Pillay steeds geskors

sars logo 2Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het Woensdag gesê sy adjunkhoof Ivan Pillay is steeds geskors. Dit nadat die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) vroeër gesê het die dispuut tussen die SAID en Pillay is opgelos.

“Die SAID wil dit onomwonde stel dat mnr. Pillay se skorsing van 21 Januarie 2015 steeds effektief is ten spyte van vandag se uitslag by die KVBA,” het die SAID in ʼn verklaring gesê. “Mnr. Pillay en die SAID het besluit om hul regte uit te oefen en die KVBA-resolusie vertroulik te hou en geen party mag in die openbaar die besonderhede daarvan bekend maak nie.”

Die SAID het wel bevestig dat die dispuut rakende Pillay se skorsing op 5 Desember “vriendskaplik opgelos” is deur bemiddeling van die KVBA. “Die resolusie is slegs van toepassing op die onbillike arbeidspraktyk-dispuut wat op 12 Desember deur mnr. Pillay aanhangig gemaak is. Dit is algemene kennis dat die skorsing van 5 Desember op 18 Desember deur die arbeidshof tersyde gestel is.”

Volgens die SAID het Woensdag se KVBA-resolusie geen invloed op Pillay se skorsing van 21 Januarie nie. Die SAID het gesê dié skorsing is steeds geldig terwyl Pillay ondersoek word vir bewerings van growwe wangedrag, onbehoorlike optrede en dat hy die organisasie se naam en reputasie in oneer gebring het. Die SAID het gesê sy ondersoek is in ‘n gevorderde stadium.

Pillay is verlede week vir die tweede keer in twee maande geskors. Pillay word daarvan beskuldig dat hy ʼn sleutelrol gespeel het in die oprig van ʼn geheime intelligensie-eenheid binne die SAID ondanks die feit dat hy geweet het dit is ongrondwetlik.

Pillay en Peter Richer, groephoof van risiko en beplanning, het die arbeidshof genader nadat hulle op 5 Desember geskors is. Richer het ʼn skikking met die SAID bereik waarna sy skorsing tersyde gestel is. Richer is egter in Januarie ook weer geskors.

Klik hier vir alle vorige berigte oor die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.