Pinetown-ongeluk: Trokeienaar se lot bekend

Beeldmateriaal van die Pinetown-ongeluk.

Gregory Govender, die eienaar van die vragmotor wat in 2013 in Field’s Hillweg, Durban, die dood van 24 mense veroorsaak het, het Maandag skuld op vier aanklagte teen hom erken en ʼn pleitooreenkoms met die staat aangegaan.

Govender sal na alle waarskynlikheid nie tronkstraf vir die oortredings uitdien nie aangesien hy die opsie het om ʼn boete van R25 000 te betaal volgens sy ooreenkoms met die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG).

ʼn Vragmotor van Govender se maatskappy, Sagekal Logistics, het in September 2013 teen Field’s Hill (M13) afgery gekom en in vier taxi’s en twee motors ingeploeg nadat die remme onklaar geraak het. Die vragmotor is deur Sanele Goodness May, ʼn onervare bestuurder en onwettige immigrant van Swaziland, bestuur. Kort ná die tragiese voorval is 24 groot wit kruise by die ongelukstoneel opgerig.

Sanele Goodness May in die hof (2013).

May het skuld op 31 aanklagte teen hom erken en is in November 2014 tot tien jaar tronkstraf gevonnis. Die aanklagte teen hom sluit 24 aanklagte van strafbare manslag in, asook aanklagte van besit van ʼn vervalste bestuurslisensie, bedrog, onwettige ingang na Suid-Afrika en versuim om ʼn verkeersteken te gehoorsaam.

Govender, wie se vervoermaatskappy sedertdien gelikwideer is, het deurentyd volgehou hy is onskuldig. Die NVG het egter Maandag aangekondig hy het ingestem om ʼn pleitooreenkoms met die staat aan te gaan.

Volgens die NVG het Govender skuld erken op twee aanklagte van oortreding van die nasionale verkeerswet rakende die padwaardigheid van sy vragmotor, oortreding van die wet in terme van die pligte van die operateur en oortreding van die Wet op Immigrasie, aangesien ʼn onwettige immigrant in sy diens was.

Natasha Ramkisson-Kara, woordvoerder van die NVG, het gesê hy is vir die eerste twee aanklagte tot 12 maande tronkstraf of ʼn boete van R10 000 gevonnis, vir die derde aanklag tot 12 maande tronkstraf of ʼn boete van R10 000 en vir die vierde aanklag tot ses maande tronkstraf of ʼn boete van R5 000.

Lees alle vorige berigte oor die Pinetown-ongeluk op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Anoniem ·

M.a.w die bestuurder van die trok moet instaan van die nalatigheid van die eienaar! Dis skandelik!

GR ·

Hierdie sogenaamde pleit ooreenkmoste is ‘n absolute euwel,hy het geweet die persoon is nie bevoeg nie maar dit was nou weer goedkoop arbeid en nou moet die bestuurder die prys betaal en hy loop bykans skotvry,en nou kwansuis bankrot. Haha

Scalla ·

Anoniem, beide partye is skuldig, die bestuurder moes by sy vooraf inspeksie volgens K53 die foute uitgewys het en geweier het om die vragmotor te bestuur alvorens gebreke reg gestel is.

Anoniem ·

Scalla, dit weet ek. Die punt is, die eienaar stap met ‘n raps op die vingers weg en die bestuurder moet man staan en tronk toe gaan. Die eienaar hoort ook in die tronk.

Anoniem 2 ·

Dit voel nie ook nie vir my regverdig nie. Die lewens van die 24 mense is dus R25 000 werd. Hy kan maar gerus die boetes betaal EN in die tronk gaan sit.

tamboti ·

Die straf is so belaglik lig teenoor die onreg wat gepleeg is dat eintlik ‘n belediging en skande vir die oorledenes en hul naasbestaandes is! Dit som egter die vlak van reg en geregtigheid in NSA op:
Wetsgehoorsame en onskuldige slagoffers vs. winsgewende en belowende misdaad, en die staat as ‘n korrupte skeidregter wat voordeel net aan l.g. party toelaat – die regstelsel is net ‘n koelkas.

Saartjie ·

Hmm, ja, ek verstaan die idioom, maar ek weet nie of ‘n mens ‘n R25,000-boete as iemand se ‘lot’ kan beskryf nie. Lag-lag uit sy gatsak betaal en die bankrotmaatskappy is vir seker so bewerkstellig om te sorg dat geen siviele eise teen hom ingestel kan word nie. Ek sal graag wil weet watter bates op sy vrou, kinders, skoonma, nefies, ens. se name oorgeplaas is – en wanneer! Gregory Govender is ‘n massamoordenaar wat uit gierigheid direk bygedra het tot die die dood van 24 onskuldige mense … onskuldige broodwinners donkeraand op pad huis toe. opgetree. Watter omstandighede het toegelaat dat hy hoegenaamd ‘n pleitooreenkoms aangebied is? The law is indeed an ass!

