‘Pistorius-swendelaar’ bly vir eers agter tralies

Argieffoto

Argieffoto

Die 33-jarige man wat glo probeer het om R250 000 omkoopgeld van Oscar Pistorius te eis vir sy “vryheid”, het Donderdag weer vlugtig in die gespesialiseerde kommersiële misdaadhof in Pretoria verskyn.

Die beskuldigde, Tshifhiwa Radzhadzhi, staan tereg op aanklagte van korrupsie en dat hy homself as ʼn beampte van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) voorgedoen het.

Jacaranda FM berig die staat het aansoek gedoen dat die saak tot 4 April uitgestel word vir verdere ondersoek nadat dit aan die lig gekom het dat Radzhadzhi glo skuldig bevind is op twee ander misdrywe, en moontlik met ʼn derde saak verbind kan word. Die landdros het die uitstel toegestaan. Radzhadzhi bly in aanhouding en sal na verwagting tydens sy volgende verskyning om borgtog aansoek doen.

Radzhadzhi het na bewering homself as ʼn beampte van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) voorgedoen en R250 000 omkoopgeld van Pistorius geëis om sy moordsaak “te vernietig” en vryheid te waarborg.

Hy is Vrydagmiddag naby die hooggeregshof in Pretoria deur die Valke in hegtenis geneem nadat hulle vir hom ʼn lokval gestel het.

Volgens brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, is die Valke Donderdagaand ingelig oor die “beampte”. Die verdagte het Pistorius glo genader en R250 000 geëis om die moordsaak teen hom te laat “vernietig”.

Die Valke het ʼn lokval gestel en die man is in hegtenis geneem nadat hy ʼn R40 000 “deposito” in ontvangs geneem het.

Die konstitusionele hof het vroeër vandeesmaand Pistorius se aansoek om verlof tot appèl teen sy skuldigbevinding afgekeur. Die konstitusionele hof was Pistorius se laaste poging om uit die tronk te bly nadat hy Reeva Steenkamp in 2013 doodgeskiet het. Pistorius verskyn op 18 April in die Pretoriase hooggeregshof om gevonnis te word op aanklag van moord.

Lees alle vorige berigte oor Oscar Pistorius op Maroela Media.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eddie 2 ·

Klink vir my soos een van die buitelandse skuim wat in ons land kom mors as ek na sy naam en van kyk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.