Pistorius hoor dalk binne ure sy lot

Oscar Pistorius tydens die destydse verhoor. Die paroolraad hoor Vrydag sy aansoek aan. (Foto: John Wessels/AFP)

Oscar Pistorius sal waarskynlik vandag nog sy lot weet.

Pistorius (37) sal Vrydag vir ʼn tweede keer in minder as agt maande voor ʼn paroolraad by die Kgosi Mampuru- korrektiewe sentrum in Atteridgeville buite Pretoria verskyn waar hy tans aangehou word.

Vandag se paneel sal egter nie dieselfde paneel wees wat Pistorius se aanvanklike aansoek om parool in Maart aangehoor het nie en die lede sal nou opnuut moet besluit of Pistorius gerehabiliteer is of ʼn gevaar vir die samelewing inhou.

Die paneel sal ook die erns van Pistorius se oortreding en sy gedrag agter tralies in ag moet neem.

Pistorius is sedert 2016 in aanhouding nadat hy skuldig bevind is aan die moord op sy vriendin Reeva Steenkamp op Valentynsdag in 2013.

Tania Koen, regsverteenwoordiger van Reeva Steenkamp se ma, June Steenkamp, sê sy glo nie Pistorius se vrylating is hierdie keer gewaarborg of dat vandag se aansoek “net ʼn formaliteit” is nie.

“Ek vertrou ten volle dat die paroolraad hul gedagtes sal toepas op grond van die inligting wat voor hulle geplaas is.”

Rob Matthews (heel regs), June Steenkamp se woordvoerder, Vrydag buite die Atteridgeville-tronk in Pretoria. (Foto: Roberta Ciuccio/AFP)

June sal egter nie vandag Pistorius se aansoek om parool teenstaan nie ten spyte daarvan dat sy die aanvanklike aansoek in Maart teengestaan en aangedui het dat sy nie “sy storie glo nie”.

Koen het vroeër vandeesweek aan Maroela Media gesê June is in rou ná die onlangse dood van haar man, Barry Steenkamp, en sal nie vandag se paroolsitting bywoon nie. Haar slagofferimpakverslag sal wel namens haar vandag voorgelees word.

Pistorius se regspan hoop intussen dat die vertraging weens die fout met die berekening van die minimum aanhoudingstydperk vroeër vanjaar in ag geneem sal word en Pistorius parool toegestaan én onmiddellik vrygelaat sal word.

Dit neem egter normaalweg gewoonlik weke voordat ʼn gevangene wat parool toegestaan ​​word, effektief vrygelaat word.

Sou Pistorius vandag parool toegestaan word, sal sy vrylating ook sekere voorwaardes inhou.

Indien Pistorius parool geweier word, het hy die reg om die howe te nader vir hersiening.

Die ingang na die tronk in Atteridgeville waar Pistorius se aansoek om parool aangehoor gaan word. (Foto: Marco Longari/AFP)

Maroela Media het vroeër berig Dormehl het onlangs ʼn skrywe van die DKD ontvang waarin bevestig word dat ʼn nuwe proses van stapel gestuur is om Pistorius se paroolaansoek te oorweeg.

Dít nadat die Konstitusionele Hof in Oktober beslis het dat Pistorius reeds vroeër in aanmerking vir parool gekom het.

Pistorius het die land se hoogste hof genader nadat sy aanvanklike aansoek om parool einde Maart afgekeur is omdat hy glo nie die minimum tydperk van aanhouding uitgedien het nie.

Die DKD het aanvanklik aangedui dat Pistorius meer as die helfte van sy vonnis uitgedien het en vir parool in aanmerking kom. Toe wysig die departement dié weergawe en kondig aan dat hy in werklikheid eers in Augustus 2024 vir parool sal kwalifiseer.

Die verwarring het ontstaan nadat die appèlhof in 2017 Pistorius se aanvanklike vonnis van ses jaar vir moord tersyde gestel en met ʼn vonnis van 13 jaar en vyf maande vervang het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Jr ·

Regtag laat hierdie arme mens vry. June Steenkamp u vat dinge nou te ver. Hel man. Hy het betaal vir wat hy gedoen het.

Hennie Biebouw ·

Dis sal ‘n jammerlike dag wees in die geskiedenis van Suid-Afrika, as dié veroordeelde moordenaar vroeg vrygelaat word.
Hy kan reeds sy sterre dank dat hy so ‘n ligte vonnis gekry het.

SwartBees ·

Bre, sy kan nie meer geld uit die hele ding uit melk nie. Dis al waaroor dit vir hulle gegaan het, net om geld te maak.

MrMagic ·

Wat ‘n gemors is dit nie. Hy moes minstens 25 jaar tronkstraf gekry het en die volle tyd daar sit.

Wondermaarnet ·

My opinie is, hy het te lig daarvan afgekom, maar die reg moet sy gang nou maar gaan. Ek dink almal is al moeg van hierdie storie.

Kortbroek en plakkies ·

Ek dink dit is maklik vir ons wat eenkant sit om te oordeel, die hof het die oordeel toegespreek en die parool raad moet hul werk doen. Ek probeer myself in Reeva se ma se skoene sit, maar dis moeilik want ek het nog nooit so iets meegemaak nie, hoe sou ek reageer het, ek weet nie en kan haar nie oordeel nie.

Boeing ·

So bly van hierdie kommentators moet nie eendag oor my oordeel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.