Henry ·

Nee, hierdie is die perfekte voorbeeld van hoe iemand INDIREK bydra tot mense se dood.

Lee ·

Dis baie onregverdig dat die arme bestuurder moet tronkstraf uitdien nadat die eienaar geweet het sy trok is nie reg nie. Die arme ou. Ek het hom daaityd so jammer gekry. Govender moet eerder trunk toe want hy het nog gelieg ook. Karma sal hom wel eendag kry!!

Ken ·

Stem saam Anoniem 2. Wat ‘n skande, en die rede dat ek geen geloof het in ons regstelsel nie…. R25000 vir die dood van 24 mense…… Daai eienaar betaal dit met ‘n smile…. En dan is dit net “business as usual” van daar af. Hierdie trokeienaars kom letterlik weg met moord. Hoeveel dood en beserings het trokke nie nou al in SA veroorsaak nie. Dis wat ek haat van die land, GEEN nagevolge hoegenaamd nie.

Nettie ·

Nee, aarde, R25 000.00 of ‘n paar maande se tronkstraf vir VIER-EN-TWINTIG mense se dood??? Is dit nou enigsins gepas of genoeg? Die (arme?) drywer sit vir 10 jaar in die tronk net omdat hy brood en botter op die tafel wou sit deur ‘n trok te bestuur op instruksie van sy werkgewer, maar die eienaar (in my opinie, die eintlike verantwoordelike een) kom so-te-sê skotvry daarvan af? Ja, ek weet die drywer was onwettig in SA, ek weet hy het nie die nodige ervaring of lisensie gehad om die voertuig te bestuur nie en ek weet hy het verkeersreëls en padtekens verontagsaam, maar ek sê die eienaar van die trok moes dieselfde straf gekry het, want HY het May agter die stuur van die trok geplaas. As ek kyk na hoe sekere misdade met sekere hoeveelheid tronkstraf of boetes gestraf word en hoe finansiële vermoëns oortreders kan vrykoop, begin ek in ‘n mate saamstem met sekere mense wat teen die terugbring van doodstraf is. Met ons justisie, hoe regverdig sekere regters ookal in hul uitsprake mag wees, wil ons regtig ons lewens in die hande van mense wat onvoldoende strawwe soos dié regter hier, laat? “I don’t think so …..”

Nadia ·

Ek stem saam jou. Die eienaar weet die bestuurder moet kos op die tafel sit. As dit nie die een was nie sou dit ‘n ander een gewees het, met of sonder geldige paspoort en lisensie. Hul weet iemand in hierdie bestuurder se skoene sal die werk vir baie minder doen want hy is despiraat. As die bestuur die foute uitwys aan die voertuig is hy dood eenvoudig sonder ‘n werk…. Die eienaar is in my oë op die einde van die dag meer verantwoordelik hier en behoort ten minste ook 10 jaar in die tronk te gaan sit. Sy geldgierigheid het nie net 24 lewens gekos nie maar die bestuurder se lewe ook onherroeplik benadeel (hy het van dag een af baie berou en voel persoonlike verantwoordelik en my hart gaan uit na hom).

tamboti ·

Nee Nettie en Nadia, ek is ook “arme” werker en pa wat kos op die tafel sit, en ek doen dit binne die wet, verantwoordelik en jaag nie soos besetene deur ‘n interseksie nie!

m ·

n Lewe het baie goedkoop geword in hierdie land. Dink net hoe voel daai 24 mense se gesinne…. Sjoe nee kyk mens het nie woorde nie.

Ruby ·

Ons was in dieselfde bootjie…..

Die drywer het ‘n vals rybewys ingehandig, nie eers die polisie kon die verskil aanvanklik agterkom.

Hy het blatant onverskillig bestuur, oor ‘n rooi verkeerslig. Gelukkig is niemand dood….maar ons het enorme skade gely.

As werkgewers moet ons toesien dat die persoon ‘n rybewys het en dat ons voertuie gereeld nagesien word.

Die bestuurder KAN nie met ‘n vervalste rybewys en onverskillig bestuur nie! Hy het presies geweet hy bedrieg ons, dieselfde soos die kalant hierbo.

Jone ·

Die bestuurder van die trok het op ‘n oneerlike en onwettige manier ons land binne gekom. Daarna het hy op ‘n onwettige en oneerlike manier werk bekom deur vervalste bestuurderslisensie te toon. Hy het geweet dat hy nie die werk kan doen nie en tog aansoek gedoen daarvoor. So dis 100% reg dat hy gestraf word vir sy oneerlikheid. Hy sal volende keer twee keer dink voor hy weer lieg en bedrieg.

Cherokee ·

Heeltemal reg Jone. Die mense hierbo wat almal die bestuurder wil verdedig besef klaarblyklik nie dat hy ‘n vervalste lisensie gebruik het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.