‘Pistorius-swendelaar’ weer in hof

oscar-pistorius

Oscar Pistorius op 21 Oktober 2014 in die Pretoriase hooggeregshof tydens vonnisverrigtinge Foto: Themba Hadebe/AP/Pool

Die 33-jarige man wat glo R250 000 omkoopgeld van Oscar Pistorius probeer eis het in ruil vir sy “vryheid”, sal na verwagting Donderdag weer in die gespesialiseerde kommersiële misdaadhof in Pretoria verskyn.

Die beskuldigde, Tshifhiwa Radzhadzhi, het Dinsdag tydens sy eerste hofverskyning regdeur die hofverrigtinge sy kop bedek, en gesê dat hy nierverwante kwale het en geen medikasie by hom het nie.

Radzhadzhi staan tereg op aanklag van korrupsie en ʼn moontlike aanklag van afpersing kan by sy klagstaat gevoeg word.

Aanklaer Willem van Zyl het versoek dat die saak uitgestel word omdat die polisie nog moet vasstel of Radzhadzhi uitstaande sake teen hom het alvorens hy vir borgtog kan aansoek doen.

Radzhadzhi het hom na bewering as ʼn beampte van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) voorgedoen en R250 000 omkoopgeld van Pistorius geëis om sy moordsaak “te vernietig” en vryheid te waarborg.

Hy is Vrydagmiddag naby die hooggeregshof in Pretoria deur die Valke in hegtenis geneem nadat hulle vir hom ʼn lokval gestel het.

Volgens brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, is die Valke Donderdagaand ingelig oor die “beampte”. Die verdagte het Pistorius glo genader en R250 000 geëis om die moordsaak teen hom te laat “vernietig”.

Die Valke het ʼn lokval gestel en die man is in hegtenis geneem nadat hy ʼn R40 000 “deposito” in ontvangs geneem het.

Annelise Burgess, woordvoerder van die Pistorius-familie, het bevestig dat Pistorius deur ʼn man genader is wat hom glo as ʼn NVG-beampte voorgedoen het. “Oscar het die Valke daarvan in kennis gestel, en die Valke het ʼn lokval opgestel,” het Burgess gesê. “Ons loof die Valke vir hul spoedige optrede en die manier waarop hulle die saak hanteer het.”

Die konstitusionele hof het vroeër vandeesmaand Pistorius se aansoek om verlof tot appèl teen sy skuldigbevinding afgekeur. Die konstitusionele hof was Pistorius se laaste poging om uit die tronk te bly nadat hy Reeva Steenkamp in 2013 doodgeskiet het. Pistorius verskyn op 18 April in die Pretoriase hooggeregshof om gevonnis te word op aanklag van moord.

Lees alle vorige berigte oor Oscar Pistorius op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

jaco ·

ongeag of dit swendelary was of nie, wonder ek of Oscar nog R250 000 oor het? ‘n Paar maande terug het sy uitgawe op regskoste reeds op R19 miljoen gestaan.

Martin ·

Nogal jammer as hy nie meer geld het nie. Hy moes gedink het wat hy doen toe hy baie geld gehad het.

hykie ·

Ja nee wat, hy moes van dag een alles aanvaar het, sy straf gevat het en sy R19 miljoen was nog in die bank en teen die tyd ‘n lekker klompie rente ook by gekry. Sjoe seker ook net oscar wat n lyn het na die valke ne!!!

humor ·

Wanneer gaan al hiedie siellose byt en verwyte tot n einde kom. Dit openbaar soveel van wie jy werklik is. Soos ek die GROOTBOEK verstaan is jy dan ewe skuldig as die man wie jy vertrap.

Martin ·

Humor, niemand vetrtrap niemand nie. Die GROOTBOEK kan nie aangehaal word soos dit ons pas nie. Die GROOTBOEK sê ook, jy mag nie doodslaan nie.

Anoniem ·

Belaglik, kinderagtig en irriterend verby. Jul 2 mansmense lyk my het nie werk nie, en sit heeldag en kommentaar lewer. ..

Yvonne ·

Ek is steeds stomgeslaan oor die bloeddorstigheid en wraaksug van die massas in hierdie pragtige sonskynland van ons! Maar wat dit by verre oortref is die absolute oningeligtheid van diesulkes! Ek skat dis makliker om op die leunstoel te sit en deur die winsjaende gewetenlose hoofstroommedia opgestook te word en te skreeu om wraak en bloed, as wat dit is om werklik onpartydig na hierdie saak te kyk en ‘n opinie te vorm wat deur ‘n skoot navorsing en insig getemper is. Niemand van ons kan rerig bekostig om klippe te gooi nie. Ek glo Oscar was werklik lief vir Reeva en dat hy haar beslis nie wou skiet nie. Dis nie iets waarmee ‘n mens maklik sal kan saamleef nie. Ek is maar net te dankbaar ek is nie Reeva se ma nie, en so ook…nie Oscar s’n nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.