Pippie, vyf jaar later: ‘Ek sê elke dag dankie dat sy nóg myne is’

Pippie Kruger tydens onlangse seevakansie. Foto: Verskaf

Pippie Kruger tydens onlangse seevakansie. Foto: Verskaf

Op Oujaarsaand, vyf jaar gelede, het die Kruger-gesin van Lephalale (Ellisras) in Limpopo se lewe handomkeer verander. ʼn Bottel met vuuraansteekjel het tydens ʼn familiebraai in pa Erwin se hande ontplof. Die jel het op hom en sy dogtertjie, Isabelle, oftewel Pippie, geval en gebrand. Sy is kritiek beseer, maar het die nagmerrie wonderbaarlik oorleef en vandag is die gesin se geloof sterker as ooit.

Pippie was twee jaar oud toe die voorval in 2011 gebeur het. Sy het 80% derdegraadse brandwonde oor haar hele lyfie opgedoen. Sy het in Junie 2012 baanbrekerchirurgie in ʼn Johannesburgse hospitaal ontvang waartydens haar eie gekloonde vel, wat in ʼn laboratorium in Boston gekweek is, op haar wonde oorgeplant is. Nou staan almal verstom oor die merkwaardige vordering wat sy gemaak het en haar verhaal raak steeds talle mense se harte aan.

“Dit is vir ons ʼn groot blessing, dat sy ná vyf jaar nie regtig trauma oorgehou het nie. Sy lag en klets heeltyd en blaas net soentjies. Die dag as sy huil, dan weet jy iets is fout. Sy kry nie nagmerries nie. Sy huil wel nog as sy ’n ambulans se sirene hoor. Pippie is nie bang vir vuur nie; inteendeel, ek is die een wat haar daarvan moet weghou,” het ma Anice Barnard Kruger Maandag aan Maroela Media gesê.

Pippie word in Junie agt jaar oud, maar is nog nie skoolgereed nie. Sy is nog afhanklik van ʼn loopring as sy self wil loop, maar raak vinnig moeg. Sy kan ook nog nie vol sinne praat nie.

“Maar elke dag gaan dit bietjie beter; elke dag verras sy ons met iets nuuts. Sy vorder stadig maar seker.”

Anice sien voltyds na Pippie om en behartig meestal haar fisioterapie en opvoeding. “Hier is nie rêrig voldoende behandeling vir Pippie in Ellisras nie, so ek noem dit maar eerder mammaterapie. Sy raak lekker skelm, sy begin nou kruip. Dis meestal soos ʼn leporard crawl as niemand kyk nie, en sy sit self al is dit vir ʼn rukkie,” skerts Anice.

Volgens Anice is Dora the Explorer, ʼn kinderkarakter op televisie, vir Pippie soos ʼn onderwyseres. Sy kan al mooi onderskei tussen kleure en tel hoeveel soentjies sy blaas – tot by 10.

Pippie op Kersdag

Pippie op Kersdag

Haar boetie, Arno (6), is haar “bodyguard” en noudat hy al ouer is, kan hulle lekker saam met mekaar speel. “Sy put deesdae baie genot daaruit om hom te terg en sal enigiets doen om reaksie uit te lok. Sy noem hom Cheeky omdat hy lekker wintie is.”

Verder is Pippie lief daarvoor om laat te slaap en het steeds ʼn groot liefde vir perde, wat sy “Noenoes” noem. “O, en sy groei lekker vinnig en eet ons uit die huis uit. Sy het nie juis ʼn soettand nie; sy is ʼn regte boeremeisie en mal oor vleis, veral biltong. En sy is mal oor enige musiek van Bobby [van Jaarsveld]. Sy sê Bobby is hare en sy gaan eendag met hom trou.”

Aangesien die steenkoolmyndorpie nie die behoorlike rehabilitasiegeriewe het om aan Pippie se behoeftes te voldoen nie, gaan Anice-hulle haar in Februarie weer na die rehabilitasiesentrum in Aucklandpark, Johannesburg, neem vir nog ʼn paar sessies behandeling.

