Pinetown-ongeluk: Trokeienaar se lot bekend

Beeldmateriaal van die Pinetown-ongeluk.

Gregory Govender, die eienaar van die vragmotor wat in 2013 in Field’s Hillweg, Durban, die dood van 24 mense veroorsaak het, het Maandag skuld op vier aanklagte teen hom erken en ʼn pleitooreenkoms met die staat aangegaan.

Govender sal na alle waarskynlikheid nie tronkstraf vir die oortredings uitdien nie aangesien hy die opsie het om ʼn boete van R25 000 te betaal volgens sy ooreenkoms met die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG).

ʼn Vragmotor van Govender se maatskappy, Sagekal Logistics, het in September 2013 teen Field’s Hill (M13) afgery gekom en in vier taxi’s en twee motors ingeploeg nadat die remme onklaar geraak het. Die vragmotor is deur Sanele Goodness May, ʼn onervare bestuurder en onwettige immigrant van Swaziland, bestuur. Kort ná die tragiese voorval is 24 groot wit kruise by die ongelukstoneel opgerig.

Sanele Goodness May in die hof (2013).

May het skuld op 31 aanklagte teen hom erken en is in November 2014 tot tien jaar tronkstraf gevonnis. Die aanklagte teen hom sluit 24 aanklagte van strafbare manslag in, asook aanklagte van besit van ʼn vervalste bestuurslisensie, bedrog, onwettige ingang na Suid-Afrika en versuim om ʼn verkeersteken te gehoorsaam.

Govender, wie se vervoermaatskappy sedertdien gelikwideer is, het deurentyd volgehou hy is onskuldig. Die NVG het egter Maandag aangekondig hy het ingestem om ʼn pleitooreenkoms met die staat aan te gaan.

Volgens die NVG het Govender skuld erken op twee aanklagte van oortreding van die nasionale verkeerswet rakende die padwaardigheid van sy vragmotor, oortreding van die wet in terme van die pligte van die operateur en oortreding van die Wet op Immigrasie, aangesien ʼn onwettige immigrant in sy diens was.

Natasha Ramkisson-Kara, woordvoerder van die NVG, het gesê hy is vir die eerste twee aanklagte tot 12 maande tronkstraf of ʼn boete van R10 000 gevonnis, vir die derde aanklag tot 12 maande tronkstraf of ʼn boete van R10 000 en vir die vierde aanklag tot ses maande tronkstraf of ʼn boete van R5 000.

Lees alle vorige berigte oor die Pinetown-ongeluk op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

18 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anoniem

M.a.w die bestuurder van die trok moet instaan van die nalatigheid van die eienaar! Dis skandelik!

Anoniem 2

Dit voel nie ook nie vir my regverdig nie. Die lewens van die 24 mense is dus R25 000 werd. Hy kan maar gerus die boetes betaal EN in die tronk gaan sit.

Saartjie

Hmm, ja, ek verstaan die idioom, maar ek weet nie of ‘n mens ‘n R25,000-boete as iemand se ‘lot’ kan beskryf nie. Lag-lag uit sy gatsak betaal en die bankrotmaatskappy is vir seker so bewerkstellig om te sorg dat geen siviele eise teen hom ingestel kan word nie. Ek sal graag wil weet watter bates op sy vrou, kinders, skoonma, nefies, ens. se name oorgeplaas is – en wanneer! Gregory Govender is ‘n massamoordenaar wat uit gierigheid direk bygedra het tot die die dood van 24 onskuldige mense … onskuldige broodwinners donkeraand op pad huis toe. opgetree. Watter omstandighede het… Lees meer »

Lee

Dis baie onregverdig dat die arme bestuurder moet tronkstraf uitdien nadat die eienaar geweet het sy trok is nie reg nie. Die arme ou. Ek het hom daaityd so jammer gekry. Govender moet eerder trunk toe want hy het nog gelieg ook. Karma sal hom wel eendag kry!!

Ken

Stem saam Anoniem 2. Wat ‘n skande, en die rede dat ek geen geloof het in ons regstelsel nie…. R25000 vir die dood van 24 mense…… Daai eienaar betaal dit met ‘n smile…. En dan is dit net “business as usual” van daar af. Hierdie trokeienaars kom letterlik weg met moord. Hoeveel dood en beserings het trokke nie nou al in SA veroorsaak nie. Dis wat ek haat van die land, GEEN nagevolge hoegenaamd nie.