkewyne skoon te maak, is egter net ʼn gedeelte van die rehabilitasieproses.

“Ons moet seker maak elke pikkewyn kry sy natuurlike waterdigtheid terug, tel genoeg gewig op, is nie meer ontwater nie en slaag al ons mediese en veterinêre ondersoeke voordat hulle weer vrygelaat kan word,” het Raath gesê. “Die kuikens bly langer omdat hulle eers tot jong volwassenes moet groei voordat hulle weer vrygelaat sal word.”

Die presiese oorsaak van die oliestorting is nog nie vasgestel nie en word deur die betrokke owerhede ondersoek.

Volgens die Suid-Afrikaanse departement van omgewingsake was daar aan die begin van die 20ste eeu ongeveer een miljoen pikkewyn-broeipare in die natuur, wat gekrimp het tot die huidige minder as 25 000 broeipare aan die Suid-Afrikaanse en Namibiese kuslyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Attie ·

Stem saam met die goeie werk verrig en dis ‘n liefdesdaad duisend aan die ?

Jef ·

Baie goeie werk, dankie aan al die mense wat hulle vir n goeie daad insit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.