Pionierskool-biblioteke in die knyp

Die Pionierskool vir siggestremdes op Worcester sal binnekort die deure van sy braillemusiek- en algemene biblioteke moet sluit indien hulle nie genoegsame geld bymekaar kan skraap om dié instansies se oorhoofse koste te dek nie.

Volgens Elizma Berlyn, kommunikasiebeampte van dié skool, het die Instituut vir Blindes tot einde verlede jaar die koste van die biblioteke gedra. “Die instituut dra egter ook swaar aan sy eie finansiële laste en kan ongelukkig nie meer die koste borg wat die biblioteke benodig nie,” het sy gesê.

Luidens ʼn persverklaring wat deur die skoolhoof, PA Greyling, uitgereik is, is die biblioteke reeds in die laat 1890’s tot stand gebring met die uitsluitlike doel om leesstof aan blindes te verskaf. Die Instituut vir Blindes het volgens hom self hierdie algemene biblioteek begin deur ʼn handpers en tikmasjien aan te skaf.

“Braillemusiekstukke, ingevoer van onder meer Brittanje, is hier versamel sodat dit tot die beskikking van alle musiekleerders kon wees. Die druk van braillemusiekstukke het eers ongeveer 50 jaar later in Suid-Afrika plaasgevind,” lui die persverklaring.

“Die braillemusiekbiblioteek is ʼn nasionale vakbiblioteek wat spesialiseer in musiek en dit is geregistreer as die Suid-Afrikaanse Nasionale Braillemusiekbiblioteek. Dit is die enigste braillemusiekbiblioteek in die Suidelike Halfrond en bedien gebruikers oor die hele Afrikakontinent.”

Die biblioteke is van die begin af onlosmaaklik verbonde aan die skool en instituut. “Reeds tóé het die instituut en skool besef hoe belangrik dit vir die blindes is om genoeg leesstof in braille te hê, na verhale op band te kon luister en dies meer. Daarom het hulle mettertyd ʼn braillepers aangeskaf, ʼn ateljee geskep vir die lees van boeke en oor die jare opgegradeer tot waar ons vandag saamstaan om so in die behoeftes van die blinde te voorsien.”

Volgens Schalk Hugo, uitvoerende hoof van die Pionierdrukkery, het hy by die departement van kuns en kultuur in die Wes-Kaap aangeklop om hulp met finansiering te vra. “Ons het geensins ʼn aanduiding van hoe lank ons nog op terugvoer gaan wag nie. Dit is ʼn tydsame proses en ek volg dit gedurig op. Die departement het intussen laat weet dat hulle die voorlegging ontvang het en dit is nou by die spesifieke afdeling wat die aansoeke assesseer.”

Hugo het gesê die terugvoer tot dusver lyk positief. “Mens moet egter in gedagte hou dat dit wat jy aanvra nie noodwendig is wat jy gaan kry nie. Die departement het my uit die staanspoor daaroor gewaarsku. Ek het finansiering aangevra spesifiek vir die Pionierdrukkery vir die braillemusiekproduksieafdeling.

“Dit is die enigste drukkery wat braillemusiek vir blindes in Afrika vervaardig. Daar is ongeveer ses mense wat in dié afdeling werk en salarisse moet ontvang. Ons sal tevrede wees indien ons net die helfte by die departement kan kry, want ek kan altyd op nog plekke vir ondersteuning gaan vra.”

Volgens Hugo is die werkloosheidsyfer onder blindes reeds enorm en sal die sluiting van dié biblioteke ʼn geweldige uitwerking op die blinde gemeenskap hê. “Mense kan redeneer en sê ja, maar nie alle blindes kan musikante word nie, maar die sluiting van die drukkery en die biblioteke en die staking van braillemusiek behels tog ʼn reg wat blindes ontneem word.”

Dit verg ʼn span van drie mense, twee siende en een blind, om slegs ʼn enkele bladsy braillemusiek te skryf. “Die braillemusiekskrywer is ʼn siende persoon. Daardie persoon moet ʼn musiekkenner wees en ten minste oor ʼn Unisa-musiekkwalifikasie beskik. Die proefleesspan bestaan dan uit ʼn blinde en siende persoon wat saam seker maak die ‘siende en blinde tekste’ stem ooreen met mekaar.

“Alles word twee keer geproeflees waarna die brailleskrywer die foute regstel, en dan word dit weer geproeflees. Dit werk dieselfde met ons vraestelle en handboeke, maar die braillemusiek is baie gespesialiseerd.”

Luidens Greyling se persverklaring is daar net in Worcester ongeveer 370 swaksiende, blinde en multigestremde lesers afhanklik van die biblioteekdiens.

