Pilanesberg geruk deur dood van bewaarder in leeu-aanval

Kobus Marais, ‘n wildbewaarder, het in die leeuaanval gesterf. (Foto: Verskaf)

ʼn Lid van die renosterbeskermingseenheid in die Pilanesberg-natuurreservaat is Saterdagoggend dood toe ʼn leeumannetjie hom vroegoggend tydens ʼn teenstroperypatrollie aangeval het.

Kobus Marais, ʼn hondehanteerder in die eenheid, was ʼn bekende en geliefde amptenaar by die reservaat. Hy was saam met twee kollegas op ʼn grenspatrollie in die ooste van die reservaat toe die voorval omstreeks 06:30 gebeur het.

Pieter Nel, waarnemende bewaringshoof by die Noordwes-parkeraad, sê Marais was besig om ʼn spoor vir sy hond te laat toe die leeu hulle onkant betrap het. Die hond was nie in daardie stadium saam met Marais nie.

Marais is ernstig beseer in die aanval en is op die toneel dood. Sy twee kollegas was ongedeerd en die leeu is noodgedwonge van kant gemaak.

“Kobus was altyd in die veld en geweldig toegewyd. Hy was juis die soort ou wat daardie tyd van ʼn Saterdagoggend al besig was,” het Nel gesê.

“ʼn Mens kon altyd op sy knoppie druk.”

Nel sê die voorval word ondersoek en dat daar in alle opsigte binne die veiligheidsprotokol opgetree is. Dié protokol sal hersien word om te bepaal of enige verbeterings aangebring kan word. ʼn Ondersoek na die voorval word ook gedoen.

Die leeu se oorskot is vir ontleding gestuur om te bepaal of enigiets moontlik aanleiding tot die aanval kon gegee het.

“Kobus se dood is ʼn geweldige verlies en laat ʼn groot leemte. Hy het ʼn reusebydrae gelewer tot die veiligheid in die Pilanesberg-natuurreservaat,” het Nel gesê.

Marais se vrou werk ook by die reservaat.

Verskeie bewaarders, bewaringsgroepe, lodges en lede van die publiek het reeds hul medelye betuig.

“Rus in vrede, Kobus Marais. ʼn Dapper man kyk nie meer na die renosters nie. Dankie vir jou bydrae; ons medelye aan sy familie,” het die organisasie Wildlife at Risk International op Facebook geskryf.

“ʼn Baie hartseer dag. Jou toewyding en geesdrif om te beskerm en te dien sal nooit vergeet word nie …” het nog iemand geskryf.

“Jou bydrae tot die welstand en beskerming van diere, en veral Pilanesberg se renosters, sal ʼn inspirasie wees vir almal om jou en almal wat in jou dapper voetspore volg. Ek salueer jou.”

Begrafnisreëlings vir Marais sal later bekend gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Casper ·

Dit is verskriklik hartseer maar ek dink nie daar was iets fout met die leeu nie.Hy beskerm net sy onderdane en moontlik was daar welpies.Kobus was net net op die verkeerde tyd op die verkeerde plek.Onthou ‘n leeu is ‘n wilde dier en besef nie jy beskerm hulle nie.

Chantel ·

Bitter jammer vir sy familie en vriende.
So nou ontgeld die leeu in sy natuur dit. Ek verstaan nie die mentaliteit van ons mensdom nie.
So gaan hulle elke leeu dan in die wild doodmaak net omdat hy aanval. WRAGTIG!

koos10 ·

Nee Chantel. Daar is bewyse van leeus , wat mensvreters word, want dit is ‘n maklike prooi. Ek is net so hartseer oor die leeu maar my hart gaan uit Kobus se familie, en ek glo hulle sal nie wil hê dat die leeu enige ander persoon aanval of dood nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.