Pillay wil eie hersiening van OB-verslag vra

Ivan Pillay. (Foto: Jonisayi Maromo/ANA)

Die voormalige adjunkhoof van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het in hofdokumente aangedui dat hy sy eie, afsonderlike hersiening van die openbare beskermer (OB) se bevindings oor die geheime intelligensie-eenheid in die inkomstediens wil indien.

Ivan Pillay sê in ʼn beëdigde verklaring ter ondersteuning van die minister van openbare werke, Pravin Gordhan, se regstappe teen adv. Busisiwe Mkhwebane se bevindings dat hy in die buiteland is en met sy regspan sal vergader nadat hy op 15 Augustus na Suid-Afrika terugkeer. Hy beoog om dan sy eie omvattende hersiening aan te vra.

Gordhan het die hooggeregshof verlede week genader om ʼn hofbevel te kry wat die implementering van Mkhwebane se remediërende optrede tydelik stuit, hangende die aanhoor van sy hersieningsaansoek teen haar verslag.

Pillay sê hy steun Gordhan se hofaansoek, maar dat hy ook sy eie gaan bring, omdat Mkhwebane hom by wangedrag, wanbestuur en misdadigheid betrek.

“Ek het ʼn direkte en beduidende belang in die onderwerp van die interdik wat gevra word,” het Pillay gesê.

Hy voer aan sy belang daarby strek veel verder as dié van net ʼn blote respondent in die aansoek. Hy wil bykomende kwessies opper, anders as dié wat die minister reeds in sy hofdokumente noem.

Van dié punte sluit in die feit dat Mkhwebane min aandag geskenk het aan die inhoud van twee beëdigde verklarings wat Pillay in April en Junie vanjaar by die OB se kantoor ingedien het.

Pillay voer aan die OB se oorweging van die feite was so terloops dat sy aangevoer het dat Gordhan dit nie eens betwis het of hy nie ʼn matrieksertifikaat of graad het nie. Pillay sê hy twyfel sterk of dít reg kan wees. Hy voer aan dit sou ʼn “vals verklaring” van die minister en die SAID wees, omdat hy wél matriek geslaag het.

Gordhan het nooit bevestig dat hy nie matriek het nie, voer Pillay aan. Pleks daarvan het die minister die aangevoer dat hy, soos baie Suid-Afrikaners wat hulle lewens gewy het aan die stryd teen apartheid, nie ʼn tersiêre kwalifikasie het nie.

Pillay voer aan dit het hom nie gediskwalifiseer om ʼn pos by die SAID te beklee nie. Hy het, benewens ander kwalifikasies, ʼn diploma van die Gordon Instituut vir Bestuurswetenskap.

Hy sê voorts Mkhwebane was woedend oor sy voorleggings en het swaar gesteun op gediskrediteerde inligting, waaronder ʼn omstrede verslag van die ouditeursfirma KPMG. Pillay sê ook die OB het bewyse geïgnoreer dat die nou afgedankte SAID-hoof, Tom Moyane, amptenare probeer dwing het om negatiewe getuienis oor hom te lewer.

Gene Ravele, die hoofbelastingbeampte in die tyd toe Pillay die SAID verlaat het, is glo deur Moyane onder druk geplaas en met skorsing gedreig om “een of ander verslag” te verskaf wat homself en Gordhan sou impliseer, voer Pillay aan.

Pillay sê dié plan was só deursigtig dat die destydse minister van staatsveiligheid, David Mahlobo, al in 2015 aan hom gesê het dat hy weet die bewerings oor ʼn geheime eenheid is ongegrond en dat Moyane ʼn korttermyn persoonlike agenda najaag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gert van Wierdapark ·

Die OB het klaarblyklik nie toegelaat dat feite in die pad van ‘n “Goeie Verslag” staan nie!!! He-he-he.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.