“Die belangrikste nou vir ons is spraak. Sy kan net sinnetjies van vier woorde maak. Sy wil graag praat, maar sy kry dit nie reg om haar behoorlik uit te druk nie.”

Anice sê die afgelope vyf jaar het sy geleer om eenhonderd persent op God te vertrou en haar geloof was nog nooit so sterk soos nou nie. Sy het veral ook geleer om haar instink te vertrou en te volg.

Haar boodskap aan mense wat deur ʼn beproewing gaan, is om nooit moed op te gee nie. “Vertrou op God en moenie bang wees om hulp te aanvaar nie. Daar is baie mense wat sal help, mense wat regtig wil help.”

Sy en Pippie word gereeld as spesiale gaste na geleenthede genooi om oor Pippie se wonderverhaal te praat. “Sy is mal oor die aandag. Ek self is nog nie ʼn professionele openbare spreker nie, maar haar storie moet vertel en gedeel word. Ek sê elke dag dankie dat sy nóg myne is.”

Lees die vorige berigte oor Pippie op Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Elisabeth ·

Ek is so bly om te lees van Pippi {Isabelle}se vordering. Genade van ons Vader is groot.

Genade ·

Pippie is al 8 jaar oud, sy is nog nie skoolgereed nie en sy praat slegs vier-woorde sinne. Sy is ook fisies geskend. Verder is professionele dienste nie geredelik beskikbaar nie. Ek voel werklik jammer vir haar.

Jaques ·

Ek is ongelooflik baie bly vir Pippie se vordering, dit wys werklik net hoe groot God se krag en genade is.

My blonde koppie was ‘n skamele 1 jaar oud toe Pippie se ongeluk gebeur het, en ek was in trane toe ek die storie lees, en sit sommer weer en sluk met moeite as ek sien hoe mooi sy groei en vorder.

Pippie, en Mamma en Pappe en Boetie, baie sterkte met jou verdere herstel, jy gaan nog groot hoogtes beryk met jou deursettings vermoe en vasberadenheid.

Baie liefde van ‘n Blonde Blou oog Dogtertjie Pappa

elize stroebel ·

hierdie ouma is so dankbaar dan jy wat anice daar is vir onse kleine pippie..JESUS doen wondere met die kleinmensie.

Jan maak n plan ·

Darem een sonstraal in n donker SA. Sterkte Pippie.

Johanna Botha ·

Bestaan die Pippie fonds nog wat gestig is om mense met brandwonde te help ?

Michelle ·

Dit bestaan seker nog… dis mos gestig om vir Pippie te help, sy gaan nog vele operasies en behandeling moet ontvang – ten minste tot op ‘n ouderdom van 18. Dis waarvoor ek geskenk het – dis waarvoor dit moet gaan.

broos ·

hierdie kleine mensietjie is my grootste inspirasie, met haar mamma kort op haar hakke. elke keer as die lewe ‘n bietjies te veel druk dan lees ek Pippie se boek en verstom my elke keer opnuut oor wat julle deur is. mag Onse Vader julle hele gesin styf in Sy Liefde toevou xx

Liza ·

Sy is regtige ‘n moedige ou dogtertjie, sterkte vorentoe poplappie…..

DPJ ·

Wat ‘n wonderwerk.
Laat ons saam die Here God dank en loof vir Sy werk wat Hy aan Pippie bewys het. Sonder Sy hulp so dit nie moontlik gewees het.
Dankie drie enige God wat U aan Pippie gedoen het.

Ronelle Vos Oosthuizen ·

Hierdie is dierbare mense. Anice is ‘n ma duisend en laat geen steen onaangeroer om dinge vir haar gesin beter te maak nie. Haar geduld en deursettingsvermoë is vir baie mense ‘n groot inspirasie. Ons salueer julle, Erwin en Anice.

zelda ·

Ons dien n merkwaardige GOD. AMEN AMEN loof sy wonderlike naam. AMEN

Celia ·

Wat n wonderlike verhaal van deursettingsvermoe en liefde van haar ouers! Daardie pragtige gelukkige lag van haar op die foto se alles! Baie sterkte vorentoe – jul is oor die wenstreep en n inspirasie vir ons almal. Aan God al die eer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.