“Om die huidige biblioteke te verskuif na ʼn ander perseel is nie wenslik of prakties nie. Die biblioteke is tans toeganklik en veilig vir die blinde persoon; dit is op die perseel van die skool, en binne loopafstand, wat die blinde reeds ken, van die tehuise en middedorp.

“Hier by ons is die dienste gratis, en die grootste verskeidenheid Afrikaanse leesstof is slegs hier bekombaar wat nie te kry is by ander braillediensorganisasies soos Grahamstad nie. Die inwoners by die instituut is ook nie finansieel onafhanklik nie, en die meeste maak gebruik van ongeskiktheidstoelae.

“Hulle het dus nie die geld om gebruik te maak van moderne tegnologie soos rekenaars en die internet nie en is absoluut afhanklik van die biblioteek vir hul leesstof soos brailleboeke, grootdrukboeke, kasette en CD’s.”

Indien daar nie ingegryp word nie, sal die deure van die biblioteke in Julie vanjaar sluit. “Die braillebiblioteek benodig ongeveer R520 000 om met sy dienste voort te gaan tot 2019 en die biblioteek benodig bykans R290 000.”

Die staking van die biblioteke sal daartoe lei dat swaksiendes en blindes van oor Afrika ontneem word van boeke, stories en die moontlikheid om in ʼn musiekrigting te studeer.

“Sonder ondersteuning sal die Pionierskool vir gesiggestremdes radikale maatreëls moet instel om nog ʼn verlies in die huidige finansiële jaar te voorkom. Dit is vir ons belangrik om ʼn pad saam met ons borge te stap, daarom is bydraes meer as net finansieel – dit word ʼn vennootskap vir die ontwikkeling en bemagtiging van ons leerders tot voordeel van die breër gemeenskap.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Hannelize ·

Neem asb. kennis dat ons praat van siggestremdes en nie “gesiggestremdes” soos in u artikel nie. Hierdie mense is blind of swaksiende, hulle sig is gestrem, nie hulle gesigte nie.

Sune van Heerden ·

Dagsê Hannelize

Dankie vir jou boodskap. Let asseblief daarop dat “gesiggestremdes” en “siggestremdes” albei in Afrikaans aanvaar word en die HAT en WAT dui dit aan as sinonieme. Die betrokke skool staan amptelik as die “Pionierskool vir Gesiggestremdes” bekend, en ons het dus in hierdie artikel spesifiek hulle voorkeurterm gebruik.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Nettie ·

Maroela Media, die HAT/WAT kan wát sê – as inwoner van Worcester weet ek dat die Pionierskool vir Siggestremdes die korrekte naam is. Mense wat siggestrem is, sien sak of geheel en al glad nie – daar is NIKS verkeerd met hul GEsigte nie! Hulle SIG is aangetas. Dit is omdat ons praat van GEHOORgestremdes dat SIGgestremdes sommer nou GESIGgestremdes geraak het.

Andries Visagie ·

Die wonderlike regerende party, ja, die hopelose Ei En Sie, het mos geen begrip vir enige skole of instansies vir mense met spesiale behoeftes nie. Die geld gaan mos oral, behalwe waar dit werklik nodig is. Dis belangriker om paleise te bou, duur motors te koop en groot partytjies te hou. “This is Africa”
Dit sal gaaf wees as ‘n paar groot besighede betrokke kan raak?

Suna Verhoef ·

Hi, Sune. Baie dankie vir die wonderlike artikel. Ons is baie dankbaar vir die blootstelling. Hannelize is egter reg. Ons verkies siggestremd. Ek is nie seker of ons dalk ‘n ou briefhoof aan julle verskaf het, of dalk is dit self foutiewelik nog op ‘n webbladsy aangedui – dan is die fout aan ons kant, maar ons verkies beslis Siggestremd. Dis ook ons nuutste benaming, die Pionierskool vir Siggestremdes. Dit doen egter niks afbreuk aan die res van die inhoud en die belang daarvan nie. Ons is baie bekommerd. Baie, baie dankie vir die blootstelling wat julle aan ons verskaf. Suna Verhoef, onderwyser aan Pionierskool.

Sune van Heerden ·

Dagsê Suna

Ons wysig dan die berig soos jy versoek.
Groetnis
Suné
nms Maroela Media

marous ·

Stuur versoek na die buiteland vir fondse of leesstof. Hierdie regering gaan niks doen nie.

sandra ·

Wat van die lottogeld wat so vryelik geskenk word? Pionierskool sal sekerlik vir ‘n skenking kwalifiseer. Hierdie is tog ‘n diens wat almal by baat vind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.