Pippie en ma as bakens van hoop vereer

Anice en Pippie by Rene Roux van Helpende Hand met die oorhandiging van die toekenning. (Foto: Verskaf)

Solidariteit Helpende Hand het Maandag vir Anice Barnard Kruger en haar dogter, die 11-jarige brandslagoffer Pippie, as hoopdraers vir die samelewing vereer.

René Roux, Helpende Hand se adjunkhoof van kommunikasie, het tydens ʼn spesiale geleentheid in Sandton, Gauteng, die ma en dogter vereer en by die Helpende Hand-familie verwelkom.

“Helpende Hand bou nie ʼn onderneming nie; ons bou ʼn familie. Dit is vir Helpende Hand belangrik om na die holistiese welstand van die mens om te sien. Pippie en haar ma is vir ons ʼn toonbeeld van emosionele en geestelike krag en ʼn baken van hoop. Daarom is ons vandag hier om hulle te vereer,” het sy gesê.

“Pippie en Anice het die afgelope tien jaar diep spore in die harte van mense oor die wêreld getrap. Pippie, toe maar net twee jaar oud, het 80% brandwonde oor haar lyfie opgedoen toe sy op Oujaarsaand 2011 met vuuraansteekjel gebrand het.

Pippie en haar ma Anice luister saam na ‘n boodskap van Bobby van Jaarsveld. (Foto: Verskaf)

“Ek onthou nog die berigte en foto’s van Pippie waar sy met blou ogies en met baie eina na haar mamma staar. Ek het saam met haar ouers, familie en die wêreld vir Pippie vir ʼn wonderwerk gebid en dit het gebeur – sy het oorleef. Ek onthou ook hoe die bekende sanger, Bobbie van Jaarsveld, haar ‘boyfriend’, haar gereeld besoek het en altyd vir ʼn groot glimlag op haar gesiggie gesorg het.

“Vandag getuig haar sonskynglimlag dat daar lig aan die einde van ʼn donker tonnel is, al is alles nie altyd maanskyn en rose nie. Deur al die beproewinge was ma Anice altyd aan haar dogter se sy. Niks kan haar onderkry nie. Anice is alles waarvoor die FroueVonds staan – om vroue te bemoedig en rolmodelle, kampvegters en hoopdraers in hul gemeenskap te wees.”

Volgens Roux is dit vir Helpende Hand ʼn groot voorreg om aan Anice ʼn eretoekenning vanuit die FroueVonds te kan oorhandig. Die FroueVonds (met opset verkeerd gespel om te beklemtoon dat alles nie altyd reg verloop nie) is in 2019 binne Helpende Hand gestig en het sedertdien ʼn handjie vol toekennings aan sterk vroue oorhandig wat pilare van hoop in hul gemeenskap is.

“Helpende Hand vereer Anice as ʼn sterk vrou en ma wat in haar gemeenskap uitstaan. Sy maak groot opofferings en werp alles in die stryd om Pippie se beste belange eerste te stel. Sy is ʼn kampvegter vir kinders met spesiale behoeftes. Anice kry vandag ʼn eretoekenning omdat sy een van die sterkste ma’s is wat ons ken; ʼn ma wat opstaan en nie net bly lê het nie. Sy is die perfekte persoon om die eerste Kaalvoetvrou-toekenning te ontvang. Die toekenning word vernoem na Susanna Smit wat vroue tydens die Groot Trek geïnspireer het om kaalvoet oor die Drakensberge te trek.”

Pippie Kruger het die afgelope tien jaar diep spore in die harte van mense oor die wêreld getrap. (Foto: Verskaf)

Helpende Hand het terselfdertyd vir Pippie as ere-ondersteuner van Helpende Hand verwelkom. “Pippie is ʼn sterk meisie wat aanhou veg en in die afgelope tien jaar al soveel hoop aan Suid-Afrikaner-harte gebring het. Sy is ʼn toonbeeld dat geloof alles oorwin.”

Roux het gesê Helpende Hand glo dat bejaardes, mense met gestremdhede en kinders met spesiale behoeftes hul eie sterkpunte en gawes het wat hulle met die samelewing kan deel.

“Hulle het hul eie Godgegewe talente wat, saam met Helpende Hand se fokus op maatskaplik gebaseerde gemeenskapsontwikkeling, werklik ʼn verskil kan maak. Hulle kan ook ʼn pilaar van hoop in hul gemeenskap wees. Om dié rede het ons onlangs ons netwerk van ere-ondersteuners gestig. Hulle is mense van 90 jaar en ouer en diegene wie se gestremdhede veroorsaak dat hulle nie ʼn inkomste kan verdien nie. Hierdie lede kan gratis by Helpende Hand aansluit, hande vat en saam met ons geestelike, sosio-emosionele, fisieke en kulturele armoede beveg,” het Roux gesê.

Anice het by hierdie geleentheid gesê dat sy die afgelope tien jaar geleer het om eenhonderd persent op God te vertrou en dat haar geloof nog nooit so sterk was nie. Sy het veral ook geleer om haar instink te vertrou en te volg.

Haar boodskap aan mense wat deur ʼn beproewing gaan, is om nooit moed op te gee nie. “Vertrou op God en moenie bang wees om hulp te aanvaar nie. Daar is baie mense wat sal help, mense wat regtig wíl help.”

Anice het intussen ook haar eie onderneming, Fiefelstieks, op die been gebring waar sy skattige, sagte speelgoed maak om só die pot aan die kook te hou en terselfdertyd vir glimlaggies op kindergesiggies te sorg as hulle daarmee speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Regverdigheid ·

Tyd het geloop sys n pragtige dogter mag die pad voorentoe net mooi dinge vir haar inhou . lief jou pop

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.