Pippie se ma ‘kan nou saam met haar droom’

pippie-kruger-2017-12-01-01

Pippie Kruger (8) en haar ma, Anice, het in onlangs in Maroela Media se ateljee se kom kuier en sy is bederf met ‘n Nataniël-teddiebeer en leesboek van Helpende Hand. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

“Van verlede jaar hierdie tyd tot nou is daar só ʼn groot verskil. Pippie het soveel meer energie, sy probeer elke liewe dingetjie doen en met soveel oorgawe. Dit klink dalk nie na veel nie, maar sy kan al meer as honderd woorde praat, sy kruip ampertjies alleen en sy kan vir ʼn minuut op haar eie sit.”

Só het Anice Kruger, Pippie se ma, gesê oor die vordering van dié geliefde brandslagoffertjie wat behandeling by die Family Hope Center (FHC) kry.

Maroela Media het in Januarie vanjaar ʼn opvolgberig oor Pippie (8) se toestand gedoen, waarna een van die lesers Anice aangemoedig het om by dié sentrum in Pennsilvanië, VSA, aan te klop vir nog hulp. Anice sê sy het hier geleer om Pippie holisties te behandel.

“Ná die drie dae se opleiding het ek daar uitgestap en gevoel soos ʼn neuroloog, dieetkundige, spraak-, arbeids- en fisioterapeut alles in een. Ek het vir die eerste keer gevoel of ek regtig hoop vir Pippie se brein het,” sê Anice.

Pippie volg ʼn streng ketoniese dieet wat geen suiker of gluten bevat nie terwyl sy ook behandeling in ʼn hiperbariese kamer kry waar sy suiwer suurstof inasem.

Pippie, toe twee jaar oud, het op Oujaarsaand in 2011 derdegraadse brandwonde aan 80% van haar lyfie opgedoen toe ʼn bottel vuuraanstekerjel tydens ʼn familiebraai ontplof het.

Sy het wonderbaarlik haar kritieke beserings oorleef en Suid-Afrikaners hou sedertdien saam die moedige klein vegtertjie se herstel dop.

Pippie moes sedert die ongeluk intensiewe rehabilitasie ondergaan vanweë breinskade van vyf hartstilstande en beroertes. Sy het in Junie 2012 baanbrekerschirurgie in ʼn Johannesburgse hospitaal ondergaan waartydens haar eie gekloonde vel, wat in ʼn laboratorium in Boston gekweek is, op haar wonde oorgeplant is.

Anice sê die FHC-program hou hulle op ʼn goeie dag maklik tussen vyf en ses uur besig. Dit is vir haar wonderlik om te sien hoe Pippie ook nou ʼn band met haar boetie kan opbou omdat hulle saam aan die takies in die program kan werk.

“Ek verstaan nou net beter hoe om my eie kind te benader. Ek kan makliker sien in watter bui sy is en as sy nie vandag aan ʼn sekere deel van haar program wil werk nie, kan ons dit met iets anders vervang en weer later daardie afdeling probeer.

“Pippie is so oop vir alles. Sy is die een wat my lei deur die program en so bou ons ʼn hegter band.

“Noudat sy sien sy kan goedjies op haar eie regkry probeer sy selfs ʼn bietjie spog en dit maak dat sy harder aan die program werk. Ek kom soms op haar in die kamer of sitkamer af waar sy sommer ʼn string groot woorde agtermekaar opsê – dit is so asof sy skelm op haar eie oefen,” vertel Anice trots.

pippie-sanmari-anice-emj-2017-12-01-02

Sanmari Smith, Anice Kruger en Esté Meyer Jansen saam met Pippie Kruger. Die brawe mammas het kom vertel watter waarde hulle uit die FHC-program en die Brain Child Fund-familie put. Foto: Marius Vermaak/Maroela Media.

Anice sê die ondersteuning wat sy by die FHC, en die mense van die Brain Child Fund wat die program aan Suid-Afrikaners bekendgestel het, kry, is vir haar van onskatbare waarde.

“Elke ouer met ʼn spesialesorg kind weet daar is ander ouers soos hulle daar buite, maar jy voel dit is jou eie oorlog wat jy alleen moet veg. Vandat ek die konferensie bygewoon het voel dit net vir my of ons ouers mekaar se stryd beter verstaan. Hulle dra my elke dag en skielik is ek nie meer so alleen nie.”

Anice sê dit was wonderlik vir haar dat kinders gehelp word sonder om spesifieke etikette op hulle te plaas. “My kind is in my oë ʼn spesialesorg superheld en hoef nie nog onder iets geklassifiseer te word nie. Dit is net vir my wonderlik om te weet jy kan jou kind se brein genees sonder enige bykomende etikette.”

Watter drome koester Anice vir Pippie? “Ná die ongeluk het ek besef ek kan nie meer my drome op Pippie afdwing nie. Ek kan nie meer vir haar droom nie, maar ek kan nog saam met haar droom en dit is nou vir groot goed soos dat sy eendag weer self kan loop, kruip, sit en praat. Ek sal so graag ook weer saam met haar in die bad wil sit en sommer lekker skinder – sulke goedjies.

“En ja, ek glo steeds sy gaan ʼn plastiese chirurg soos dr. Ridwan Mia word, en wie weet, dalk nog selfs ʼn supermodel.”

  • Die Family Hope Center bied van 9 tot 11 Februarie 2018 ʼn konferensie vir ouers en mediese spesialiste aan by die Farm Inn in Silver Lakes, Pretoria. Besoek die Brain Child Fund se Facebook-blad of Family Hope Center se webwerf vir meer inligting hieroor.
  • Anice en Pippie Kruger het saam met Sanmari Smith, nog ʼn ouer van ʼn spesialesorg tweeling, in Maroela Media se ateljee kom kuier en met Esté Meyer Jansen gesels oor die FHC se program, hul kinders se vordering en hul drome. Luister gerus ook na ʼn podsending van die gesprek bo-aan hierdie berig.
  • Lees alle vorige berigte oor Pippie op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Bokkie ·

Sy het die mooiste ogies! Wens haar en haar ouers sterkte toe vir die toekoms.

LB S ·

Bokkie, daardie einste twee blou oë het my aan die begin van hierdie saga baie keer trane in my oë gebring. So dapper ou dogtertjie en Ma. (Seker die Pa ook, al is hy bietjie in die agtergrond).
Het sy nog ‘n boetie of sussie?

Uvonka ·

In ‘n ander artikel word daar verwys na die mooiste kind in die wereld. Onse eie pragtige Pippie is die mooiste. Jy is pragtig Poplap! Dapper en sterk ook! Lief jou!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.